Uitgereik deur kykNET
Die bekroonde aktrise Rolanda Marais en die modeontwerper Gert van de Merwe is pas aangewys as die Bravo! Revlon-stylikone van 2026. Gloria Arendz, sakevrou, skrywer en voormalige model, is ook met ’n spesiale toekenning as styllegende vereer.
Met die toevoeging van ’n manskategorie het vanjaar se veldtog ’n nuwe hoofstuk ingelui en Gert is die eerste man wat met dié titel bekroon is.
Bravo!, kykNET se gewilde glans- en tydskrifprogram, en Revlon het die stylikoon-soektog in 2025 bekend gestel. Die model en TV-aanbieder Katryn Kruger het toe met die louere as eerste Bravo! Revlon-stylikoon weggeloop.
Die uitbreiding erken die groeiende rol van mansmode, versorging en persoonlike styl in Suid-Afrika.
’n Beoordelaarspaneel met verteenwoordigers van Revlon, kykNET, Bravo! en die mode- en mediabedryf het drie vroue- en drie mansfinaliste gekies.
Volgens Paul Venter, vervaardiger van Bravo!, was die paneel op soek na mense wat “styl op alle gebiede versinnebeeld”.
“Dit is individue met ’n herkenbare voorkoms wat hul persoonlikheid met selfvertroue en konsekwentheid uitleef.”
Legendariese styl
Die paneel het Gloria ook met ’n spesiale toekenning as styllegende vereer.
Dié erkenning vier die invloed, individualiteit en blywende styl waarmee sy oor jare heen die oog gevang het.
“Gloria is ’n voorbeeld vir ons almal van wat dit beteken om stylvol te wees,” meen Paul.
“Sy verstaan al vir jare dat styl nie bloot oor klere of die jongste tendense gaan nie, maar oor die manier waarop jy jouself dra, jou individualiteit uitleef en met selfvertroue in die wêreld staan,” sê Paul.
“Haar styl is konsekwent en onmiddellik herkenbaar omdat dit ’n egte weerspieëling is van wie sy is. Dit maak haar ’n waardige styllegende.”
Gloria Arendz
Rolanda se speelse styl staan uit
Rolanda, wat bekend is vir haar werk in film, televisie en teater, beskryf haar styl as “speels dog deurdag” – ’n natuurlike uitvloeisel van haar lewensfilosofie om getrou aan haarself te bly.
“Ek wil hê mense moet dit geniet om soggens aan te trek. Die houding waarmee jy jou dag begin, bepaal dikwels jou aanslag vir die res daarvan,” glo sy.
“Wees gaaf met jouself wanneer jy in die spieël kyk, praat mooi oor jouself en vermy negatiewe gedagtes.”
Vir Rolanda begin goeie styl by gemak, maar dit gaan ook oor die selfvertroue om selfs die eenvoudigste uitrusting jou eie te maak.
“Gemak kom altyd eerste. Moenie te veel geld bestee om elke seisoen die nuutste modes te koop nie. Gee eerder ’n eenvoudige uitrusting meer karakter met ’n oorbel, handsak of ander klein detail wat eie en spesiaal aan jou styl is. Dit skep ’n fokuspunt wat die oog vang sonder om te oorweldig.”
Die ander vrouefinaliste was die grimeerkunstenaar en stilis Mari Biderman-Pam en ook Gloria.
Rolanda Marais
’n Leeftyd van styl bring erkenning
Gert is ’n toonaangewende modeontwerper wat ateljees in Kaapstad, Pretoria en Londen bedryf het.
Hy is in die manskategorie saam met die interieurontwerper en opknappingspesialis Willus Bosch en die Binnelanders-akteur Roberto Kyle benoem.
Sy loopbaan het hom onder meer ’n benoeming vir die gesogte Catherine-toekenning van die Fair Lady South African Fashion Awards besorg.
Hy het ook die J&B Rare-ontwerperstoekenning gewen. Vandag bestuur hy Die Langhuis-gastehuis en fynproewerskafee in Barrydale.
“Ek sou my styl as ‘classic tribal’ beskryf, maar glad nie etnies nie. Ek is ook versot op vintage,” sê Gert.
Hoewel hy nie aantrek om ander mense te beïndruk nie, glo hy dat ’n kleredragkode gerespekteer moet word.
“Dit toon respek vir jou gasheer. Bowenal moet ek gemaklik voel in wat ek dra, want gemak skep selfvertroue, selfs wanneer my voorkoms ’n bietjie boheems is.”
Gert se raad is om ’n uitrusting by die skoene te begin en die res van die voorkoms daarop te bou.
“Moenie voel jy moet volgens jou ouderdom aantrek nie. Speel met kleur en tekstuur en eksperimenteer met nuwe tendense. As jy twyfel, los dit – én maak seker daar is ’n vollengtespieël in jou klerekas.”
Gert van de Merwe
Styl gaan oor selfvertroue
Paul is van mening dat, hoewel Rolanda en Gert se style van mekaar verskil, hulle dieselfde kern deel.
“Albei weet presies wie hulle is. Ware styl word nie deur ouderdom, geslag of ’n prysetiket bepaal nie; dit begin by selfkennis en die selfvertroue om jou persoonlikheid eerlik uit te leef,” sê hy.
“Dit is juis daardie egtheid wat maak dat ander mense by hul style aanklank vind en daardeur geïnspireer word.”
Die beoordelaarspaneel
- Heather Goate – bemarkingsdirekteur van Revlon
- Desireé Tan – kykNET se opdraggewende vervaardiger van Bravo!
- Paul Venter – vervaardiger van Bravo!
- Jackie Burger – mode-ikoon en voormalige ELLE–redakteur
- Franie Cronjé – SARIE-stylredakteur en modekenner
- Abraham van Zyl – bemarkingsbestuurder van kykNET
- Elana Afrika-Bredenkamp – TV- en radio-aanbieder, aktrise en ‘momtrepreneur’
- Katryn Kruger – SA Styl-ikoon 2025, model en TV-aanbieder
’n Bravo!-insetsel wat die aankondiging van die wenners wys, word op Donderdag 22 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.







