Deur Mariette Snyman
Sodra die mense om jou pienk strikkies begin dra, weet jy dis Oktober: borskankerbewustheidsmaand. Die tradisionele beskouing van pienk as ‘n “vroulike” kleur vervaag toenemend, en tog vereenselwig baie van ons borskanker steeds uitsluitlik met vroue. Ons word immers herhaaldelik aan die noodsaak van gereelde selfondersoeksessies en mammogramme herinner en op sosiale media kom ons talle borskankerveldtogte teë.
Aan die ander kant praat ons selde oor borskanker onder mans. Miskien is dit omdat relatief min mans dit kry. Ken jy byvoorbeeld ‘n man wat borskanker het of gehad het?
“Tydens my 28 jaar by ‘n privaat praktyk het ek dit nog net by twee mans gesien,” sê dr Louis Hugo, ‘n algemene praktisyn van Bloemfontein. “Hoewel borskanker by een uit 27 vroue wêreldwyd voorkom, is die leeftydrisiko onder mans baie minder: een uit 943.”
Hy sê die wanopvatting dat borskanker slegs by vroue voorkom, word weerspieël in die beperkte beskikbare inligting oor onder meer die risikofaktore en simptome van borskanker by mans. Verder is daar min ondersteuning of steungroepe hiervoor beskikbaar.
“Oënskynlik kleef daar ‘n stigma aan die siekte. Mans mag as ‘minder manlik’ beskou word as hulle met ‘n ‘vrouesiekte’ gediagnoseer word en praat gevolglik nie maklik daaroor nie. Die angs en vrees wat met hierdie diagnose gepaardgaan – ook wat die impak op familielede betref – plaas ‘n verdere demper op openlike kommunikasie,” verduidelik dr Louis.
Mans, sê hy, word gewoonlik in ‘n latere stadium van die siekte gediagnoseer, deels omdat hulle hul simptome ignoreer of dink dat dit nie kwaadaardig kan wees nie. “Die gevolg is ‘n hoër sterftesyfer as onder vroue. Die waarskynlikheid dat borskanker by mans ondergediagnoseer of ondergerapporteer word, is groot,” sê dr Louis.
“Daar is geen klinkklare bewyse dat borskanker onder mans in ‘n groter mate toeneem as dié onder vroue nie. Daar kan wel geredeneer word dat faktore, soos die verouderende bevolking of leefstylverskynsels soos verminderde fisieke aktiwiteit en meer oorgewig, alkohol- en tabakgebruik tot ‘n hoër voorkoms van borskanker by mans kan bydra.”
Simptome en risikofaktore
Dr Louis sit die verskillende soorte borskanker wat by mans voorkom as volg uiteen: “Die algemeenste tipe is infiltrerende buiskarsinoom. Lobulêre kankers of kankers van die melkkliere is baie skaars, want manlike borsweefsel bevat gewoonlik nie melkkliere nie. Cystosarcoma phyl- lodes en Paget se siekte van die bors kom ook voor, maar is baie skaars by mans.
Ouderdom is ‘n groot risikofaktor, sê hy. “Ons sien die meeste gevalle in die ouderdomsgroep van 60 tot 70 jaar. Onthou net: borskanker by mans kan op énige ouderdom voorkom.”
Wanneer moet jy dokter toe gaan?
Dr Louis antwoord:
- ‘n Knop of verdikking in die borsweefsel.
- Verandering rakende die tepel: Kleurverandering, intrekking van die tepel, of afskilfering, veral as dit rooi en sensitief is.
- Enige verandering in die vorm van die bors, of vergroting van die een bors.
- Velverandering: Die vel van die bors kan ‘n lemoenskilagtige voorkoms kry, met ander woorde verdikking en klein duikies.
- Tasbare limfnodes onder die arm – nuwe “knoppe” wat in die oksels gevoel kan word, veral as dit nie pynlik is nie.
- Pyn en ongemak, hoewel dit een van die skaarsste tekens is.
Bewustheid van die simptome is deurslaggewend. “Ouers kan gerus met hul seuns hieroor praat; oop kommunikasie is belangrik. Rondom puberteit kry baie seuns ginekomastie of stoneus. Dit is borsweefselswelling wat deur ‘n hormoonwanbalans veroorsaak word. Dit skep ‘n goeie geleentheid om borskanker te bespreek,” sê dr Louis.

Die tradisionele beskouing van pienk as ‘n “vroulike” kleur vervaag toenemend, en tog vereenselwig baie van ons borskanker steeds uitsluitlik met vroue. Foto: Tara Winstead, Pexels
Wat is die oorsake van borskanker by mans?
“Ons is nog nie 100% seker nie. Die risikofaktore waarvan ons wel weet, is toenemende ouderdom, lewersiekte, oorgewig en alkoholmisbruik. ‘n Geskiedenis van bestraling vir byvoorbeeld ander vorms van kanker verhoog ook die risiko,” meen dr Louis.
Verder is daar genetiese komponente soos BRCA2-mutasies, asook sekere toestande wat testisfunksie inhibeer. Borskanker by vroue het ‘n sterk genetiese komponent, en vroue met borskanker in die familie moet gereeld ‘n mammogram ondergaan.
Op die vraag of mans met borskanker in die familie hulle ook kan laat toets, sê dr Louis: “Mammogramme word nie as ‘n roetinetoets aan mans gebied nie. Hierdie toets kan moeilik wees om uit te voer wanneer daar slegs ‘n klein hoeveelheid borsweefsel is. Daar is genetiese toetse wat sekere mutasies kan uitwys, maar na my mening is dit nie sinvol nie. Die uitkoms gaan nie veel meer insiggewend wees as ‘n familiegeskiedenis nie.”
Dr Louis meen ‘n mens gaan verder kom deur mans deeglik in te lig. Hulle moet besef dat hulle, nes vroue, die risiko loop om borskanker te kry en moet sonder uitsondering ‘n afspraak by hul geneesheer maak as ‘n borsnodule gevoel word, veral as dit net aan die een kant van die liggaam voorkom.
Diagnose en behandeling
Borskanker by mans kan gediagnoseer word met die hulp van ‘n fisieke ondersoek of deur ‘n mammogram aan te vra. ‘n Ander moontlikheid is ‘n ultraklankskandering of sonar.
As ‘n klinkklare antwoord nie verkry kan word nie, kan ‘n MRI-skandering ingespan en of ‘n borsbiopsie gedoen word. Die kankermerkers CA15.3, CA27.29 en CEA kan ‘n aanduiding gee, hoewel hierdie toetse nie diagnosties gebruik word nie, maar eerder om die kanker op te volg. “Die verloop van die siekte,” sê dr Louis, “word grootliks beïnvloed deur hoe vroeg die kanker ontdek word. Aanvanklik kry ‘n mens lokale verspreiding. Later versprei dit na die limfnodes en nog later kan dit na die lewer, longe, brein of ander organe metastaseer.”

Bewustheid van die simptome van borskanker is deurslaggewend. Foto: National Cancer Institute, Pexels
Wat behels die behandeling?
Daar word eerstens bepaal of hormoonreseptore, soos estrogeen- of progesteroon-reseptore, by die spesifieke tipe kanker betrokke is. Indien wel, kan hormoononderdrukkingsterapie gebruik word om die kanker se groei te onderdruk of om dit te genees.
“As reseptore nie teenwoordig is nie, is chemoterapie, bestraling en natuurlik chirurgiese verwydering van die tumor die aangewese roete,” sê dr Louis. Mense met reseptor-positiewe kanker kan ook chemoterapie en/of bestraling kry, afhangende van die soort kanker, die graad daarvan en of dit aggressief of beter gedifferensieer is.
“Goed gedifferensieerde kankerselle is geneig om stadiger te groei en te versprei as swak gedifferensieerde of ongedifferensieerde kankerselle.
“Nes vroue met borskanker het mans met borskanker ondersteuning nodig,” beklemtoon dr Louis. “Sover my kennis strek, is daar nie ondersteuningsgroepe vir hierdie mans nie en ek betwyfel dit dat mans by steungroepe vir vroue sal inskakel.”
Die paar ondersteuningsopsies waarvan dr Louis kennis dra, is:
- The Cancer Association of South Africa (CANSA): The Cancer Association of South Africa – | CANSA – The Cancer Association of South Africa
- Cancer Support Community: Education, Advocacy, Research
- American Cancer Society: End Cancer As We Know It | American Cancer Society
- Plaaslike hospitale en kankersentrums kan moontlik ondersteuningsgroepe vir mans met borskanker bied of dalk inligting oor ander hulpbronne in die gemeenskap verskaf.
