Verskaf deur VIA
Daar is ’n hele klomp vars Afrikaanse TV-inhoud in Oktober op VIA.
Neels van Jaarsveld keer terug met ’n derde seisoen van Ons gesels troeteldiere. Daar is kombuiskuiers met Aneeka Papier en vars kookinspirasie deur Herman Lensing. In die vierde seisoen van Aneeka se kombuis kuier die Springbok Courtnall Skosan en sy vrou, Semonein, onder meer in haar kombuis, terwyl Herman se halfuur kykers met maklike resepte en slim idees vir aandete help.
Jong talent kry intussen ’n kans om te skitter in Gekies vir die kollig!, waar agt kunstenaars met die hulp van vier mentors oorspronklike monoloë vir die kamera laat lewe kry.
Vir dié wat die pad wil vat, is daar die nuwe reisreeks Die beste in die noorde wat bestemmings soos Dullstroom, Sabie en Tzaneen ontdek.
Hier is waarna kykers dié Oktober op VIA kan uitsien.
Aneeka se kombuis
Seisoen vier van Aneeka se kombuis bedien ’n geurige mengsel van bekende gaste, kreatiewe disse en lekker kuier.
Aneeka verwelkom dié seisoen ’n uiteenlopende groep gaste in haar kombuis, onder wie die fopdosser Manila von Teez, kulkunstenaar en sosialemediapersoonlikheid Wian van den Berg, en oorlewingsinstrukteur Clarise du Plessis.
Die vierde seisoen begin op 5 Oktober en word Maandae om 17:30 uitgesaai.

Aneeka se kombuis bedien ’n geurige mengsel van bekende gaste, kreatiewe disse en lekker kuier. Foto: VIA
Herman se halfuur
Sedert Julie deel Herman Lensing saam met Food Lover’s Market drie dae per week praktiese kookinspirasie op VIA met Herman se halfuur. In Oktober hou Herman steeds die pot aan die kook met drie resepte per episode – van vinnige weeksaandetes tot iets besonders.
Verwag goeie bestanddele, slim idees en heerlike kos sonder onnodige ingewikkeldheid.
Dié reeks word Dinsdae tot Donderdae om 17:30 uitgesaai.

In Oktober hou Herman steeds die pot aan die kook in ‘Herman se halfuur’ met drie resepte per episode – van vinnige weeksaandetes tot iets besonders. Foto: VIA
Gekies vir die kollig!
Agt jong kunstenaars, vier mentors en een groot kans om hul talent te wys: Gekies vir die kollig! keer terug vir ’n sesde seisoen saam met die ATKV-DigiToneelkompetisie.
Vanjaar se tema, “Asem”, daag deelnemers uit om oorspronklike monoloë te skryf en met sterk spel vir die kamera lewe daaraan te gee. Die mentors Bianca Flanders, Jacques Bessenger, Karli Heine en Liezl de Kock help die finaliste om hul kameravaardighede te slyp en vir die eindronde voor te berei.
Die reeks begin op 6 Oktober en word Dinsdae om 20:30 uitgesaai.

Gekies vir die kollig! keer terug vir ’n sesde seisoen saam met die ATKV-DigiToneelkompetisie. Foto: VIA
Ons gesels troeteldiere
Van ’n aangenome hond wat nuwe hoop bring tot ’n skaaphond wat aan soek-en-reddings-werk deelneem: die derde seisoen van Ons gesels troeteldiere vier die besonderse band tussen mense en hul diere.
Neels van Jaarsveld kuier in Oktober saam met Lindzay Jade Naidoo en Coco, Jackie Taylor en haar Somali-katte, Marcelle du Plessis en haar aangenome hond Poppy, en Vicki Fox en die veelsydige skaaphond Cobalt.
Die derde seisoen, in samewerking met Dotsure, begin op 8 Oktober en word Donderdae om 18:00 uitgesaai.

Die derde seisoen van Ons gesels troeteldiere vier die besonderse band tussen mense en hul diere. Foto: VIA
Die beste in die noorde
In die nuwe reisprogram Die beste in die noorde verken VIA van die oulikste uithoeke in die noorde van die land.
Die reis sluit plekke soos Mbombela, Dullstroom, Sabie, Pelgrimsrus, Hoedspruit en Tzaneen in. Van die Sudwala-grotte en Chimp Eden tot plaaslike eet-, koffie- en verblyfplekke bied dié roete genoeg idees vir kykers wat hul volgende wegbreek wil beplan.
Die nuwe reeks begin op 21 Oktober en word Woensdae om 18:00 uitgesaai.

In die nuwe reisprogram Die beste in die noorde verken VIA van die oulikste uithoeke in die noorde van die land. Foto: VIA
Huisgenoot: Ware lewensdramas
Huisgenoot: Ware lewensdramas bereik in Oktober vanjaar ’n besonderse mylpaal met die begin van sy 20ste seisoen.
Die nuwe seisoen bring weer aangrypende ware stories na die skerm, waaronder die moorde op Hilary van Rooyen, Nadia Lotz, Cordelia Prinsloo en Franziska Blöchliger.
Met dié mylpaalseisoen kry kykers opnuut die geleentheid om die mense en gebeure agter die opskrifte van nader te leer ken.
Die 20ste seisoen begin op 26 Oktober om 20:00.
Nog meer om na uit te sien
Kykers kan ook die pad verder stap met reekse wat onlangs begin het, waaronder Dorpie-doenlys, Huis SOS, Keyter vir almal, Verander jou siening en Padel in die bloed.
Op die realiteitspyskaart is Hart op soek en Kom ons braai: Familie en vriende, terwyl daar ook nuwe episodes van die vasvraprogram Wie weet wat? is.
Al die programme is op VIA (DStv-kanaal 147) te sien, met heruitsendings deur die week. VIA is ook nou beskikbaar op DStv Starter, wat meer as 85 TV-kanale vanaf R99 per maand insluit
Besoek www.viatv.co.za vir die volledige uitsaaiskedule en meer inligting.
Lees ook: Diepe waters is terug! | rooi rose
