Deur Leandri Wahl
Ken jou feite
Meer mense hoe belangrik dit is om na ons planeet om te sien, en dit sluit die agteruitgang van die osoonlaag in. Die osoonlaag is die algemene begrip vir die konsentrasie osoon wat 15 km tot 30 km bo die aarde se oppervlak voorkom. Dit beskerm ons deur skadelike ultraviolet-B-strale (UVB) te absorbeer en as ‘n natuurlike “sonskerm” op te tree. Daarsonder sou die bestraling die aarde se oppervlak basies steriliseer, DNS-mutasies en stralingskade veroorsaak, en selfs diere en mense laat blind word.
As jy ‘n paar dekades na die jare vyftig toe kon teruggaan, sou jy gesien het dat mense toe nooit sonskerm gebruik het nie. Dis ‘n gedagte wat die meeste van ons nou sal laat ril, maar die werklikheid is dat die osoonlaag destyds sy werk kon doen. Met die vinnige afname in die doeltreffendheid van die osoonlaag, kan ons nie meer bekostig om nie sonskerm te dra nie, en ons kan dit beslis nie net in die somer gebruik nie.
Ken jou veltipe
Dit is belangrik om te weet of jy ‘n droë, sensitiewe of olierige veltipe het om jou daaglikse produkte reg te kies, maar het jy al van die Fitzpatrick-skaal gehoor?
Om jou veltipe volgens hierdie skaal te ken, sal jou help om te verstaan en dus jou vel beter te kan beskerm wanneer jy sonblootstelling gaan ervaar:
Tipe 1-2 | Baie bleek vel, blou of groen oë, baie blonde of rooi hare. Hierdie veltipe brand maklik en word selde (of nooit) bruin. Rooiheid begin binne vyf tot tien minute na sonblootstelling wys.
Tipe 3 | Effens donkerder vel, donkerder blonde of ligbruin hare en bruin oë. Hierdie tipe brand maklik, maar kan ietwat van ‘n bruin kleur ontwikkel.
Tipe 4 | Donkerder vel met ‘n “natuurlike” bruin-gebrande voorkoms en olyfkleurige ondertoon, donker hare en donker oë. Hierdie tipe kan langer aan die son blootgestel word sonder om te brand en verbruin maklik binne 20 tot 30 minute van sonblootstelling.
Tipe 5 | Donker olyfkleurige- en bruin vel met donker hare en donker oë. Hierdie tipe verbruin maklik na 30 tot 35 minute onbeskermd in die son, en brand selde.
Tipe 6 | Die donkerste veltipes met ryk, sjokoladebruin en swart ondertone. Hierdie tipe brand amper nooit en verbruin maklik binne 30 tot 40 minute in die son. Tipes 5 en 6 moet ekstra versigtig wees om hulself te beskerm, veral omdat hulle nie so vinnig sal “brand” nie en dalk nie die skade opmerk totdat dit te laat is nie.

‘n Tipe 1-2 vel brand maklik en word selde (of nooit) bruin. Foto: RDNE, Pexels
Het jy geweet: UVB-strale is verantwoordelik vir sonbrand en kwaadaardige melanome, terwyl UVA-strale die vel dieper binnedring en voortydige velveroudering en plooie (fotoveroudering) vorm. Dink aan UVB vir brand en UVA vir veroudering.
Moenie van jou hare vergeet nie
Hoewel ons in die somer minder geneig is om ons hare droog te blaas en te stileer, word dit steeds aan skade blootgestel. Seewater skep daardie perfekte deurmekaar voorkoms en word vir ‘n rede “beach waves” genoem. Dit droog wel jou hare uit en haal noodsaaklike vog in ons hare uit. Jy kan die effek teenwerk deur jou hare na ‘n swemsessie in die see of swembad deeglik met skoon water uit te spoel en dit met ‘n herstellende sjampoe en ligte opknapper te was.
Voordat jy vir ‘n dag op die strand ontspan, spuit jou hare met ‘n UV-beskermende sproei (soos Moroccanoil Protect & Prevent Spray R625, ARC) om jou hare teen die son te beskerm, asook om gekleurde hare varser te hou. Jy kan ook ‘n inlaat-opknapper in jou hare inwerk en dit dan in ‘n los bolla, poniestert of vlegsel stileer. Maar as jy steeds die tekstuurvoorkoms sonder die sand wil hê, sal ‘n krulroom jou hare natuurlik in die soutlug laat vorm aanneem, terwyl dit kroeserigheid (frizz) weghou en beskerming teen droogheid bied.

Hoewel ons in die somer minder geneig is om ons hare droog te blaas en te stileer, word dit steeds aan skade blootgestel. Foto: Polina Tankilevitch, Pexels
Sorg ná die son
In die somer is ons geneig om meer te sweet, meer sonroom aan te smeer en om winterformules vir ligter alternatiewe te ruil. Met die lug wat nou bietjie vogtiger is, is veerligte teksture soos jels en ligte rome meer geskik vir die hitte as dik rome en botters. Dit geld ook vir ons reinigers – kop tot tone. Kies vars jels en ligte, melkerige formules om van enige oortollige produkte ontslae te raak sonder om jou van noodsaaklike vog te stroop.
Lees ook: Sonslim met sonskerm | rooi rose
