Saamgestel deur Elna Rossouw

‘Op pad na ‘n klooster in die sneeu’ van Johannes de Villiers.
Danie Marais se commendatio
“Johannes de Villiers se debuutroman is ’n boek met ’n anderwêreldse, outydse sjarme. Die verlange na asketiese afsondering en heilige stilte, weg van die sinlose gespartel en gejaag na wind van die moderne wêreld, op soek na ’n ervaring van die goddelike, word hier met ’n groot klein boeiende verhaal verweef.
“Die roman lees soos ’n waarskuwing aan almal op soek na filosofiese kortpaaie en eenvoudige oplossings vir groot eksistensiële vraagstukke. Die kompleksiteit van ’n strewe na geestelike verheldering en die prys en bereidheid tot die uiterste wat dit kos, word uit verskeie perspektiewe belig en ook bevraagteken aan die hand van ronde, feilbare karakters wat elk op hul eie manier worstel met die lewe en hul geloof. Elkeen is op ’n pelgrimstog, maar hoe hard hulle ook al die self probeer aflê in ’n doelbewuste stropingsproses, hul ydelheid en begeertes reis saam.
“Die roman herinner, veral in die eerste helfte, aan die werk van Karel Schoeman – sowel in toon as tematiek; in die tweede helfte deels aan Ingrid Winterbach, maar baan selfversekerd sy eie weg na daardie ontwykende klooster in die sneeu – dikwels met meesleurende, liriese prosa.
“De Villiers skryf ’n wêreld oop waarmee die meeste Afrikaanse lesers nie vertroud sal wees nie en wat op die rand van verdwyning staan. Soos die naamlose verteller se oom Adelbert dit in ’n brief aan hom stel: ‘Dit was my voorreg om in die laatskemer van ’n kwynende wêreld te kon leef. Ek is net-net genoeg tyd op aarde gegun om deel te wees van ’n kultuur wat nou saam met my sterf. Ek was een van die laaste mense wat kloosters, heiliges, monnike, lewende wonderwerkers beleef het soos dit sedert die donker eeue bestaan, dinge waaroor mens in ’n paar jaar net in boeke sal kan lees’.
“Op pad na ‘n klooster in die sneeu verken die binnelewe van die soekende mens soos geen visuele kunsvorm kan nie en herinner jou watter sakrale, meditatiewe ruimte die katedraal van die letterkunde nog kan bied.”
- Die ander twee boeke in die topdrie vir dié skrywersprys was Die dood van Rachel April (Queillerie) geskryf deur PP Fourie, en Louis Pretorius se ‘n Jaar in my lewe (LAPA Uitgewers). Die dood van Rachel April is by dieselfde geleentheid met die Herman Binge-filmprys as die roman met die beste filmpotensiaal bekroon.
Vorige wenners
Nathan Trantaal wen verlede jaar die Jan Rabie-prys met sy grafiese roman, Die man wattie kinnes vang (Kwela). In 2024 stap Pieter Marais met sy Konkel (Protea Boekehuis) met die louere weg.

rooi rose Oktober 2026-voorblad
Die geskiedenis is vol stories
In ons Oktober-uitgawe vertel Irma Joubert, doyen van Afrikaanse historiese fiksie in “Lekker lees” dat sy eers ná haar aftrede as geskiedenis-onderwysers begin skryf het: “Skielik het ek niks meer om te doen” en “ek is nie baie goed met huishouding, tuinmaak, naaldwerk of so iets nie; toe begin ek maar skryf om besig te bly”. (En in die laaste 20 jaar skryf sy meer as 20 boeke!). Irma vertel ook wat die vonk vir haar nuwe boek, Rebekka van Kameeldoornplaas (LAPA-Uitgewers, R350) was en hoe haar skryfplek lyk.
- Irma Joubert
- Rebekka van Kameeldoornplaas
Lees ook: Splinternuwe kykNET-reeks Boekmerk vier die krag van stories en lees | rooi rose


