‘n Gesinsuitstappie het die afgelope Saterdag (25 Julie) in ‘n tragedie geëindig toe ‘n ma van Robertson langs die sportveld, waar haar tiener-dogter nog minute vroeër aan ‘n netbalwedstryd deelgeneem het, aan ‘n hartaanval gesterf het.
Stefanus Arends (50), ‘n polisiesersant, vertel aan Standard Breederivier Gazette hy, sy vrou, Annewin (39), en hul driejarige dogter, Nazli, het Saterdag na Bonnievale gereis om hul ander dogter, Azyliah (16), se netbalwedstryd op die sportgronde van Jakes Gerwel Tegnies by te woon.
Azyliah is ‘n leerder aan die Langeberg Senior Sekondêre Skool in Robertson.
Blakend gesond
Stefanus sê die oggend voordat hulle na Bonnievale vertrek het, het sy vrou nog blakend gesond gelyk. Volgens hom het sy nie van enigiets gekla nie.
“Ons wou elke netbalwedstryd van ons dogter bywoon om haar te ondersteun. My vrou was só – as ons op pad was iewers heen en sy voel nie lekker nie, dan gaan ons nêrens.”
Stefanus sê toe hulle in Bonnievale aankom, het hulle op die pawiljoen gaan sit. Volgens hom het Annewin in ‘n stadium vir hom gesê sy gaan gou ‘n sigaret rook. Hy sê sy het opgestaan en ‘n ent verder gaan staan om te rook. Volgens Stefanus het sy vrou, terwyl sy staan en rook het, vir Nazli gestuur om sy selfoon by hom te kry omdat sy altyd video’s van Azyliah se netbalwedstryde maak.
“Toe my vrou na ‘n rukkie terugkeer pawiljoen toe, toe sê sy vir my sy voel nie lekker nie. Ek kon sien haar oë is diep in haar kop en sy was onvas op haar voete. Ek het vir haar gesê om langs my te sit, want ek kon sien sy is nie lekker nie.
“Sy het skielik my hand vasgegryp. Sy het terselfdertyd ‘n vriendin van ons, wat aan die anderkant langs haar op die pawiljoen gesit het, se hand ook gegryp.

Ek kon duidelik sien my vrou is nie haarself nie en dat iets fout is met haar.”
Volgens Stefanus het hy opgestaan om sy motor nader te trek, want hy wou sy vrou dokter toe neem. Hy sê hy het vir Azyliah van die veld af geroep om na haar ma toe te kom. Die netbalwedstryd is onmiddellik gestaak.
Stefanus sê toe hy met die motor terugkeer, het hy gesien mediese personeel wat op die sportveld diens doen, was besig om hartmassering (CPR) op sy vrou toe te pas. Volgens hom was sy kinders teenwoordig.
Hy sê terwyl paramedici met sy vrou besig was, het hulle hom aangeraai om eerder die kinders weg te neem. Volgens Stefanus was Azyliah “histeries”. Sy en Nazli het toe ‘n ent verder gaan sit.
Paramedici probeer als
“Die paramedikus in beheer van die ER [mediese diens] het alles probeer om my vrou aan die lewe te hou. Haar oë het doodstil in haar kop gestaan.
“Toe ek my vrou daar sien lê, kon ek eintlik niks doen nie.
“Ek was hulpeloos.
“Na aanleiding van die simptome wat my vrou langs die sportveld getoon het, kon ek sien daar is nie eintlik hoop nie.
“Terwyl paramedici met haar gewerk het, het ek aan haar been gevat en vir haar gesê: ‘Annewin, kom nou, my vrou. Jy kan my nie hier los nie. Ons moet saam huis toe’. Sy het nie reageer nie.”
Volgens Stefanus het mediese personeel hom ‘n uur later die skoknuus gegee dat Annewin oorlede is.
“Ek het na my kinders gestap, hulle albei vasgehou en gesê: ‘Mammie is nie meer met ons nie’. Volgens hom het Azyliah summier in trane uitgebars. Toe ons terugry huis toe, toe vra Nazli: ‘Waar is mammie dan? In watter kar ry mammie dan nou?’ ”
Volgens Stefanus is reelings vir berading reeds getref.
Stefanus bedank die mediese personeel en ‘n verpleegster, wat die wedstryd as ‘n toeskouer bygewoon het, vir hul hulp en bystand.
‘n Roudiens vir Annewin word vanaand (30 Julie) in die Emmanuel Pinksterkerk in Robertson gehou.
Annewin se begrafnisdiens is Saterdag (1 Augustus) om 09:00 by Rositastraat 48, Panorama, in Robertson, en om 10:00 by die Emmanuel Pinksterkerk.



