Rugby-president intimideer glo klubvoorsitters om hom te ondersteun in sy politieke veldtog – ANC

Bennie van Rooi, president van die Boland Rugbyunie. Foto: Rasaad Adams

Rugby-president intimideer glo klubvoorsitters om hom te ondersteun in sy politieke veldtog – ANC


WORCESTER – Bennie van Rooi, president van die Boland Rugby-unie, se versoek aan rugby-klubvoorsitters om hom te ondersteun in sy politieke veldtog vir die opkomende munisipale verkiesing is ’n ‘direkte dreigement’.

So sê Carl Baartman, ANC-hoofsweep in die Langeberg-streek.

Van Rooi is tans die Patriotic Alliance (PA) se burgemeesterskandidaat in die Langeberg. Hy het die versoek om ondersteuning Saterdag na afloop van ’n vergadering aan die klubvoorsitters gerig.  

Baartman sê: “Ons sien sy versoek aan die rugby-klubvoorsitters as ’n direkte dreigement, veral wanneer hy [Van Rooi] sê dat hy van hulle [klubvoorsitters] verwag dat hulle hom – soos hulle hom in die rugby ondersteun – ook in die politiek moet ondersteun en die feit dat hy nog vir die volgende vyf jaar president gaan wees.

“Dit is ’n dreigement gerig aan klubvoorsitters of klubs wat hom nie gaan ondersteun nie.”

Volgens Baartman is die ANC van mening dat die Boland-president sy posisie misbruik om klubvoorsitters te beïnvloed.

Baartman sê alhoewel die uitlating nie in die vergadering aan klubvoorsitters gemaak is nie, maar wel ná afloop die vergadering dra dit dieselfde gewig.

“Die feit dat die aangeleentheid by ’n vergadering wat deur Boland Rugby-unie bele is plaasgevind het, voel ons [ANC] die Boland se rugby-president misbruik die hulpbronne van die unie om sy politieke doeleindes te bevorder. Dit is onaanvaarbaar.

LEES OOK: Wedstrydknoeiery: Só reageer Boland

Volgens Baartman moet die unie apolities gehou word.

“Die rugbygemeenskap in die Boland is baie verdeel as gevolg van die aksies van die Boland Rugby-president.”

Volgens Baartman verwag die ANC dat die Boland Rugby-unie en Saru iets aan die aangeleentheid moet doen.

Die DA in die Langeberg veroordeel Van Rooi ten sterkste oor bewerings dat hy sy posisie as president van die Boland Rugby-unie vir politieke doeleindes gebruik in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing.

Luidens ‘n verklaring sê die DA sport behoort gemeenskappe te verenig, nie ‘n instrument vir politieke maneuvers te word nie.

“Daar word van sportleiers verwag om die integriteit van die organisasies wat hulle lei, te beskerm. “Inwoners van Langeberg verdien leiers wat hul belange eerste stel, nie politici wat invloedryke posisies gebruik om politieke voordeel te trek nie.”

Kort nadat ’n politieke storm losgebars het oor ‘n video waarin Van Rooi die klubvoorsitters vra vir hul ondersteuning in sy politieke veldtog, het hy omverskoning aan die publiek gevra.

Nova News het ook die volledige video, waarin hy omverskoning vir sy optrede vra, onder oë gehad.

“As leiers maak ons soms foute en Saterdag was een van daardie geleenthede wat my oordeel my in die steek gelaat het. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir my optrede en erken dat die wyse waarop die situasie hanteer is, nie aan die standaard voldoen wat van ‘n leier verwag word nie.”

Hy het ook gesê dat hy dit duidelik wil stel dat sy optrede in sy persoonlike hoedanigheid was en nie in sy hoedanigheid as president van die Boland Rugby-unie nie. “My optrede moes dus nie vertolk word as optrede, standpunt of verteenwoordiging namens die Boland Rugby-unie en sy volle bestuur, nie.

Van Rooi het by navraag deur Nova News nie veel kommentaar gelewer nie. Hy het wel gesê : “Ek het verskoning gevra. Die saak is nou afgehandel. Ek gaan aan met my lewe. Ek is verby dit. Ek is steeds Boland se president.”

Nova News het uitgereik na Boland Rugby-unie vir kommentaar. Die unie se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article