Kabous Meiring onthou die ronde kombuistafel in hul strandhuisie in Langebaan. Ná aandete was daar seesand, papiere en penne oral, en ’n letter van die alfabet het bepaal watter name, vanne, diere en dorpe op die papier moes beland. Haar ma moes soms ingryp om die bestaan van ’n plek te bevestig: “Holfontein bestaan werklik. Jy mag dit maar skryf onder ‘h’.”
Dié bekende speletjie kry nou ’n plek op kykNET se Saterdagaandskedule met Haas se Gat, wat op 17 Oktober om 19:30 begin. Die program, wat sy naam verleen aan “down the rabbit hole”, bring die nostalgie van saamspeel om ’n tafel na die skerm, met gesprekke wat heerlike, onverwagte rigtings inslaan.
Kabous Meiring bied aan, Gerhard van Huyssteen is die spelleier, en hy word bygestaan deur Liesl Gouws, ’n triviafoendi en speletjiesfanatikus wat ’n permanente gas is.
Saam met ’n bekende gas speel hulle in elke episode Name, Vanne, Diere, Dorpe en Dinge. ’n Letter word gekies en elke deelnemer gee antwoorde wat daarmee begin. Waarheen die gesprek draai, is altyd ’n verrassing.
Spring af in die rabbit hole
’n Dorpsnaam kan ’n gesprek oor geskiedenis ontlok; ’n voornaam kan die geselskap tot by ’n popster, ’n stamboom of ’n onverwagte herinnering neem. Daar word nie vir punte gespeel nie. Die antwoorde gee eerder aanleiding tot stories, feite en vrae wat die deelnemers verder laat soek.
“Dis veel belangriker om by interessanthede uit te kom – interessanthede wat ’n mens dikwels slegs diep in die hasegate kry!” sê Gerhard.
Vir hom lê die aantrekkingskrag van die oorspronklike speletjie daarin dat enigeen kan saamspeel, van jonk tot oud. Dit werk in die kar, in ’n restaurant of op die strand. ’n Mens kan pen en papier gebruik of selfs antwoorde in ’n WhatsApp-groep deel en die reëls aanpas om dit makliker of moeiliker te maak.
Sy voorbereiding vir die program neem hom reeds vóór elke opname op allerlei afdraaipaadjies. Hy kies die letter en die Dinge-kategorie deur middel van raaisels of vrae, doen navorsing oor sy eie antwoorde en probeer voorsien waarmee die ander deelnemers vorendag mag kom.
As die letter byvoorbeeld W is, kan sy soektog by Waldimar begin en hom daarna na Willem en Willemien neem. Dan ontstaan vrae: Waar kom dié name vandaan? Watter ander Afrikaanse name volg dieselfde patroon? Só word selfs die voorbereiding ’n oefening in die kuns om jou nuuskierigheid te volg waarheen dit ook al mag lei.
Brei algemene kennis uit
Tydens die episode soek Gerhard ook in boeke, op die internet en in sy geheue na nog feite. ’n Antwoord waarvan hy nog nooit gehoor het nie, is vir hom ’n vonds.
“Dink net hoe vervelig die lewe vir my sou wees as ek alles geweet het,” sê hy.
Kykers sal hom van kykNET se Op die spel onthou, maar met die nuwe program verken hy ander dimensies van sy belangstelling in taal. Hy is veral nuuskierig oor waar woorde en uitdrukkings vandaan kom, hoe hul betekenis verander en wat dit oor mense se denke verklap.
En selfs Gerhard leer iets by sy tafelgenote. ’n Gesprek oor Harry Potter het hom, byvoorbeeld, verras met Liesl se kennis van die karakters, hul name en die diepte van die stories waarin hulle voorkom.
Prettige aanbieders neem deel
Kabous neem deel sonder om die inhoud vooraf te ken. Dit beteken haar eie algemene kennis word ook om die tafel getoets, en sy moet gemaklik daarmee wees dat sy soms ’n fout gaan maak.
“Ek is dus gelykertyd kyker en aanbieder,” sê sy.
Sy beskryf haar humorsin as “drogerig” en erken dat skinder en die uitpluis van stambome haar plesier verskaf.
Gerhard se wye belangstelling en Liesl se liefde vir popkultuur en ware misdaad sorg vir ’n verskeidenheid van ander moontlike gespreksrigtings. Die gas moet bereid wees om saam te speel en ook oor ’n eie flater te lag.
Liesl het grootgeword in ’n huis waar almal altyd lus was vir ’n potjie van die bordspel Trivial Pursuit. Haar liefde vir feite het gebly. Sy leer graag iets nuuts en vertel dit ewe graag oor.
“Ek is nie ’n mededingende persoon nie, maar dit is absoluut my doel om vir Gerhard te probeer uitoorlê,” sê sy.
Haar strategie is om ’n antwoord neer te skryf waaroor sy iets het om te vertel, maar soms neem die paniek oor en gryp sy na die eerste woord wat opkom. Tydens een van die eerste opnames het sy Mimi Coertse se naam neergeskryf, maar toe Kabous haar daaroor uitvra, kon sy aan niks dink om te sê nie. Liesl sê Kabous terg haar steeds daaroor.
Opwindende gaste om voor uit te sien
Die gaste wat kom saamspeel, is Henriëtta Gryffenberg, Daneel van der Walt, De Klerk Oelofse, Albert Pretorius, Janie du Plessis, Johan Stemmet, Dean John Smith, Margit Meyer-Rödenbeck, Pedro Kruger, Zanne Stapelberg, Bibi Slippers, Zander Tyler (Jack Parow) en Martelize Brink.
Elkeen bring hul eie kennis, stories en humor na die tafel. Kabous onthou, onder meer, Dean se verklaring vir Tulbagh se naam: “Hulle het geluister vanaf Mozart till Bach.”
Kykers kan tuis hul eie antwoorde neerskryf, of bloot luister waar die volgende naam, van, dier, dorp of ding die gesprek laat beland.
Sommige van die Haas se Gat gaste, soos Dean Smith, Martelize Brink, Henriëtta Gryffenberg en Johan Stemmet.
Haas se Gat begin op Saterdag 17 Oktober om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Ekstra episodes kan op YouTube gekyk word. Die program sal ook as podsendings op RSG beskikbaar wees.
Lees ook: Twintig kokke vier Suid-Afrika se koserfenis in Kokkedoor: Klassiek | rooi rose




