Deur Mariette Snyman
Opgewonde, omgekrap, trots, jaloers, kalm, verleë, woedend, salig, onseker … Ons ervaar daagliks ‘n wye spektrum van emosies en is geneig om ons lewensgehalte aan die gevoelens wat ons ervaar te meet.
Is jy op goeie voet met jou emosies of word jy, soos baie van ons, by tye eenvoudig meegesleur? Doen jy jou bes om jou gevoelens te ignoreer, of steek jy hulle dalk weg?
Om gebalanseerd met jou emosies om te gaan, veral in ons samelewing wat rasionele denke vooropstel, is ‘n uitdaging. Sodra ons egter begryp hoe ons emosies ontstaan, hoe- kom dit nodig is om aangename en onaangename emosies bestaansreg te gee en hoe ons ons emosies kan beheer, raak dit makliker. Boonop kan ons aanleer om positiewe gevoelens langer te geniet en negatiewe gevoelens vinniger te laat gaan.
Emosies het ‘n doel, skryf emosionele intelligensie-spesialiste dr Ronél le Roux en dr Rina De Klerk-Weyer in hul insiggewende boek, True Self; True Connections: “Gevoelens kan ons motiveer en tot aksie aanspoor, of dit nou jou passie is vir ‘n saak, of frustrasie wat jou noop om iets omtrent ‘n situasie te doen.
“Daarby is elke emosie ‘n wekroep wat jou aandag op iets belangriks wil vestig. Dit verskaf waardevolle inligting oor ons begeertes, vrese en behoeftes. Om negatiewe gevoelens sonder meer te onderdruk, is allermins in ons beste belang, terwyl insig in die wereld van emosies wat tot aanvaarding lei jou lewensgehalte beduidend kan verbeter.”
Hoe ontstaan jou emosies?
Navorsing toon dat ‘n komplekse chemiese proses plaasvind wanneer jy emosies ervaar. Dit gebeur nie net in jou kop nie, maar betrek jou hele liggaam, verduidelik dr Rina en dr Ronel in True Self; True Connections.
Hoewel daar verskeie ingewikkelde teorieë is wat verklaar hoe emosies ontstaan, lui een eenvoudiger teorie só:
- Jou sintuie — sig, gehoor, reuk, smaak en aanraking — tel inligting op.
- Die inligting word op ‘n onderbewuste vlak geïnterpreteer ten opsigte van jou denkpatrone, vorige ervarings, waardes of behoeftes, asook ander faktore.
- Jy ervaar sekere fisieke simptome.
- Jy raak bewus van die simptome en gee dit ‘n naam.
- Jy kies hoe jy gaan optree, verbaal of nieverbaal.
Stap 1 tot 3 gebeur outomaties en die hele proses neem meestal so lank as wat dit neem om jou vingers te klap. Die neokorteks en limbiese stelsel sowel as die endokriene, senuwee- en immuunstelsel is hierby betrokke, wat verklaar hoekom jou hele liggaam deur die proses beïnvloed word.
Gevoelens wat nie volledig ervaar en aanvaar word nie, verdwyn nie net nie. Hierdie onverwerkte emosies kan onder meer tot die volgende lei:
- Fisieke toestande en simptome soos maagpyn, migraine, rugpyn, stywe nek, maagsere, gereelde verkoues, asma, slapeloosheid, selfs kanker en gewasse, onder meer omdat dit ‘n negatiewe impak op jou immuunstelsel het.
- Kompulsiewe gedrag soos rook, die misbruik van alkohol of dwelms, oorwerk, ooreet, te veel oefening, probleemdobbel, voortdurende sosialisering en ander tipes obsessiewe gedrag.
- Passiewe pleks van selfgeldende gedrag, deur byvoorbeeld niks te doen of te sê wanneer jy moet nie, wat tot depressie of oorreaksies kan lei.
- Onvanpaste rasionalisering van situasies, apatie, ontkenning, verlies aan kontak met die werklikheid of die uitdeel van blaam; kortom, die verlies aan die motivering en energie om daadwerklik op te tree.

Hierdie onverwerkte emosies kan tot migraine lei. Foto: Andrea Piacquadio, Pexels
Kan jy jou emosies beheer?
Sommige emosionele reaksies, soos veg of vlug, word outomaties geaktiveer as gevolg van geheue wat gestoor is, skryf drs Ronél en Rina. Hoewel hierdie proses nie altyd bewustelik plaasvind nie, het jy ‘n keuse oor hoe jy die betrokke inligting interpreteer.
Die manier waarop jy bewustelik en onbewustelik oor die omstandighede dink, bepaal grootliks hoe jy daaroor voel.
Ons kan ons gevoelens bestuur deur ons interpretasie van die inligting en ons gevolglike reaksie of merkbare gedrag te beheer. Sodra jy logies daaroor dink, reageer jy nie impulsief nie; jy kies jou sienswyse.
As jy byvoorbeeld mense met baie selfvertroue as vol van hulself sien, kan jy jou oogpunt verander en aan hulle begin dink as mense wat hard gewerk het om te kom waar hulle is. Dit sal tot positiewer gevoelens lei.
Bepaal ander mense die emosies wat jy ervaar?
Nee, beklemtoon drs Rina en Ronél. “Niemand kan jou iets laat voel nie, want jou gevoelens word deur jóú behoeftes en denkpatrone geskep. Jy kan nie vir iemand sê: ‘Jy maak my kwaad’ nie. Wanneer jy glo dat ander jou ‘n sekere gevoel ‘laat’ voel, gee jy hulle beheer oor jou emosionele toestand en kan jy nie beter voel voor hulle nie hul gedrag verander nie.
“As dit nie gebeur nie, gaan jy nooit beter voel nie. Jy moet jou eie poppemeester wees!”
Daarom moet jy beheer oor jou gevoelens hê. Dit is ook van toepassing op jou reaksie op die gevoelens. Ander het net ‘n invloed tot die mate wat jy dit toelaat.”
Die rol van behoeftes en denkpatrone
Emosies word dikwels gesneller wanneer ons behoeftes — insluitend sekuriteit, outonomie en erkenning — bevredig of gedwarsboom word. Ons waardes, naamlik ons diepgewortelde oortuigings oor wat belangrik en betekenisvol is, speel ‘n deurslaggewende rol in hoe ons sekere ervarings interpreteer.
Gestel jy heg baie waarde aan vriendskap. Jou gepaardgaande emosionele behoefte is sosialisering. As dit vervul word, voel jy gelukkig. Indien nie, voel jy eensaam.
Ons denkpatrone, byvoorbeeld vooroordele, outomatiese gedagtes en interpretasies van gebeure, bepaal grootliks hoe ons situasies waarneem en emosies genereer.
Positiewe, gebalanseerde denkpatrone gee aanleiding tot positiewe gevoelens. Negatiewe denkpatrone kan tot gevoelens van angs, hartseer of woede lei.
As jy byvoorbeeld ‘n begrafnis bywoon en dink dat die oorledene nou van swaarkry en pyn verlos is, voel jy dalk hartseer, maar ook verlig. As jy dink jy kán nie sonder die persoon leef nie, voel jy verpletter.
Ongemaklike gevoelens soos frustrasie kan jou inspireer om aan onvervulde behoeftes te voldoen en dalk nuwe hoogtes te bereik.
Selfs al kan jy nie al jou behoeftes vervul nie, kan jy steeds kies hoe jy daaroor dink en so die intensiteit van onaangename gevoelens verminder.
“Emosionele bewustheid kan die sleutel tot diepgaande persoonlike transformasie wees,” skryf drs Ronel en Rina. “Om ons emosies as ‘n inherente deel van menswees te aanvaar, bevorder egtheid en deernis vir onsself — en verryk ons verhoudings met ander.”
Lees ook: Egskeiding hoef jou nie te breek nie: 10 wenke | rooi rose
