Wat gebeur as Suid-Afrikaanse mode en kreatiwiteit Indiese erfenis en vakmanskap ontmoet? Dit is die vraag wat sentraal staan in die jongste uitgawe van The Art of Collaboration, wat dié keer in Jaipur, Indië, afgespeel het.
Die Suid-Afrikaanse mediapersoonlikheid, model en voormalige Mej. Heelal Suid-Afrika Bryoni Govender is die muse van die 2026-projek, wat Suid-Afrikaanse mode, skoonheid, juweliersware en ontwerp met Jaipur se unieke argitektuur, tekstiele, kleur en eeue oue vakmanskap verweef.
The Art of Collaboration is die breinkind van die Suid-Afrikaanse ontwerper Stephen van Eeden. Die multidissiplinêre projek het sedert sy ontstaan in 2019 reeds New York, Kaapstad, Parys en Marrakesj besoek.
Die tema was dié keer “Heritage in Dialogue, Luxury Redefined” met Jaipur – die Pienk Stad – as veel meer as net die agtergrond vir die fotosessie en rolprent.
Die stad se paleise, argitektuur, markte, tekstiele, juweliersware en kleurryke alledaagse lewe het deel van die kreatiewe proses geword. Die doel was nie bloot om Suid-Afrikaanse handelsmerke in ’n eksotiese Indiese omgewing af te neem nie, maar om te kyk wat gebeur as kreatiewe mense hulle aan ’n ander kultuur blootstel en dit toelaat om hul werk te beïnvloed.
Vir Bryoni het die projek ook ’n persoonlike betekenis, want sy bring ’n eietydse Suid-Afrikaanse Indiese identiteit na die projek en vorm ’n skakel tussen die verskillende wêrelde van mode, skoonheid en gasvryheid.
Waar hoort ek?
Die tema van identiteit en behoort word verder verken in die moderolprent Where I Belong, onder leiding van die regisseur Paula Zapata, met Maropeng Vushangwe as kinematograaf.
Die fliek ondersoek wat dit beteken om jou identiteit saam met jou na ’n onbekende plek te neem – en hoe kontak met ander kulture ’n mens se begrip van jouself en waar jy hoort, kan verander.

Die projek strek oor verskeie kreatiewe gebiede, waaronder mode, skoonheid, juweliersware, parfuum en brilrame. Foto: Verskaf
Suid-Afrikaanse kreatiwiteit in Jaipur
’n Multidissiplinêre Suid-Afrikaanse span het saamgewerk.
Stephen van Eeden, stigter en kreatiewe direkteur van The Art of Collaboration en Stephen Van Eeden Atelier, was verantwoordelik vir die kreatiewe visie. Zapata het die rolprent geregisseer en Vushangwe het die kinematografie behartig.
Die mode- en leefstylfotograaf Christine le Roux het die stilfotografie behartig, terwyl Tanya Vos die grimering en Carissa Bosman die haarstilering in Jaipur behartig het. Marlene du Toit het as haarstilis by Lanzerac in Suid-Afrika bygedra.
Die span het ook Christiaan Mostert van Indirect Media as inhoudskepper, Mariken Jansen van Vuuren as handelsmerkstrateeg en Martinique Ferreira as digitale en sosiale media-strateeg ingesluit.
Die projek strek oor verskeie kreatiewe gebiede, waaronder mode, skoonheid, juweliersware, parfuum en brilrame, met handelsmerke soos Bellagio, Motherkind, Laud Beauty with WHAMISA, cosnova South Africa deur Catrice Cosmetics, Iconic Designs, N3YH, Cape Island, La Belle Mariée Bridal Couture, Shade & Co en Stephen Van Eeden Atelier.
Selfs gasvryheid het deel van die verhaal geword, met The Leela Palace Jaipur en Suid-Afrika se Lanzerac Hotel & Spa wat die twee bestemmings verbind.

Die Suid-Afrikaanse mediapersoonlikheid, model en voormalige Mej. Heelal Suid-Afrika Bryoni Govender is die muse van die 2026-projek, wat Suid-Afrikaanse mode, skoonheid, juweliersware en ontwerp met Jaipur se unieke argitektuur, tekstiele, kleur en eeue oue vakmanskap verweef. Foto: Verskaf
Die impak van die bestemming
Elke bestemming waar The Art of Collaboration al afgespeel het, het die projek op ’n ander manier beïnvloed.
Ná New York in 2019, Kaapstad in 2020, Parys in 2022 en Marrakesj in 2024 is Jaipur die vyfde bestemming.
Hierdie keer was die fokus op Indië se ryk tradisies van vakmanskap, versiering, tekstiele, juweliersware en argitektuur – en op hoe dié invloede moderne Suid-Afrikaanse kreatiwiteit beïnvloed.
Die Art of Collaboration 2026 Jaipur Edition is op 10 September bekendgestel. Die geleentheid het die première van die projekrolprent en dokumentêre lokprent ingesluit, asook ’n vertoning van die kreatiewe werk wat in Indië vervaardig is. Daar was benewens die aanbieding ook ’n paneelbespreking en uitstalling.
Hoewel die pragtige modefotografie en rolprent die sigbare resultaat van die Jaipur-reis is, gaan die projek uiteindelik oor iets groter: die mense, idees en kreatiewe verhoudings wat ontstaan wanneer verskillende wêrelde mekaar ontmoet.
Ná sewe jaar het The Art of Collaboration ’n internasionale platform geword waar verskillende kreatiewe dissiplines rondom ’n spesifieke bestemming en tema bymekaarkom.
En in Jaipur het Suid-Afrikaanse mode en kreatiwiteit vir ’n oomblik met die kleur, geskiedenis en vakmanskap van Indië vervleg – met Bryoni Govender in die middel daarvan.
Besoek www.artofcollaboration.co.za

En in Jaipur het Suid-Afrikaanse mode en kreatiwiteit vir ’n oomblik met die kleur, geskiedenis en vakmanskap van Indië vervleg. Foto: Verskaf
Lees ook: Kaapstad vier volhoubare mode met ‘Vintage with Love’ | rooi rose
