’n Suid-Afrikaanse bakker het pas ’n titel verwerf wat jy waarskynlik nie elke dag hoor nie: broodsommelier. Ricardo Slawers, die hoofbakker by La Motte-wynplaas in Franschhoek, is die eerste persoon uit Afrika wat dié gesogte kwalifikasie aan Duitsland se Akademie Deutsches Bäckerhandwerk in Weinheim voltooi het.
Vir Ricardo gaan dit egter oor veel meer as ’n titel. Brood is vir hom ’n kuns waarin wetenskap, intuïsie, geduld en ’n goeie dosis passie bymekaarkom.
“Dit is ’n proses van passie, noukeurigheid, wetenskap en intuïsie,” het hy vroeër vanjaar aan rooi rose vertel. “Dit is onmoontlik om net ’n bakker te wees terwyl jy bak. Dit raak deel van wie jy is.”
Lees ook: Ricardo Slawers becomes Africa’s first bread sommelier | NovaNews
‘n Liefde vir brood
Ricardo het op Riversdal in die Suid-Kaap grootgeword en ná skool in Wellington gematrikuleer. Hy het in 2005 na Franschhoek verhuis en aanvanklik as skrynwerker gewerk.
Sy loopbaan in die kombuis het in 2010 begin toe hy by Val de Vie se Sabrage-restaurant aangesluit het. Daar het hy sy hand aan alles probeer slaan – van pizza en fyngebak tot sjokolade – voordat hy sy liefde vir brood ontdek het.
In 2014 het hy by La Motte aangesluit, waar hy aanvanklik in die fyngebakkombuis en bakkery gewerk het. Toe La Motte Bakkery in 2023 geopen het, het hy die hoofbakker geword.
Dit was hier waar Markus Färbinger, wat self uit ’n familie van bakkers kom, ’n belangrike invloed op Ricardo se benadering tot brood geword het.
“Sy betrokkenheid by die La Motte-bakkery het my bakkerslewe verander. Ek verstaan brood nou op ’n ander vlak,” sê Ricardo.
’n Reis buite sy gemaksone
Sy reis na Duitsland om die broodsommelierkursus te voltooi, was ’n heel ander uitdaging. Ricardo het nie geweet wat om te verwag nie en moes homself aanvanklik gereeld moed inpraat.
Maar soos hy hom in die kursus verdiep het, het die onsekerheid plek gemaak vir nuuskierigheid. Die program, wat sedert 2015 aangebied word, neem studente veel verder as die basiese beginsels van broodbak. Hulle leer oor die sowat 22 000 jaar lange geskiedenis van brood, ontwikkel gevorderde sintuiglike vaardighede, bestudeer brood op molekulêre vlak en leer hoe om internasionale broodstyle én die stories daaragter te verstaan.
Ricardo se verhandeling het gefokus op mosbolletjies – die tradisionele Kaapse brood met diep wortels in die Wynlande. Daarmee het hy ’n stukkie Suid-Afrikaanse broodkultuur na ’n internasionale verhoog geneem.
Brood leer jou geduld
Vandag staan Ricardo aan die stuur van La Motte se bakkery, waar vars brode daagliks in ’n houtoond gebak word. Vir hom is die proses amper terapeuties.
“Gehaltebrood soos dit tradisioneel gebak is, vat lank. Jy moet leer om geduldig te wees,” sê hy. En soos enige bakker weet, werk die deeg nie altyd saam nie.
Wanneer ’n brood ná ure se werk misluk, kan dit maklik ontmoedigend wees. Maar Ricardo het geleer om weer te probeer.
“Brood laat jou nie toe om tou op te gooi nie, want jy moet weer môre eet,” sê hy.
Dalk is dit ook een van die dinge wat hom so lief gemaak het vir sy ambag: die herinnering dat vreugde dikwels in eenvoudige dinge lê.
“As ek met ’n varsgebakte brood tuiskom en my kinders wag my in met die botter op die tafel, is my hart sommer warm.”
En ná 12 jaar by La Motte en ’n kwalifikasie wat hom die eerste broodsommelier uit Afrika maak, is dit duidelik dat Ricardo nog lank nie klaar geleer het nie.

Ricardo Slawers, die hoofbakker by La Motte-wynplaas in Franschhoek, is die eerste persoon uit Afrika wat dié gesogte kwalifikasie aan Duitsland se Akademie Deutsches Bäckerhandwerk in Weinheim voltooi het.
