Deur Maretha Botes
Jy hoor dit waarskynlik nie: Die gedreun van alledaagse geraas. Motors op die snelweg, ambulanse in die verte, vliegtuie in die hemelruim, blareblasers, honde wat blaf. Dis dalk op die agtergrond, maar dit is dáár. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê omgewingsgeraas is onder die topomgewingsrisiko’s vir jou gesondheid.
Die uitwerking van dié tipe geraas lei jaarliks tot die verlies van ’n geraamde een miljoen gesonde lewensjare wêreldwyd. Geraas – selfs die alledaagse dreuning in die agtergrond – veroorsaak verhoogde stresvlakke wat ’n negatiewe impak op jou gesondheid en produktiwiteit het. Chroniese stres lei onder meer tot verhoogde bloeddruk en angsvlakke, slaapversteurings, buierigheid, en kan selfs tot hartsiektes lei.
Hoe geraas jou liggaam laat reageer
Thomas Münzel, ‘n kardioloog by die Johannes Gutenberg-universiteit in Mainz, Duitsland, verduidelik op die webwerf Brainfacts.org, dat wanneer jy geraas hoor wat jou ontsenu (jy kom dit moontlik nie eens agter nie) die amigdala, ’n gedeelte in jou brein wat emosionele prosessering hanteer, ’n noodsein na die hipotalamus stuur. Op sy beurt stuur die hipotalamus seine na die adrenalienkliere wat adrenalien in die bloedstroom pomp – ’n evolusionêre maatstaf om vinnig in lewensbedreigende situasies te reageer. Adrenalien en kortisol, ’n streshormoon, bring fisiologiese veranderinge, soos ’n verhoogde hartklop en bloeddruk, mee.
Hy sê jou liggaam reageer so vinnig, jy kom nie agter die reaksies het in jou brein en liggaam plaasgevind nie. Die probleem is egter dat chroniese blootstelling aan stres, soos geraas, hierdie stresrespons aanhoudend geaktiveer hou. Uiteindelik veroorsaak dit geestes- en fisieke gesondheidsprobleme.
Dis moeilik om jou in die alledaagse geskarrel ’n plek te verbeel waar jy die soort stilte kan beleef wat jou sintuie onbevange kan ervaar. Die soort stilte waarin jy kan baai sonder die oë van die wêreld op jou. Daai stilte wat heel maak. Boonop is stilte iets wat baie mense afskrik, bang maak en ongemaklik laat voel. Maar dit is juis die tipe stiltes wat ons vir ons eie gesondheid moet najaag, meen kenners van geesteswelstand.
Die oplossing
Die oplossing is om tyd vir stilword in te ruim. Rudolph de Wet, ’n motiveringspreker van Meyerton in Gauteng, sê deur stil te wees, kan ons ons energie kanaliseer. Dit gee ons die duidelikheid wat ons nodig het om uitdagings en onsekerheid rustig die hoof te bied. “’n Uur van stilte wat jy jouself elke oggend gun, kan ’n tyd wees om jou gedagtes te orden, jou verstand te oefen en te besluit hoe jy die dag wil ingaan.”
Natuurlik is ons almal verskillend en die waarde wat ons aan stilte heg, hang onder meer af van faktore soos waar jy op die skaal van introvert/ekstrovert lê. Amy Sullivan is ’n sielkundige by die Cleveland-kliniek in Ohio, Amerika. Sy sê ongeag jou persoonlikheidstipe is dit noodsaaklik om stilte deel van jou dag te maak.
“Stilte gee ons die geleentheid vir selfrefleksie en om te dagdroom, wat verskeie dele van die brein aktiveer. Dit gee jou kans om die geraas binne jou uit te doof en bewus te word van wat regtig saakmaak. Jy kweek op dié manier bewustheid (mindfulness) – ’n waardering en erkenning van die oomblik waarin jy jouself bevind. Die fisieke voordele sluit in dat jy in kalm tye, soos stilwordtye, jou liggaam kans gee om sy reaksie op stres ‘stil te maak.”

“’n Uur van stilte wat jy jouself elke oggend gun, kan ’n tyd wees om jou gedagtes te orden, jou verstand te oefen en te besluit hoe jy die dag wil ingaan,” sê Rudolph de Wet, ’n motiveringspreker van Meyerton in Gauteng,
Wat stilwees beteken
Lizette Volkwyn, ’n meesterlewensafrigter, sê stilwees beteken om te ontkoppel van die foon, sosiale media, musiek, die gejaag in jou kop en die leuens wat ons onsself vertel. “Maar waar begin ek as ek verslaaf is aan die besig wees, die gevoel van belangrikheid as ek iets doen en die nimmereindigende aanvraag van iemand wat aandag soek?” sê sy.
Sy sê dit gaan verg dat jy ’n bewuste besluit neem om tyd te maak, ’n doelbewuste besluit om in daardie oomblik in die nou in te beweeg en die ware jy te omhels. “Is dit maklik? Nie vir almal nie. Veral omdat baie van ons so hard probeer om nie die ware ek in die oë te kyk nie. Die beloning is egter veel groter as wat jy ooit kan verwag,” sê sy.
Stiltebewaring
Om dié redes het die ekoloog Gordon Hempton in 2005 reeds met ’n vorm van sogenaamde stiltebewaring met sy projek “One Square Inch of Silence” begin. Dit het aanleiding tot die nie-winsgewende organisasie Quiet Parks International met uitgesoekte Quiet Parks om die wêreld heen gegee.
Hul missie is die bewaring van stilte tot voordeel van alle lewe op aarde. Quiet Parks (stiltereservate) is natuurgebiede wat heeltemal van mensgemaakte klank en geraas vry is. Dit is nie maklik om status as ’n stiltereservaat te kry nie en jy word aan uiters streng kriteria onderwerp. Een so ’n park is in Namibië. Die NamibRand-natuurreservaat het onlangs eers sy status as ’n stiltereservaat ontvang. Die afgelope 20 jaar het die reservaat gasteverblyf tot een bed per duisend hektaar beperk. Die kans dat jy dus ’n ander mens gaan hoor praat, lag of ’n glasie wyn geniet, is bitter skraal. Dit is jy en die stilte van die rooi woestyn. ’n Wegbreek na so ’n reservaat is egter nie vir almal beskore nie. Wat doen jy dan om stilte te kry?
Wat doen ek met die niks in die stilte?
Begin fokus op die nou: Hoe voel jy in die oomblik, wat is die emosie wat jy voel, wat het dit voortgebring en wat is die waarheid? Lizette sê: “So baie keer raak ons angstig, kwaad of self ongelukkig deur die wanopvattings in ons lewe. Vra jouself af wat jy daaraan kan doen – sonder om dadelik aan ‘n plan te begin werk – koester jou sterk punte en begin op jou asemhaling fokus, raak in hierdie 30 minute absoluut rustig. Sien dit as jou kans om te herlaai.”
Stiltetyd as deel van jou lewe
Leef in die oomblik
Stilte leer jou om teenwoordig te wees en waarde aan die klein, eenvoudige oomblikke van die lewe te heg. Jy begin dinge raaksien wat jy voorheen nie in die gejaag opgelet het nie, soos die skoonheid van die natuur of die warmte van ’n eenvoudige gesprek.
Vrede en aanvaarding
Deur stilte te beoefen, leer jy om jou gedagtes en emosies sonder oordeel te aanvaar. Dit kweek ’n dieper vrede en aanvaarding van jouself en jou omstandighede, en jy begin om minder beheer oor dinge te probeer uitoefen.
Dieper waardering en dankbaarheid
Stilte help jou om meer bewus van jou seëninge te wees, en dit waarvoor jy dankbaar is. Hierdie bewustheid kweek ’n gevoel van vervulling, selfs in moeilike tye.
Verhoogde intuïsie en wysheid
Stilte gee jou toegang tot jou innerlike stem en wysheid. Jy leer om jou intuïsie te vertrou, wat jou na besluite lei wat meer in lyn is met jou ware self en jou doelwitte.
Verminderde reaktiwiteit
As jy stilte deel van jou lewe maak, is jy minder geneig om impulsief of reaktief te wees. Jy ontwikkel die vermoë om rustig op uitdagings te reageer, wat jou ’n meer gebalanseerde uitkyk op dinge gee.
Eenvoud en fokus
Stilte leer jou om onnodige geraas uit jou lewe te verwyder, wat ruimte skep vir dit wat regtig saakmaak. Jou lewe voel eenvoudiger, meer gefokus, en doelgerig.
Groter geestelike verbinding
Stilte kan ook geestelike verdieping meebring, maak nie saak wat jou geloof of oortuigings is nie. Dit verbind jou met iets groter as jouself, en dit kan ’n gevoel van betekenis en rigting na jou lewe bring.
Om stilte deel van jou lewe te maak, verander jou uitkyk van ’n gejaagde, onrustige bestaan na een van betekenis, bewustelikheid en innerlike vrede. Dis ’n uitnodiging om stadiger te leef, meer bewus te wees, en die rykdom van die lewe ten volle te ervaar.

Ruim tyd vir stilword in. Foto: Lea Claisse, Pexels
Ek smag na stilte …
Santa Topham van Vereeniging sê: “Ek is van daardie mense wat nie sonder tjoepstilte kan bestaan nie. Een dag ’n week klim ek uit my lewe uit en praat en luister na niks en niemand behalwe myself nie. Dis soos geestelike bed-opmaak. Ek stoei met chroniese pyn vir ses dae van die week. Op dag sewe moet ek net stilte hê. Vir my lê stilte in poele onder bome en die laag oor die aarde waar waters en oop grond is.”
Rentia Haasbroek, ’n opvoedkundige sielkundige van Durban, sê: “My grootste pyn op die oomblik is hoe almal in die mediese sentrum waar ek werk hul fone op luidspreker sit. Ek wil nie na iemand anders se musiek, Tiktok-byklanke, kerkdiens of Whatsapp-gesprekke luister nie.”
Shanda Luyt, ’n onderwyseres van Jeffreysbaai, sê: “Ek smag na stilte ná ’n dag van skoolhou en drink dit letterlik in as ek by die huis kom. Ek wil nie eens een mens hoor praat nie. Net stilte, stilte, stilte …
Lees ook: Fibromialgie die onsigbare siekte | rooi rose

