BEDFORDVIEW – Eskom Expo Internasionale Wetenskapskou. Nathan Moolman, ’n leerder van Leeuwenhof Akademie, het uitstekend presteer. Hy het aan die 46ste Eskom Expo Internasionale Wetenskapskou deelgeneem.
Nathan is met die gesogte FFS Refiners-toekenning vereer en het ’n iPad as deel van sy prys ontvang. Daarbenewens het hy ook ’n bronsmedalje by die internasionale kompetisie verower.
Die FFS Refiners-toekenning word toegeken aan deelnemers wie se projekte uitstaande bydraes lewer op die gebied van wetenskap, ingenieurswese, tegnologie, energie en omgewingsvolhoubaarheid. Nathan se projek het gefokus op alternatiewe energiebronne, brandstofdoeltreffendheid en die bewaring van hulpbronne.
Nathan neem reeds die afgelope vier jaar aan die Eskom Expo deel en het deurgaans indrukwekkende resultate behaal. Sy volgehoue toewyding, harde werk en passie vir wetenskap het hom onderskei as ’n jong navorser met groot potensiaal.
Leeuwenhof Akademie het Nathan geloof vir sy prestasies en die merkwaardige groei wat hy oor die afgelope vier jaar getoon het. Die skool spreek sy trots uit oor sy prestasies en sien daarna uit om sy toekomstige suksesverhale te vier.
Met sy jongste prestasies bevestig Nathan sy plek as een van die skool se voorste wetenskapstalente en ’n inspirerende voorbeeld vir medeleerders.
Foto verskaf






