UPINGTON – Munisipaliteite stort rou riool in riviere sonder om te traak dat die water laer af vir huishoudelike gebruik onttrek word. Geen oë word meer gerek oor plastieksakke wat in strate rondwaai of talle slaggate nie.
Nêrens gaan rooi ligte af as 80 mense met maagprobleme weens waterbesoedeling by die Harrie Surtie-hospitaal in Upington opdaag en kinders aan diarree doodgaan nie.
Hoewel ‘n donker prentjie oor die aarde se gesondheid heers, kan vooruitsigte verbeter indien mense by organisasies betrokke raak. Hulle moet vir ‘n regering stem wat werklik vir die voortbestaan van fauna en flora, en mensegesondheid omgee.
Só sê Fritz Bekker, uitvoerende direkteur van Gariep Watch. Hy sê ‘n regering wat nie meer vir die omgewing en die mense omgee nie, is die grootste bedreiging vir omgewingsgesondheid.
“Mense moet by organisasies soos ons aansluit, Hulle moet betrokke raak by veral plaaslike politiek om te verseker dat ‘n regering verkies word wat vir die mens en die natuur omgee.”
Gariep Watch is ‘n nie-regeringsorganisasie wat poog om aanvaarbare watergehalte in die laer Vaal- en Oranjerivier te verseker deur gereelde watergehaltemonitering te doen.
“Ons ekonomiese groei wat reeds uiters traag is, word ook benadeel deur die swak gehalte van ons water. Geen nywerheidsektor, soos die myn- en landboubedryf, kan gedy as watergehalte swak is nie.”
Met sy jarelange navorsing, ook op die Oranjerivier, het hy bevind waterhulpbronne “gaan met rasse skrede agteruit”.
“Self in standhoudende riviere maak die swak gehalte dit ongeskik vir menslike gebruik en om mense se ekonomiese bedrywighede te onderhou. Rioolbesoedeling is die grootste probleem met patogene organismes wat deur die rivierstelsels na waterverbruikers versprei word.
“Hierdie mikrobiologiese besmetting behels skadelike mikrobes wat bakterieë, virusse, parasiete en swamme insluit. Die grond word ook deur besmette besproeiingswater besoedel, wat nitrate en stikstof bevat wat gevaarlik is vir menslike gesondheid en akwatiese ekosisteme.”
Omgewingswetgewing word nie afgedwing
Hy sê die regering is die grootste besoedelaar en die oorsaak van probleme omdat omgewingswetgewing nie afgedwing word nie.
Die staat se enorme salarisrekening wat jaarliks meer as die inflasiesyfer groei, veroorsaak dat min geld oorbly vir navorsing, instandhouding en modernisering.
Kaderontplooiing het veroorsaak dat amptenare met institusionele kennis vervang is met onbeholpe amptenare. Selfs al is daar bevoegde amptenare in diens, is daar nie geld oor vir hulle om hul werk behoorlik te kan doen nie.
“Die situasie kan net verander as daar burgerlike herlewing plaasvind en kiesers besef hul regering gee nie meer om nie. Hulle moet uit verantwoordelikheid teenoor hulself ‘n regeringsverandering meebring,” sê Bekker.




