Uitgereik deur kykNET
Sy, die meeue en die Heilige Gees, ’n mini-dramareeks van drie episode, vertel die verhaal van Ingrid en haar sesjarige dogter, Zoey, wat verhuis na Vishoek. Die laaste episode wys vanaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Chanél Muller is die skrywer, regisseur en vervaardiger van die reeks.
Sy het ’n paar vrae beantwoord oor die reeks:
Waar het die oorspronklike idee vir die reeks ontstaan?
Om ’n ma te word was aanvanklik vir my ’n baie groot uitdaging. Dit was iets waarop ek net nie ’n greep kon kry nie, totdat ek later – met baie genade – ontdek het dat dit eerder iets is om te laat gaan en nie te probeer vashou nie. Ek wou perfek wees, die regte dinge doen, die regte dinge sê, maar ek het heeltyd gevoel ek kom kort. Totdat ek geleer het (natuurlik ook met die wysheid van my man, Len) dat om ’n ouer te wees daaroor gaan om op te daag. Jy hoef nie perfek te wees nie, jy moet net dáár wees.
Ek is geseënd om omring te wees deur ’n liefdevolle, ondersteunende man, ouers en ’n gemeenskap, en ek het myself afgevra: Hoe vind jy jou eie identiteit in moederskap as jy nié daardie netwerk het nie? As jy alleen is. As daar nie iemand is om die las saam met jou te dra as die druk te veel raak nie.
Parallel hieraan, was my ervaring met my eie geloofspad. Ek het nog altyd ’n baie intieme, persoonlike verhouding met die Here gehad, en ek het nog nooit daardie verhouding op skerm, veral in ons taal, gesien nie. Dit was nog altyd net baie styf en saaklik – en as ek so ver mag gaan om te sê: kerklik. Ek wou dus graag ’n storie vertel oor die God wat ek ken, wat sagmoedig en nederig van hart is, wat in liefde en omgee omgaan met sy kinders en wat ons altyd sal opsoek; ons altyd sal aanhou romance.
Hoeveel van Ingrid is gegrond op werklike mense of ervarings?
Ingrid is gegrond op ’n wye kombinasie van vroue wat al oor my pad gekom het, vrae wat ek al self gevra het, en vroue wat ek al gesien het wat deur moeilike dinge in die lewe moes werk. Ek dink daar is ’n stukkie van elkeen van ons in Ingrid en vice versa.
Waarom was dit belangrik om geloof op hierdie manier uit te beeld?
Ek wou graag ’n storie vertel oor iemand wat die Here ontmoet of ontdek – nie al lank ken nie. Daar is ’n bitter groot verskil.
God is nie net in die kerk nie. Hy is teenwoordig in die alledaagse goed waarmee ons onsself besig hou. Ja, dis soms in ’n mooi sonsondergang, maar die Here is dikwels meer in die stiltes. In die regtige, morsige, selfsugtige dele van onsself. Dit was vir my belangrik dat dit alles baie subtiel en saggies ingeweef moes word in Ingrid se storielyn. God word nooit “aangekondig” nie. Hy is net heeltyd daar. Ingrid ontdek die Here self en kies Hom uiteindelik self – nie omdat iemand vir haar gesê het sy móét nie. Soos wat sy leer dat om ’n goeie ouer te wees net beteken om op te daag, leer sy ook uiteindelik dat om Hom te ken, is net om bereidwillig te wees.
Bybelverse en prekerigheid word so dikwels in ons kele afgedruk, en dit beteken niks sonder konteks nie. Wat van die ongemaklike vrae? Die vrae wat soveel van ons te skaam is om hardop te vra? Hoeveel mense is daar buite wat dalk wonder oor Hom? Wat êrens in hul lewe al seergekry het in ’n kerk, of seergemaak is deur ander Christene deur die klippe wat na hulle kant toe gegooi is as gevolg van hul keuses, of oor hoe hulle hul lewens lei – en dan maak daardie mense die deur heeltemal bot toe. Waar is die stories vir daardie mense?
Dit was vir my belangrik dat God se hart vir elkeen van ons in die storie deurkom. Hy wil net hê dat ons naby Hom moet wees. Al vloek ons. Al lyk ons lewens nie heilig nie. Hy het nog nooit van enige van ons verwag om perfek te wees om by Hom te wees nie. Ons kan kom soos ons is.
Wat beteken die titel vir jou?
“Sy” verwys na Ingrid en haar ontdekkingsreis. “Die meeue” is die gemeenskap om Ingrid – die verskillende vroue op haar pad wat haar omring en ondersteun. En dan natuurlik is “die Heilige Gees” die teenwoordigheid van God wat ons almal daagliks volg. Al glo sommige van ons dit nie, dit is daar.
Wat hoop jy kykers ontdek oor hulself deur Ingrid se reis?
My hoop is dat hulle nie hulself deur Ingrid se reis sal ontdek nie, maar vir Hom.
Watter toneel is die naaste aan jou hart?
Vir seker die toneel in episode twee by Kalkbaai se hawe waar Ingrid na die branders kyk wat so ongelooflik groot en kragtig oor die kaai breek. Dit is haar eerste, werklik intieme ontmoeting met die Here. Die beelde is so mooi, en die pragtige stuk musiek wat Richard Onraet vir daardie toneel geskryf het, sal altyd na aan my hart wees. Ek weet ook dat daardie spesifieke oomblik vir Simoné [Pretorius] baie persoonlik en roerend was, en daarom sal ek dit altyd met my saamdra.
Wat was die grootste uitdaging om ’n storie te skryf oor iemand wat uiteindelik ’n ontmoeting met die Here het en die besluit neem om Hom te begin volg?
Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik. Wat dit natuurlik ’n groot uitdaging maak – want hoe wys jy iemand se gedagtes en vrae oor die Here as hulle dit nie hardop sê nie? Hoe wys jy hoe die Heilige Gees besig is om in iemand se lewe te werk?
Vir my het die antwoord gelê in die vrugte van die Gees wat uiteindelik deel vorm van haar karakterreis: hoe sy geduldiger word, vriendeliker word, selfbeheersing uitoefen, vrede en liefde vind en die heel belangrikste, genade aanvaar. Om dit te kon doen, moes sy natuurlik aan die begin van die reeks die teenoorgestelde hiervan wees.
Daarmee saam: Hoe kry jy iemand in die kerk, wat nie noodwendig ooit in ’n kerk sou opeindig nie, of sou kies om self daarheen te gaan nie? Die antwoord: Jy bring die idee van kerk, wat eintlik net ’n gemeenskap van gelowiges is, na haar toe – daarom al die vroue wat rondom haar “kerk” word sonder dat sy dit weet.
Wat het Simoné Pretorius so besonders na die rol gebring?
Ek en Simoné stap al ’n baie lang pad, en om ná tien jaar uiteindelik die voorreg te kon hê om in hierdie kapasiteit saam te werk was die grootste geskenk. Simoné het my van dag een af 100% vertrou, en dit is wat dit so besonders maak. Die feit dat sy soveel van haar eie self kant toe kon skuif om in die binnekant van Ingrid te klim is wat hierdie proses so besonders gemaak het. Ek weet ook dat die tema en inhoud vir haar net so belangrik is, en daarom het sy dit met oorgawe aangepak.
Ek wil ook net welverdiende krediet en erkenning vir Mila-Sofi Clasen gee. Sy is ’n ongelooflike, natuurlike aktrise. Sy het soveel lewe in Zoey geblaas deur die mens wat sy is, en ek sal haar ewig dankbaar wees dat sy deel was van hierdie proses.

Simoné Pretorius, Chanél Muller en Mila-Sofi Clasen. Foto: kykNET
Wat wil jy hê kykers moet saamneem wanneer die reeks eindig?
Aan die einde van episode drie, net voor die eindkrediete rol, is daar ’n boodskap.
Sy, die meeue en die Heilige Gees se laaste episode wys vanaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.








