Dricus du Plessis en sy bruid, Vasti (née Spiller), het op 10 Oktober by die La Paris-landgoed naby Franschhoek in die huwelik getree. En die eerste indruk? Dit lyk baie spoggerig, en die troue het reeds baie aandag op sosiale media getrek danksy die foto’s wat gaste gedeel het.
Vasti het vir die geleentheid twee rokke van die ontwerper Anél Botha gedra. Willem Botha was verantwoordelik vir haar grimering, terwyl Dricus en sy strooijonkers se pakke deur Frank Bespoke gemaak is.
Dit was die Afrikaanse sanger Ricus Nel wat een van die eerste foto’s van die dag gedeel het. Hy het dit op Instagram beskryf as die “troue van die jaar!”
View this post on Instagram
Van gimnasium tot die kansel
Dricus en Vasti se liefdesverhaal het glo in ’n gimnasium begin. Hulle het lank by dieselfde gimnasium in Pretoria geoefen voordat hulle uiteindelik met mekaar begin gesels het. ’n Koffie-afspraak later het die verhouding laat blom.
Verlede jaar, op sy 31ste verjaardag, het Dricus die groot vraag gevra.
In ’n onderhoud met Huisgenoot het hy vertel dat Vasti verstaan hoeveel sy sport vir hom beteken – selfs wanneer sy oefenprogram soms meer aandag as sy kry. En hoewel gemengde gevegskuns ’n groot deel van sy lewe is, het hy ook ’n droom wat ver buite die kryt strek: om ’n pa te word.
View this post on Instagram
’n Voorsmakie van die feesvieringe
Vasti het die aanloop tot die troue met haar volgelinge gedeel, van haar kombuistee tot haar bachelorette-partytjie. In haar plasings het sy telkens haar dankbaarheid uitgespreek vir die mense in haar lewe en die rol wat God daarin speel.
Sedert die troue het verskeie gaste en die trou-organiseerders ook oomblikke van die dag op sosiale media gedeel. Die bruidspaar het egter nog nie hul eie foto’s bekend gemaak nie – so daar is dalk nog ’n paar verrassings wat wag.
View this post on Instagram
Bekende gesigte op die gastelys
Die viering het ook ’n paar bekende name uit die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld en sport gelok. Onder die gaste was sangers Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Liza Nel en Cézaan Sonnekus, asook rugbylegende en -kommentator Victor Matfield en sy vrou, Monja.
Die huidige Extreme Fighting Championship (EFC)-middelgewigwêreldkampioen Diego Bandu en bokser Stephanus Daniel Pypers was ook daar.
Monja het ná die tyd op sosiale media vertel dat sy nog nooit by so ’n intieme troue was waar die bruid en bruidegom so smoorverlief op mekaar was nie.
En ’n persoonlike aandenking het die dag nog meer besonders gemaak: elke gas het ’n portret as geskenkie ontvang.
- Foto’s: Instagram
Lees ook: KYK | Dricus du Plessis vier sy verjaarsdag én verlowing! | rooi rose


