Worcester, Wes-Kaap – HTS Drostdy se o.19A-krieketspan het op indrukwekkende wyse geskiedenis gemaak. Die span het vir die eerste keer sedert die ontstaan van die Rain Schools SA20-toernooi tot die halfeindronde deurgedring.
Die span het op Vrydag, 30 Augustus, in die kwarteindronde teen die tradisieryke Paarl Gimnasium te staan gekom. Paarl Gimnasium het eerste gekolf en 143/7 aangeteken in hul toegelate 20 beurte. Drostdy se boulers het egter uitstekend gevaar. Jannes Krynauw het uitgeblink deur 3 paaltjies vir 28 lopies te neem.
In antwoord op die teiken het Drostdy met selfvertroue en vasberadenheid gekolf. Die span het die wenlopies in die 19de boulbeurt behaal en die wedstryd met vier paaltjies gewen. Die voorste bydraes met die kolf het van DJ Luck gekom met 38 lopies van 23 balle. Verder het M-Jay van Reenen met ’n blitsige 32 van 14 balle en Wynand Stofberg, wat onoorwonne op 27 geëindig het.
Hierdie oorwinning is besonder betekenisvol. Dit het nie net Drostdy se eerste plek in die Schools SA20-halfeindronde verseker nie, maar dit is ook die eerste keer in onlangse geskiedenis dat die skool vir Paarl Gimnasium op die krieketveld kon klop.
Die prestasie word verder beklemtoon deur die feit dat vyf lede van die span tans nog in graad 9 is. Dit hou ‘n groot belofte in vir die toekoms van Drostdy-krieket.
“Baie geluk aan elke speler, sowel as hul afrigter, mnr. Xander Pitchers, met hierdie merkwaardige mylpaal. HTS Drostdy is besonder trots op hierdie span wat met deursettingsvermoë, karakter en uitstekende spanwerk hul plek onder die beste skolekrieketspanne in die land verdien het.”
Foto verskaf




