Uitgereik deur kykNET
kykNET se geliefde koswerklikheidsreeks keer terug na sy wortels met Kokkedoor: Klassiek, waarin tien onthoukokke en tien kinkelkokke hul kragte saamspan om tradisionele kos ’n nuwe baadjie te gee. Die reeks van 13 episodes begin op 5 November op kykNET.
Ná Kokkedoor: Vuur & vlam en Kokkedoor: Son & see is die oorspronklike formaat weer aan die beurt, met R1 miljoen en die gesogte Goue Haan-trofee op die spel.
Herman Lensing en Jess van Dyk staan aan die stuur van sake in die Kokkedoor-kombuis.
“Ons koserfenis is ’n ryk skatkis van onthouresepte en stories wat jy nêrens anders in die wêreld kry soos hier in Suid-Afrika nie,” sê Herman.
“Met Kokkedoor: Klassiek wil ons dáárdie stories en resepte van nuuts af vier.”
Jess, hoofsjef en eienaar van die Post & Pepper-restaurant in Stellenbosch, sien veral uit na die familieresepte en praktiese kennis wat die kokke saambring.
“Ons wil al die getroue familieresepte, kitswenke wat werk en onweerstaanbare lekkernye sien en dan ook terselfdertyd by elke deelnemer leer,” sê Jess.
“Dit is bietjie van die oud gemeng met bietjie van die nuut.”
Die 20 deelnemers bring uiteenlopende lewensverhale, beroepe en kombuis-ervaring saam. Die groep wissel in ouderdom van 24 tot 67 jaar.
Die kinkelkokke Douglas Botha van Wellington en Mishka Brink van die Paarl is albei 24 en die jongste deelnemers. Die oudste is die 67-jarige onthoukok Jeanette Relling van Mbombela (Nelspruit).
Van rekenmeesters en ’n onderwyseres tot bakkers, spyseniers en professionele sjefs – dié kokke deel ’n liefde vir kos en die mense en herinneringe wat daarmee saamgaan.
Elke span bestaan uit ’n onthoukok en ’n kinkelkok.
Die onthoukok bring kennis van tradisionele kos, familieresepte en die praktiese wysheid van jare agter die kospotte. Formele sjefsopleiding is nie ’n vereiste nie. ’n Passie vir onthoukos en ervaring is wat tel.
Die kinkelkok gebruik ’n sjefskwalifikasie of professionele kombuis-ervaring om bekende geregte met tegniek en verbeelding op vars maniere te herinterpreteer.
Saam moet hulle die balans tussen tradisie en vernuwing vind, sonder dat ’n gereg se karakter verlore gaan. Luister, idees uitruil en mekaar se sterk punte benut, sal net so belangrik wees soos geur en aanbieding.
Vir kykers bied dit ’n kans om die stories agter die resepte te ontdek en te sien hoe twee verskillende benaderings mekaar kan aanvul.
Die tien onthoukokke is:
- Milandré Braaf (31) van Groblershoop, Noord-Kaap
- Stephanie Grobbelaar (46) van Centurion, Gauteng
- Dewald Herbst (36) van Robertson, Wes-Kaap
- Ansebé Pieterse (61) van Montagu, Wes-Kaap
- Barbara Kemp (61) van George, Wes-Kaap
- George von Berg (35) van Pretoria, Gauteng
- Diana Bibbey (53) van Thabazimbi, Limpopo, oorspronklik van Verkykerskop, Vrystaat
- Elsie Botha (57) van Struisbaai, Wes-Kaap
- Chanél Cloete (27) van Jeffreysbaai, Oos-Kaap
- Jeanette Relling (67) van Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga
Die tien kinkelkokke is:
- Kheenan Douman (36) van Elsiesrivier, Kaapstad, Wes-Kaap
- Ruan Swanepoel (27) van Table View, Kaapstad, Wes-Kaap
- Douglas Botha (24) van Wellington, Wes-Kaap
- Hanroe Erasmus (45) van Secunda, Mpumalanga
- Mishka Brink (24) van die Paarl, Wes-Kaap
- Karen du Plessis (60) van Swellendam, Wes-Kaap
- Maradine Whitehorn (44) van Fourways, Johannesburg, Gauteng
- Zani Bormann (44) van Linden, Johannesburg, Gauteng
- Janie Lottering (36) van Gqeberha, Oos-Kaap
- Paul Theron (44) van Durban, KwaZulu-Natal
Agter dié name skuil drome wat lank gekoester is en nuwe beginne.
Jeanette het tot die sluitingsdag gewag voordat sy haar inskrywing ingedien het.
Stephanie wil ná die sluiting van haar restaurant weer selfvertroue in die kombuis vind, terwyl Chanél deur kos haar verbintenis met haar oorlede pa koester. Kheenan het hom van skoonmaker tot sjef opgewerk, en Mishka het chemiese ingenieurswese vir ’n loopbaan in die kombuis verruil.
Van bredies en brood tot terte, poedings en souskluitjies: Kokkedoor: Klassiek vier die geliefde geure wat mense al geslagte lank om ’n tafel bymekaarbring. Met twintig persoonlikhede in die kombuis en ’n groot prys op die spel wag ’n seisoen waarin koserfenis, vaardigheid en samewerking op elke bord ontmoet.

Die deelnemers van Kokkedoor: Klassiek wat 5 November op kykNET begin.

Kokkedoor: Klassiek se aanbieders Jess van Dyk en Herman Lensing. Foto: Gys Loubser
Kokkedoor: Klassiek begin Donderdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
