“As ons ernstige beserings kan vryspring sal ons goed in die Skild kompeteer,”
So sê Deon Anderson, een van die 1ste XV afrigters by Eldoraigne. Eldos, soos hulle in die volksmond bekendstaan, speel van volgende jaar af in die Noordvaal Skild-afdeling. Dié sprong is nie nuwe terrein vir die manne van Centurion nie, hulle het al vantevore in dié afdeling gespeel.
“Ja dit gaan taai wees, maar ons is reg vir die uitdaging. Ons fokus baie op die individuele spelers se vaardighede en om ‘n samhangende span te bou. Die kultuur is vir ons belangrik,” sê Anderson.
Hy is ook by die Bulle se o.20s as skopafrigter betrokke. Hy sien waar die leemtes tussen skole rugby en junior professionele rugby lê. Iets wat hy probeer met die spelers van Eldoraigne regstel.
“Ek probeer almal om my beter maak. As jy afrig kan jy dit nie vir jouself doen nie. Jy wil die spelers die beste maak as wat hulle kan wees,” verduidelik hy oor sy filosofie.

Dit was nie noodwendig ‘n maklike pad terug na die Skild toe nie. Daar was hart verskeurende oomblikke op die pad.
“Ons het onsself drie jaar gegee om weer terug in die Skild te kom, en het dit in twee jaar gedoen. Ons het dit amper in een jaar gedoen, maar verlede jaar het ons promosie met iets soos 0.5 punte gemis,” sê Anderson.
Die manne van Centurion het op ‘n interessante manier te werk gegaan om hulle promosie droom te realiseer. Afrigters is almal spesifieke verantwoordelikhede gegee.
“Ons het byvoorbeeld die o.14 afrigters die verantwoordelikheid vir die skool se lynstane gegee. Almal het ‘n rol gehad om te speel sodat dit ‘n kollektiewe poging was. Daar is ‘n oop deur beleid waar enige iemand met mekaar kan verskil. So hou ons mekaar verantwoordbaar” verduidelik Anderson.
Die Skild, is die afdeling waar daar die meeste gereis gaan word. Ben Vorster, Ligbron, Piet Retief, Secunda en Pietersburg is almal in dié afdeling. Dit gaan ‘n swaar las wees vir Eldos met al die reis vereistes.
“Ons is gewoond aan reis, maar besef dat as jy in dié afdeling tuis speel gaan jy beslis ‘n groter voordeel hê,” verduidelik hy.




You must be logged in to post a comment.