“Terwyl mans hul borskankerreis navigeer, kan verstandige keuses rakende dieet en leefstyl hul fisieke en emosionele welstand ‘n hupstoot gee, hul immuunstelsel versterk en hul algehele lewensgehalte verbeter,” sê Anita Hamilton-Williams, ‘n funksionele medisyne-gesondheidsafrigter en Nutrigenomics-praktisyn van Johannesburg.
Die doel van die detoksifikasieprosesse in die liggaam – waarin die lewer ‘n hoofrol speel – is om ons DNS te beskerm. “Ons liggame is gerat om chemikalieë en ander gifstowwe uit die omgewing teen te werk, asook om interne toksines – wat byvoorbeeld tydens die metabolisering van estrogeen of stresshormone kan vorm – doeltreffend te hanteer,” sê Anita.
“Wanneer die gifstoflading egter te groot raak, kan dit die DNS beskadig. DNS-skade word met kanker verbind. Dis waarom die regte voedingsstowwe ‘n beduidende verskil kan maak en ‘n pasiënt se detox pathways ‘n hupstoot kan gee.”
Anita se ses leefstylwenke:
- Sekere kossoorte bevat gifstofbinders, sulforafaanvoorlopers wat beskermende gene aanskakel, en B-vitamiene wat die ontgifting van hormone ondersteun. Sluit daagliks twee tot drie porsies van die kossoorte in. Hierdie voedingstowwe kan gevind word in broccoli, kool, roket, mosterdsaad, peulgewasse, neute, sade en Matcha-groentee.
- Eet daagliks drie tot vier porsies kos wat ryk is aan sink, magnesium, vitamien D en karotenoïede. Kies skulpvis, oesters, eiers, sampioene, sade, donkergroen blaargroentes, pampoen, pluimvee, beesvleis en lam. Hierdie kosse sal die liggaam tydens behandeling ondersteun en die metabolisme van testosteroon, androgene en skildklierfunksie aanhelp.
- Sluit daagliks een tot twee porsies shiitakesampioene, kruisblommige groente (cruciferous vegetables, soos blomkool, broccoli, radyse, Brusselse spruitjies, bok choy en waterkers), vlassaad, bessies, vetterige vis wat wild gevang is, kaneel en borrie in. Hierdie kossoorte bied anti-inflammatoriese voordele en bevat antioksidante, asook belangrike voedingstowwe soos sink, vitamien D en omega 3.
- Elimineer verwerkte voedsel, suiker en alkohol – hierdie kossoorte verhoog bloedglukosevlakke. Dit kan ook testosteroonvlakke verlaag en ‘n nadelige uitwerking hê op aromatisering of aromatisation, ‘n proses waartydens testosteroon in estrogeen omgeskakel kan word. Hierdie omskakeling, wat gewoonlik in vetselle plaasvind, help om hormonale balans te handhaaf, maar kan wanbalanse veroorsaak as dit handuit ruk.
- Bestee drie tot vier sessies per week aan kardiovaskulêre, krag- en kondisioneringsoefeninge, aangesien hierdie soort oefening die produksie van testosteroon ondersteun.
- Prioritiseer stresbestuur, ‘n rustige nagrus, ‘n gebalanseerde sirkadiese ritme (die liggaam se natuurlike slaaphorlosie) en slaaphigiëne om testosteroonbalans en -welstand te ondersteun.
Anita Hamilton-Williams: www.myhealingspace.co.za
Lees ook: Ja, mans kry ook borskanker | rooi rose
