Uitgereik deur kykNET
Vanaand om 21:00 begin die splinternuwe Afrikaanse boekprogram Boekmerk op kykNET (DStv-kanaal 144).
In die 13-episode reeks ontmoet kykers van Suid-Afrika se bekendste skrywers, ontdek die verhale agter geliefde boeke en kry hulle ‘n nuwe blik op die krag van lees.
Digter, skrywer en aanbieder Danie Marais vertel meer oor die reeks:
1. Boekmerk plaas boeke en skrywers in die kollig. Hoekom is die program nou meer nodig as ooit tevore?
In ’n era waar algoritmes haat en polarisasie aanblaas op sosiale media en ander digitale platforms waar mense mekaar verskree, verteenwoordig boeke beskawing en nadenke. ’n Leeskultuur is die teengif vir onverdraagsaamheid. Boeke gee dieper begrip, empatie en nuanse. Soos Antjie Krog dit in die tweede episode van Boekmerk stel: “Ek is van niks sekerder nie as dat alles in my lewe wat waarde het, het ek deur letterkunde verdiep.”
Boeke verskaf ook groot plesier, broodnodige ontvlugting en oorrompel jou keer op keer met verwondering en skoonheid.
Ek is daarom ’n boek- en musiekmissionaris, en daar is niks lekkerder as om te werk aan ’n projek waarin jy glo nie.
2. Hoe verskil Boekmerk van ander programme wat oor boeke en kultuur handel?
Daar is tans geen ander Afrikaanse TV-program wat spesifiek op boeke en skrywers fokus nie. Joernaalprogramme wys nou en dan insetsels met skrywers, maar dis dikwels binne ’n leefstyl- of feeskonteks. Met Boekmerk wou ons ’n reeks maak waar boeke en skrywers die middelpunt is – nuwe stemme, gevestigde skrywers maar ook ouer letterkunde en kanonieke skrywers, waarvan verskeie nie meer met ons is nie. Ons wou ook die kollig op leeskringe en boekklubs laat val wat so belangrik vir ons skrywers en leeskultuur is.
In die eerste segment van elke episode ontmoet ons ’n skrywer wat ’n boek in die laaste jaar of twee die lig laat sien het. Ons het die net wyd gegooi om uiteenlopende werk in verskeie genres te dek.
In die tweede segment word die groot kanonne van ons letterkunde wat Rapport se lys van 100 beste Afrikaanse boeke gehaal het, gehuldig en herwaardeer. ’n Paneel van kundiges deel hul menings en kykers word op interessante argiefmateriaal trakteer. Hierdie deel van elke episode is soos ’n kort minidokumentêr oor ’n verskeidenheid skrywers en hul werk.
Die episodes eindig met ’n besoek aan ’n leeskring of boekklub wat dikwels ook ’n spesiale gasskrywer of bekende genooi het om oor ’n boek te gesels. Twee van die boekklubs het ons Boekmerk-span met skrywersbesoeke verras, en dit was heerlik om die skrywers en lede se opwinding te beleef.

Antjie Krog
3. Hoe het julle die boeke, skrywers en temas wat in die program bespreek word, gekies?
Ek, Wicus Pretorius (medevervaardiger, -navorser en -teksskrywer) en Marius van de Wall (regisseur, medevervaardiger en -navorser) het lank en intensief beplan aan die reeks. Ons was dit eens dat ons ’n balans wil vind tussen verskillende leesvoorkeure, deels ook om die groot diversiteit in ons boekbedryf te weerspieël.
En dan was dit vir ons belangrik om binne elke episode ’n verskeidenheid te bied wat sorg vir ’n goeie mengsel van pitkos en plesier.
Ons het dus gaan kyk watter boeke alles in die afgelope 18 tot 24 maande verskyn het en gesoek na gehalteboeke in verskillende genres met ’n ryk verskeidenheid van temas.
4. Is daar ’n onderhoud of boek in die reeks wat jou besonder verras of geraak het?
Die gesprek met Antjie Krog was, soos ek verwag het, ’n absolute voorreg. Sy is so diep menslik en bomenslik woordvaardig en intelligent tegelyk. Dit was wel vir my verrassend om haar en haar man, John, saam te sien wasgoed doen en sokkies vou.
Die besoek aan die Belhar-boekklub sal my ook bybly. Die warm ruimte wat daar vir boeke en skrywers geskep word deur toegewyde mense soos Sally Witbooi en Santel Smit, vervul ’n mens met hoop. Dit was ook spesiaal om daar met Theolla Langenhoven, inwoner van Belhar en lid van die klub, oor haar merkwaardige debuutroman, Soetroos van Saron, te gesels.
Maar daar is so baie ander: om met die sjef en skrywer Kobus van der Merwe by Wolfgat in Paternoster te gesels, Jaco Jacobs in Bloemfontein, Gaireyah Fredericks in ’n moskee na aan die huis waar haar ouers in die Paarl verskuif is, PJO Jonker op sy plaas buite Bonnievale, Max du Preez by sy nuwe blyplek in die Overberg, Bianca Flanders en Dean Balie in Woodstock, Rudie van Rensburg tuis in Welgemoed oor verlies, nuwe liefde, Kassie Kasselman en sy Hans-boeke – en dis maar om net ’n paar te noem.
5. Wat hoop jy sal jonger kykers uit Boekmerk put?
Ek hoop alle kykers gaan nuwe boeke ontdek en leeslus uit Boekmerk kry, maar dit sal vir my wonderlik wees as jonger kykers deur die tweede segment van die program oor die boeke en skrywers op die Rapport 100-lys oorreed word om ook van ons ouer, klassieke boeke te lees. Daar is soveel kragtige werke wat steeds relevant is en net wag om herontdek te word deur ’n nuwe generasie.
6. Wanneer kykers die eerste episode klaar gekyk het, wat hoop jy is die een ding wat hulle sal onthou?
In die eerste episode gesels Nataniël en twee ander medewerkers oor hul oorrompelende koffietafelboek Bloei + Blom, wat Afrikaanse baanbrekers van die afgelope eeu huldig. Dis ’n treffende en inspirerende herinnering aan wat ons klein gemeenskap hier aan die suidpunt van Afrika alles vermag het, en ek hoop dit maak kykers opgewonde om verder te deel in ’n verkenning en viering van ons woordkuns in die res van die reeks.
Ek vermoed hulle gaan ook met nuwe waardering na Dalene Matthee en die onvolprese baanbreker M.E.R. kyk en lus raak om weer een van hul boeke oop te slaan.
Boekmerk begin vanaand Woensdag 14 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Nataniël
Lees ook: Splinternuwe kykNET-reeks Boekmerk vier die krag van stories en lees | rooi rose
