STELLENBOSCH – La Rochelle-tennisfees. Hoërskool Bloemhof se tennisspelers het die afgelope naweek hul uitstekende vorm ten toon gestel. Hulle is as algehele wenners van die gesogte La Rochelle-tennisfees gekroon. Die span het ’n indrukwekkende oorwinning van 54–26 oor die gasheerskool, La Rochelle, behaal om die titel te verower.
Verskeie sterk tennisskole het aan die fees deelgeneem, waaronder Bloemhof, La Rochelle, Durbanville, Stellenberg, Hugenote en Hermanus. Die hoë standaard van spel het gesorg vir mededingende wedstryde dwarsdeur die naweek. Bloemhof het deurgaans hul klas gewys en uiteindelik bo-aan die punteleer geëindig.
’n Besonderse woord van gelukwensing gaan aan Jana Smith, Dalinda Nel, Mia Pecoraro en Jana Steyn. Hulle toewyding, vaardigheid en deursettingsvermoë het ’n belangrike rol in die span se sukses gespeel het. Hul prestasie weerspieël nie net individuele talent nie, maar ook die sterk spanwerk en voorbereidingswerk wat die grondslag van Bloemhof se tennisprogram vorm.
Die oorwinning is nog ’n bewys van die skool se trots op sportuitnemendheid en die vermoë van sy leerders om op ’n hoë vlak teen van die land se voorste tennisskole mee te ding. Bloemhof se tennisspelers kan met reg trots wees op hierdie besondere prestasie wat die skool se naam hoog hou!
Foto verskaf






