Deur Maretha Botes
Eers was Swart Vrydag slegs ’n een-dag-winskopiefees om wilde winskopies los te slaan. Toe raak dit ’n week. Deesdae is die hele November aan spesiale aanbiedinge gewy wat in baie gevalle nie so spesiaal is nie en jou eintlik ’n kat in die sak kan laat koop. Dhashni Naidoo, die verbruikeropvoedingsprogrambestuurder by FNB, verduidelik hoe jy kan verseker dat Swart November jou nie voor die feestyd in skuld dompel nie.
Watter lokvalle moet ‘n mens vermy as jy in Swart November-winskopies soek?
Moenie in die versoeking kom om spesiale aanbiedinge wat slegs ’n beperkte tyd (soos ’n dag of week) geld, te koop nie. Dit lei dikwels tot impuls-aankope en jy koop goedere wat nie werklik noemenswaardig afgemerk is nie.
Vermy ook om op skuld te koop; jy wil nie skuld maak om ’n winskopie aan te skaf nie. Bestudeer die teruggee- en omruilbeleid deeglik voordat jy iets koop, veral wanneer dit by groot elektroniese ware kom.
Moet ek vir Swart November begroot?
Ja, absoluut! Begin deur ’n lys te maak van artikels wat jy graag wil aankoop. Doen nou ’n beraming deur die gewone pryse van die artikels te vergelyk met dit wat dit tydens Swart November kos.
Nou kan jy sien of jy werklik ’n winskoop kry, of nie. Stel jou begroting op en begin spaar. Sit die geld in ’n spaarrekening sodat dit rente kan verdien.
Watter wenke het jy om in Swart November wys te spandeer?
- Doen jou navorsing vroegtydig sodat jy weet wat die goedere se werklike prys is en of jy ’n winskoop kry of nie.
- Hou by jou begroting en moenie in die versoeking kom om meer te spandeer nie.
- Moenie impulsief koop nie. Maak ’n lys van goed wat jy regtig wil hê of nodig het. Vermy dit om deur bemarkingsveldtogte en advertensies opgesweep te raak.
- Moenie koop voordat jy nie goedere en pryse by verskillende handelaars vergelyk het nie. Vergelyk pryse op die dag om die beste winskopies te kry.
Is dit wys om my kredietkaart vir winskopies te gebruik?
Gebruik jy jou kredietkaart om spesiale aanbiedinge te koop, betaal jy op die duur meer vir die artikels. Kredietkaarte, as dit nie ten volle betaal word nie, bou rente op.
Uiteindelik betaal jy meer as die uitverkopingprys. Kubermisdaad bly ’n realiteit en jy moet altyd hiervan bewus bly, hetsy jy in die winkel of aanlyn koop. Loer gerus op www.sabric.co.za na die verskillende tipes kubermisdaad wat plaasvind en hoe jy jouself en jou kredietkaart veilig kan hou.
Wanneer is dit werklik ’n winskopie?
As jy jou navorsing vooraf doen, sal jy weet of iets werklik teen ’n laer prys verkoop word. Die afslag moet noemenswaardig wees. Iets wat 10% goedkoper is, is nie werklik ‘n winskoop nie. Hou in gedagte dat Swart November nie die enigste uitverkoping is nie.
Soms kry ’n mens beter aanbiedinge by uitverkopings aan die einde van ’n seisoen of kort na Kersfees. Hou regdeur die jaar jou oë vir dié spesiale aanbiedinge oop.
Lees ook: Praat oor geld | rooi rose
