“Ons wil die Noordvaal-beker wen, en al vier ons vier Noord-Suid en Wildeklawer wedstryde wen.”
So verduidelik Ian Joubert, hoof van afrigting en 1ste XV afrigter by Noordheuwel.
Die doelwitte los niks oor aan die verbeelding nie. Noordheuwel wil nie net vanjaar deelneem nie, hulle wil oorvat. “In die Noordvaal-beker kom ons altyd baie naby, so ons wil die eerste span in Noordheuwel se geskiedenis wees wat die beker wen,” verklaar hy.
Behalwe vir die kompeterende Noordvaal-beker het Noordheuwel vir hulle ‘n sterk bepalingslys opgestel. Hulle speel teen Paarl Gimnasium, Oakdale, Affies en Grey College wat almal aanspraakmakers op ‘n top vyf plek in die ranglyste vanjaar is.
“Ons het begin met ‘n doelwit om net die geleentheid te kry om teen dié spanne te speel. Nou speel ons al om hulle te probeer wen. Ons wil aanhou verbeter, maar dit help nie ons groei kosmeties nie. Ons moet volhoubare groei wys en konstant goeie rugby speel dan kom die ranglys plekke vanself,” verduidelik hy.
Die skool met sy ongeveer 2000 leerlinge het oor die laaste 6-7 jaar in een van Suid Afrika se sterk rugbyskole ontwikkel. Hulle staan voor ‘n kruispad in 2026; as hulle hulle doelwitte bereik sal hulle ‘n vlak in die rugby-kringe opskuif. Dit gaan nie ‘n maklike taak wees nie, maar Joubert verduidelik dat hy en die afrigtingspan glo hulle sal dit kan vermag.
Also read: Oakdale vasbeslote om vanjaar in groot vyf deur te breek
“Ons wil in die top 10 inbreek, op die dag kan ons enige iemand wen. Dit gaan oor selfvertroue bou soos ons veldtog aangaan. Paarl Gimnasium dink ek gaan ons grootste toets wees, alhoewel Oakdale, Garsfontein, Grey College en Monument almal taai wedstryde gaan wees. Emosioneel sal Grey College seker vir my die moeilikste wees,” verduidelik hy.
Daar is rede om optimisties te wees, ses voorspelers wat verlede jaar eerste span gespeel het gaan weer in 2026 die bloutrui oor hulle koppe trek. Met ‘n o.16 groep wat sedert hulle o.14 jaar, elke jaar behalwe 2025 in die Noordvaal-eindstryd gespeel het wat bykom, lyk dit of Noordheuwel op ‘n sterk spelergroep kan op staatmaak.
Die groot plaaslike ‘derby’ tussen Noordheuwel en Monument word ook al vroeg in die Noordvaal veldtog gespeel. Dit is Nories se eerste Noordvaal-wedstryd, en sal vanjaar op die Ras van Rooyen veld gespeel word.
“Die druk is op ons omdat ons verlede jaar gewen het. Ek dink Monnas gaan hard kom, dit is ‘n groot wedstryd, daar is seker omtrent 7000 mense by die wedstryd. Dit is waarskynlik een van die beste derbies in die land. Dit is ‘n jong derby wat net kan groei,” het hy gesê.
Vanjaar kan Noordheuwel hulle plek tussen Suid-Afrika se rugby elites inneem; as hulle beseringsvry kan bly en met ‘n tikkie geluk sien mens dalk vanjaar iets realiseer waarvoor die Nories al ‘n paar jaar lank na werk.







