Deur Mariette Snyman
Sy worstel al jare lank met oorweldigende moegheid en chroniese pyn wat deur haar liggaam versprei is, maar ten spyte van verskeie mediese toetse kan niemand verklaar waar dit vandaan kom nie.
“Ek slaap sleg en sukkel om te konsentreer. Dis vir my onmoontlik om tuis of by die werk optimaal te funksioneer. Soms is dit selfs seer wanneer my man vir my ‘n drukkie gee.”
“Hierdie woorde hoor ek dikwels wanneer ek die eerste keer pasiënte met fibromialgia sien,” sê dr Elsa van Duuren, ’n rumatoloog van Pretoria met ’n spesiale belangstelling in die siekte.
“Die feit dat die oorsaak van hul indringende en wydverspreide pyn onsigbaar bly – en dat fibromialgia nie met die hulp van laboratoriumtoetse gediagnoseer kan word nie – bemoeilik die situasie. Die meeste mense het min kennis van die toestand en hoe dit moet voel om daarmee saam te leef. Boonop is daar ’n wanopvatting dat dit ‘n diagnose is wat gemaak word wanneer medici nie regtig weet wat met iemand verkeerd is nie. Die teendeel is waar: Fibromialgia is ’n werklike siektetoestand.”
Fibromialgiasindroom (FMS) is ’n chroniese versteuring gekenmerk deur wydverspreide en aanhoudende spierskeletpyn. Ander kenmerkende simptome sluit moegheid, nie-verfrissende slaap, hoofpyn, kognitiewe probleme, depressie en angs in. Daar is dikwels meegaande toestande, soos deurlaatbare dermsindroom, veelvuldige sensitiwiteite, genito-urinêre irritasie en gewigsverandering.
“Ons het nie betroubare plaaslike statistiek nie, maar dit raak ongeveer 5% van die wêreldbevolking. Vroue verteenwoordig sowat 80% van die gevalle,” verduidelik dr Elsa. “Dit kan op enige ouderdom begin.”
Wat veroorsaak fibromialgie?
“Die spesifieke oorsake is nog nie vasgestel nie. Navorsers glo die siekte is die gevolg van abnormale pynverwerking in die sentrale senustelsel.
“Individue met fibromialgia se senuweeweefsel is sensitiewer as dié van ander mense. Herhaalde senuweestimulasie veroorsaak dat hul brein verander. Hierdie verandering behels ‘n abnormale toename in die vlak van sekere chemikalieë in die brein wat pyn aandui. Daarbenewens lyk dit of die brein se pynreseptore ‘n soort herinnering aan die pyn ontwikkel en meer sensitief word, wat beteken hulle kan ‘n oorreaksie op pynseine toon.
“Ons praat deesdae van ’n primêre pynsindroom: Die persoon ervaar wydverspreide, indringende pyn sonder ’n ooglopende rede. Hulle rapporteer byvoorbeeld spierpyn, maar by nadere ondersoek is daar niks met die spier verkeerd nie.
“Eenvoudig gestel, kom dit daarop neer dat die senuwee wat na daardie spier gaan vir die lyer sê daar is fout met die spier. In werklikheid lê die probleem in die senuweeweefsel en in hoe die brein die boodskap interpreteer.
“As jy byvoorbeeld jou vinger raaksny, is daar ’n senuwee in daardie liggaamsdeel wat ‘n noodsein aan jou brein stuur. Jou brein stuur gepaste boodskappe terug sodat sekere dinge in die betrokke liggaamsdeel gebeur om herstel aan te help. As jy fibromialgia het, kry jou brein aanhoudend pynboodskappe waarvoor daar geen rede is nie.
“Om die saak te vererger, raak die sentrale senustelsel geïrriteerd weens die aanhoudende pynboodskappe. Dit veroorsaak dat ander dele van die brein ook geaktiveer word, soos dele van die brein wat by emosies betrokke is. Die fibromialgie-lyer ervaar dus nie net pyn nie; dit word ’n intens emosionele gebeurtenis. Hoewel gewone MRI-skanderings die proses nie aantoon nie, is dit sigbaar op die funksionele MRI-skanderings wat wetenskaplike navorsers gebruik.”
Hoewel baie mense meen dat trauma, ’n virusinfeksie of ander stresvolle ervaring fibromialgia kan prikkel, is die oorsaak en gevolg nog nie so duidelik nie.
“DNS-toetse kan ook nie voorspel of iemand fibromialgia gaan ontwikkel nie. Tog lyk dit of daar ’n familieverband is. Pasiënte sê soms: ‘My ma het ook hierdie pyne gehad,'” verduidelik dr Elsa.
Diagnose en lewensimpak
Dr Elsa meen dat dit ingewikkeld is om ’n diagnose te maak. “Dis ‘n diagnose van uitsluitsel – ons moet seker maak die simptome word nie deur ander toestande veroorsaak nie, maar mense met fibromialgia toon besliste tekens.
“Tipies behels dit chroniese, wydverspreide pyn vir minstens drie maande aan die linker- en regterkant van die liggaam, en onder en bo die middellyf. Ons kyk na 18 snellerpunte: Plekke op die liggaam wat erge pyn veroorsaak as daarop gedruk word.
“Oorweldigende moegheid kom baie keer voor. Om verskeie redes, byvoorbeeld ‘n slaapstoornis of pyn wat hul slaap onderbreek, voel pasiënte nie uitgerus ná ’n nag se slaap nie. Die meerderheid pasiënte ervaar brain fog of breinbeneweldheid, wat veral beplanning, aandag, geheue, uitvoerende funksies en verwerkingspoed kan raak. Emosionele versteurings sluit depressie en angs in, maar nie alle mense met fibromialgia het depressie nie.
“Fibromialgia kan met toestande, soos deurlaatbare dermsindroom, hoofpyne en ’n prikkelbare blaas gepaardgaan,” sê dr Elsa.
Sy noem dat ’n slegte nagrus ’n gesonde persoon van balans af kan gooi. “Hoeveel te meer word iemand met fibromialgia deur die versameling chroniese simptome beïnvloed?”
Sy noem voorts dat pyn, moegheid, spierswakheid, beperkte fisieke kapasiteit, verhoogde stres en ’n groter behoefte aan rus hul funksionering tuis en by die werk rem en dit belemmer hul verhoudings, insluitend seksualiteit en ouerskap.
“Wanneer jy chroniese pyn ervaar en die mense om jou erken of verstaan dit nie, raak dit nog moeiliker. Pasiënte worstel met die stigma wat aan hul ‘onsigbare’ siekte kleef. Dit benadeel hul selfvertroue en eiewaarde.
“Dis opvallend hoeveel van my pasiënte ongelooflike presteerders is. Hulle blink dikwels uit in alles wat hulle aanpak en gun hulself nooit ‘n blaaskans nie. Soms het ek die indruk die siekte is die liggaam se manier om halt te roep en te sê: ‘Ek het rus nodig!’
“Aan die ander kant is daar gedrewe mense wat lewenslank so funksioneer en nooit fibromialgia ontwikkel nie.”
Watter hulp is beskikbaar?
Dr Elsa noem dat behandeling onder meer ten doel het om mense se pyn te beheer, slaap te verbeter en hulle aktiewer te kry sodat hulle beter kan funksioneer. Onderliggende toestande soos depressie moet doeltreffend hanteer word.
“Ongelukkig werk bekende middels vir die behandeling van spierskeletpyn, soos anti-inflammatoriese medisyne of kortisoon, nie vir fibromialgia nie. Sekere antidepressante en middels vir die behandeling van epilepsie, wat op senuwees as sulks werk, kan help,” vertel sy.
Sy vertel ook dat ’n mens die slaapprobleem met ‘n trisikliese antidepressant kan probeer behandel, maar hulle maak ook ander planne. Slaappille en pynpille met te veel bybestanddele kan die simptome op die duur vererger.
“Hoewel selfs geringe aktiwiteit pyn en moegheid kan vererger, verhoog langdurige onaktiwiteit ook fibromialgie-simptome. Ek spoor my pasiënte aan om te begin oefen om hul spiere te versterk en meer uithouvermoë te kweek. Hulle moet dit egter baie stadig vat; hulle begin letterlik met twee minute per dag. Dis ‘n proses van minstens ses maande.
“Die ingreep wat volgens navorsingsbevindings die beste uitkoms het, is kognitiewe gedragsterapie wat die persoon leer hoe om die pyn te hanteer.
“Hoewel sommige pasiënte aanstoot neem wanneer ek sielkundige behandeling aanbeveel, kan kundige hulp dit aansienlik makliker maak om met fibromialgia saam te leef,” noem sy.
Dr Elsa glo dat aanvaarding ‘n essensiële deel van die bestuur van dié siekte is. “Party pasiënte hou aan soek na ’n mediese oorsaak vir hul pyn: ‘Doen nog net die diagnostiese toets!’
“Dan sê ek: ‘Fibromialgia is ’n siekte en ons moet dit behandel. Daar is nie iets anders wat jou toestand gaan verklaar nie.’
“Hierdie toestand verg naasbestaandes se begrip en daadwerklike ondersteuning. Individue met fibromialgia sal tipies ‘n werktaak verrig of iets saam met hul gesin gaan doen en is daarna etlike dae lank man down.”
Sy vertel dat in die werksomgewing word fibromialgia ongelukkig selde as ‘n geldige rede vir siekverlof beskou.
“Ek kan vir ’n pasiënt ‘n doktersbrief gee, maar omdat daar nie bloedtoetse of skanderings betrokke is nie en ek nie hul simptome kan meet nie, kan ek bloot sê hulle het fibromialgia en sien nie vandag kans om te werk nie.
“Dit lyk nietemin asof bewustheid van die toestand toeneem. Ek wil weer benadruk: Fibromialgia is ’n ware siektetoestand met werklike simptome.”
Selfsorgwenke vir mense met fibromialgie
SARAA, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Rumatiek en Artritis, verskaf die volgende wenke:
- Verminder stres. Sê nee wanneer nodig en gun jouself elke dag tyd om te ontspan, maar moet liewer nie ophou werk of alle aktiwiteite laat vaar nie. Beoefen streshanteringstegnieke soos diep asemhaling of meditasie.
- Kry genoeg slaap met die nodige aantal ure, ‘n gereelde slaaproetine en deur dagslapies te beperk.
- Oefen gereeld. Dit kan aanvanklik jou pyn vererger, maar gereelde oefening wat geleidelik toeneem, kan simptome verminder. Toepaslike oefeningsoorte sluit stap, swem, fietsry en water aerobiese oefening in.
- Pas matigheid toe met aktiwiteite. As jy op jou goeie dae te veel doen, ervaar jy dalk meer slegte dae. Moet egter ook nie te min doen op dae wanneer jou simptome opvlam nie.
- Handhaaf ‘n gesonde leefstyl. Maak verstandige voedselkeuses. Beperk jou kafeïeninname.
- Doen elke dag iets wat jy vervullend vind.
Hoewel komplementêre terapie nie noodwendig deur wetenskaplike navorsing gerugsteun word nie, kan die volgende stres en pyn help teëwerk:
- Akupunktuur, ‘n Chinese mediese stelsel wat behels dat fyn naalde op verskillende dieptes in die vel gesteek word. Volgens Westerse teorieë van akupunktuur veroorsaak die naalde veranderinge in bloedvloei en die vlakke van neuro-oordragstowwe in die brein en rugmurg.
Bron: www.saraa.co.za

