Ontwikkeling, is ‘n woord wat baie in skole rugby rond gegooi word. Elke skool sê hulle doen dit, maar min skole leef dit.
Brandwag, wat van promosie na die Noordvaal Bowl afdeling gekry het, se filosofie wentel alles om ontwikkeling. In 2018 was die skool van Benoni, nog in afdeling 3 van die Noordvaal piramiede. Die naam mag dalk verwarrend wees. Dit is die sesde vlak in dié piramiede. Van 2026 is die Oos-randers op die vierde vlak, die Bowl afdeling. Dit is groot tree wat die afgelope paar jaar gegee is. Saam met Midstream College en Centurion is hulle die nuwelinge in dié afdeling.
Volgens Anton Geyser, adjunkhoof: sport, by Brandwag was dit nog altyd hulle filosofie om die spelers te ontwikkel wat jy het. Veral om vir Benoni se kinders ‘n goeie algehele produk aan te bied. Volgens Geyser het die skool se getalle die laaste ruk begin opneem wat hulle veral met hulle rugby vooruitsigte gehelp het.
“Ons vat dit maar een seisoen op ‘n slag. Daar is basiese beginsels wat by elke span afgerig moet word. So ons probeer seker maak al die spanne oefen die basiese goed mooi in. Ons probeer ook om ons afrigters te ontwikkel. Daar word kursusse gereel wat hulle bywoon en hopelik iets nuuts na die tafel toe bring,” verduidelik hy.
Hulle het nie spesifieke planne vir die nuwe uitdaging van die bowl nie, maar Geyser weet hulle gaan moet skerper wees.

“Ek glo daarin dat as jy die bal hou, dan gaan jy wen. In ‘n hoër liga gaan ons moet skerper wees in die uitvoering,” sê hy.
Geyser weet dat hulle sukses in hulle eie hande is, as hulle op hulle ontwikkeling fokus. Daar lê moeilike wedtryde vir Brandwag voor. Albei die spanne wat van die plaat af gerelegeer was, Die Anker en Hugenote is saam met Brandwag in ‘n poel. Die manne van Benoni is in 2026 ongelukkig dat hulle die ander twee spanne in hulle poel, Merensky en Ermelo weg moet speel.
Enige span wat ‘n liga opskuif, se diepte word getoets. Volgens Geyser, het Brandwag se B-spanne vanjaar uitstekend gevaar.
“Dit is nou in Afdeling 2 maar ons is vol vetroue dat hulle ook reg is vir die volgende stap,” sê hy.
Geyser glo hulle gaan meer as kompeterend in die Bowl wees. Hulle is vol moed en soos Geyser sê “As jy reg opdaag is jy halfpad daar”




You must be logged in to post a comment.