rooi rose November 2026
Magda sê sy besef hoe bevoorreg sy was om deur haar studies vroeg aan finansiële konsepte blootgestel te word. Volgens haar kry baie Suid-Afrikaners nooit ’n behoorlike grondslag in finansiële geletterdheid of langtermynspaar nie. Haar raad is eenvoudig:
- Leef asof 20% van jou salaris nie bestaan nie. Laat dit direk na jou aftreefonds gaan en begroot met die res.
- Moenie gedurig na jou aftreefonds kyk nie. Die versoeking om dit vroeg te onttrek, is eenvoudig te groot.
- Belê vir die lang termyn. Kies ’n hoëgroeifonds met sterk aandeelblootstelling en gee jou geld tyd vir saamgestelde groei om sy werk te doen.
- Begin vroeg. Selfs klein maandelikse bydraes kan oor 30 jaar tot miljoene groei.
- Staan jou man in die werkplek. Vra vir bevordering op grond van jou prestasie en moenie huiwer om vir jouself op te staan nie.
- Gebruik KI tot jou voordeel. Vra ChatGPT totdat jy begrippe soos eenheidstrusts, uittreeannuïteite en indeksfondse verstaan. Gaan dan ingelig na ’n finansiële adviseur en vra kritiese vrae.
- As jy nie ’n inkomste verdien nie, bou steeds jou eie aftreespaargeld op. Vra vir ’n spaartoelaag en belê dit in ’n aftreefonds in jou eie naam – al beteken dit jy koop elke maand een rok minder.
- Neem beheer van jou eie finansiële toekoms. Moenie jou geldsake aan iemand anders oorlaat nie.
Die verskil tussen aktiewe en passiewe beleggings
Wanneer mense vir die eerste keer begin belê, maak hulle dikwels staat op die kundigheid van ’n finansiële adviseur. ’n Adviseur help jou om ’n beleggingsplan op te stel, jou risiko te bepaal en ’n portefeulje saam te stel wat by jou doelwitte pas. Sommige adviseurs beveel hoofsaaklik aktiewe beleggings aan, terwyl ander ook passiewe indeksfondse gebruik.
By aktiewe belegging probeer fondsbestuurders die mark klop deur spesifieke aandele te kies wat hulle glo beter as die res gaan presteer. Dit verg navorsing, ontleding en gereelde aanpassings aan die portefeulje, en daarom is die koste gewoonlik hoër.
By passiewe belegging, waarop Sygnia grootliks fokus, probeer jy nie voorspel watter maatskappye die beste gaan vaar nie. Jy belê eerder in ’n indeksfonds wat ’n hele “mandjie” aandele volg, soos die JSE Top 40 of die S&P 500. Soos Magda dit verduidelik: in plaas daarvan om op enkele maatskappye te wed, belê jy in die hele mark.
“Jy hoef nie ’n duur fondsbestuurder te betaal om voortdurend te besluit watter aandeel gekoop of verkoop moet word nie,” sê sy. “Jy koop die hele mandjie, belê gereeld en los dit dan uit.”
Omdat passiewe fondse nie duur navorsing en aktiewe bestuur vereis nie, is hul fooie gewoonlik aansienlik laer. Dit klink dalk na ’n klein verskil, maar oor twintig of dertig jaar kan selfs ’n persentasiepunt se verskil in koste – die EAC (Effective Annual Cost), wat al die jaarlikse beleggingsfooie soos bestuurs-, administrasie- en adviesfooie saamvat – ’n groot invloed op jou uiteindelike opbrengs hê. Hoe laer die koste, hoe meer van jou belegging se groei bly uiteindelik in jou eie sak.
Die debat tussen aktiewe en passiewe belegging duur egter steeds voort. Voorstanders van aktiewe bestuur meen ervare fondsbestuurders kan waarde toevoeg, veral in meer komplekse portefeuljes of wisselvallige markte. Voorstanders van passiewe belegging glo weer dat laer fooie en die langtermyngroei van die mark vir die meeste beleggers ’n eenvoudiger én dikwels meer doeltreffende benadering is.
Vir jongmense het sy ’n eenvoudige boodskap
“Verdomp, moenie bang wees vir enige werk nie. Enige werk.
“Moenie dink ’n werk is benede jou omdat jy ’n graad het nie. Aanvaar wat beskikbaar is en gebruik dit as ’n wegspringplek. Leer. Leer waar jy kan.
“In jou twintigerjare moet jy minder op geld fokus en meer op wat jy kan leer. As jy genoeg leer – oor finansies of enigiets anders waaraan jy blootgestel word – is dit wat jou later sal voorberei om geld te maak.
“Ek sien so baie mense wat ná twee jaar sê: ‘Ek wil meer geld hê.’ Ek wens hulle vra eerder: ‘Wat kan ek nog leer? Gee my meer verantwoordelikheid. Ek sal dieselfde salaris aanvaar, maar ek wil groei.’ Dít is hoe jy jouself vir die toekoms voorberei.”

Magda Wierzycka in Antarktika
Lees ook: Beplan jou boedel | rooi rose
