Deur Steenberg Farm en Maryke Roberts
Wat as “luuks” op vakansie nie ’n vyfsterhotel, ’n reuse-suite of ’n lang lys geriewe is nie, maar die gevoel dat jy uiteindelik kan asemhaal?
Welstandstoerisme is aan die groei, met reisigers wat al hoe meer vakansies kies wat hulle help om te ontlaai, te herlaai en weer met hulself en hul omgewing te verbind. Die Global Wellness Institute voorspel dat die wêreldwye welstandstoerismemark teen 2027 1,4 triljoen Amerikaanse dollar sal bereik, terwyl Deloitte berig dat 68% van luukse reisadviseurs ’n groeiende vraag na hoogs persoonlike reisplanne sien.
Maar welstand op vakansie lyk nie noodwendig soos ’n streng program van joga, meditasie en spa-behandelings nie. Dit kan net so goed ’n middag in die son, ’n wandeling deur die natuur of ’n lang, ononderbroke middagslapie wees.
Reisjoernalis Maryke Roberts het ’n paar plekke ontdek waar rus, natuur en sintuiglike ervarings deel van die verblyf word.
Beweeg stadiger
By Qwabi in die Waterberge begin die ervaring reeds met ’n handewasritueel en die geleentheid om jou eie kamergeur te kies en te meng. Dieselfde geur word later vir jou masseerolie gebruik. ’n Bad in ’n glashuis laat jou amper deel van die bos voel, terwyl ’n buitestort onder die sterre die natuur letterlik deel van die ervaring maak.
Die fokus is op ’n “stadige safari”, waar ’n gids jou nie net na die Groot Vyf neem nie, maar jou ook help om die kleiner plante, voëls en diere raak te sien. Ná donker word die naghemel deel van die avontuur, met gidse wat jou help om die sterre en konstellasies te ontdek.
Hierdie soort stadiger, meer bewuste reis is besig om ’n belangrike deel van welstandstoerisme te word. Die doel is nie om soveel as moontlik te doen nie, maar om werklik teenwoordig te wees.

Beweeg stadiger. Foto: Sttenberg Farm
Laat die spa na jou toe kom
By Nambiti Hills naby Ladysmith word welstand selfs persoonliker. Die spa-behandeling kom reguit na jou kamer toe, met musiek en geure om jou privaat ruimte in ’n rustige toevlugsoord te omskep.
Daarna kan jy in jou japon met ’n boek en ’n glas wyn by die venster sit, of in die groot bad met ’n uitsig oor die veld ontspan.
Dit is ’n ander manier om oor luuksheid te dink: nie noodwendig méér nie, maar ’n ervaring wat by jou behoeftes en jou tempo aangepas is.
Voed jou liggaam én jou sintuie
By Creation se Voormanshuis in die Hemel-en-Aarde-vallei word welstand deur kos, natuur, kuns en sintuiglike ervarings benader. Gaste kan die landgoed se seisoenale, wetenskaplik-gebaseerde welstandspyskaarte geniet, tussen die wingerde stap of fietsry, voëls by die dam dophou en die kunswandelpad verken.
Selfs die wynproeë word ’n sintuiglike ervaring, met musiek, klank en essensiële olies wat gebruik word om die smaaksintuie te versterk. Het jy byvoorbeeld al met ’n skulp teen jou oor wyn geproe?

Voed jou liggaam en jou sintuie. Foto: Steenberg Farm
Die natuur is deel van die behandeling
By De Wildeveldt buite Darling begin die uitnodiging om te rus reeds voordat jy aankom. ’n Verwelkomingsboodskap op WhatsApp moedig jou aan om jou stapskoene en sonhoed in te pak, jou foon af te skakel en na die natuur te luister.
Handgemaakte produkte, natuurlike materiale en groot skuifdeure wat na buite oopmaak, versterk die gevoel dat die natuur deel van die verblyf is. Die fokus is op biophilia – die mens se ingebore behoefte om met die natuur te verbind.
Jy kan stap of fietsry, voëls dophou of bloot op die stoep sit met ’n glas plaaslike wyn. Soggens word plaaseiers, suurdeegbrood en plaasheuning by jou deur afgelewer.
By Singita kry welstand weer ’n kreatiewe en meditatiewe dimensie. Jogamatte, suurlemoenwater, sketspapier en potlode wag in die kamer, terwyl gidse stilte-wandelings aanbied waarin gaste aangemoedig word om al vyf sintuie te gebruik.
Selfs op wildritte word die stilte beskerm: Gidse gebruik oorfone eerder as radio’s sodat die geluide van die veld nie verdring word nie.
Dalk is dit uiteindelik waarna ons op ’n welstandsreis soek: nie nóg iets om te doen nie, maar die ruimte om net te wees.
Die nuwe luukse dalk dan juis ’n vakansie wat jou nie uitgeput huis toe stuur nie, maar jou weer soos jouself laat voel.

Die natuur is deel van die behandeling. Foto: Steenberg Farm
