photo of a bird flying under blue sky
Ter illustrasie Credit: Ravish Maqsood / pexels.com

Julius Koen is besorg oor veral roofvoëlvrektes by son-en windkragaanlegte. ‘n Onlangse verslag van BirdLife Suid-Afrika (SA) toon dat by agt windkragplase in die Fynbos-, Grasveld- en Nama-Karoo-biome waar die witkruis-arend voorkom, 46 vrektes was weens botsings met die turbines.

Van die ander is deur elektriese skokke dood weens vermoedelik swak ontwerpte interne kraglyne.

Koen, valkenier van Kimberley wat beseerde roofvoëls onder ‘n permit rehabiliteer, was vroeër ‘n waarnemende departementshoof van die Noord-Kaapse departement van natuurbewaring.

Hy sê ander bedreigde en krities bedreigde spesies word ook geraak.

Julius Koen
Julius Koen met een van die swerfvalke wat sy vlerkvere by ‘n sonkragplaas afgeskroei het. Hy is een van die gelukkiges wat oorleef het en wat deur Koen onder permit gerehabiliteer word. Foto: Charné Kemp

” ‘n Hele bevolking van die hoogs bedreigde voëlspesies kan in ‘n omgewing uitgewis wees. Ek het twee swerfvalke ontvang wat van gekonsentreerde sonkragkragaanlegte in Upington en Postmasburg kom. Die voëls se vlerkvere is deur die hitte afgeskroei.

“Hulle kan nie vlieg nie totdat hulle eers later vanjaar verveer en die nuwe vere teen April uitgegroei het. Hulle is die gelukkiges wat oorleef het.”

Hy sê daar is waarskynlik meer voëlvrektes en beserings by groenkragaanlegte, wat nie opgemerk en aangeteken word nie. Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe en Birdlife SA doen baie navorsing en werk saam met groenkragaanlegte vir oplossings.

“Daar is pogings om voëlvrektes hier te bekamp. Een plan is om die lemme in kleure te verf sodat dit meer sigbaar is. Op ander plekke word mense aange-stel om voëlbewegings te moniteer en die turbines af te skakel as daar groot swerms in die omgewing is.”

Vir bykans vier dekades ‘n valkenier

As valkenier gaan Koen drie dae per week veld toe om met sy jagarend en Harris-valk wat hy onder permit aanhou, te jag. Sy jaghonde jaag die tarentale op, waarna die valk of arend daarop afpyl en dit vang.

Sy liefde vir roofvoëls kom van kinderdae. Hy is bykans 40 jaar ‘n heeltydse valkenier. Ná sy aftrede in 2012 het hy meer tyd om by roofvoëlbewaring en -navorsing betrokke te wees. Koen is die enigste valkenier in die Noord-Kaap en hoop dat jong mense ook dié liefde vir roofvoëls sal aankweek.

“Mense het betreurenswaardig nie meer aanvoeling vir die natuur nie. ‘n Mens hoop dat die ouer geslag boere, wat probleemdiere vergiftig het, minder word. Dit is so dat sommige jong boere wat geld uit wind- en sonkragaanlegte op hul plase wil maak, bang is dat die geleentheid verlore gaan weens broeiende roofvoëls op hul plase.”

Indien omgewingsimpakstudies toon dat bedreigde diere op die plaas is, is goedkeuring vir die aanlegte moeilik.

“Ons hoor stories van boere wat arende en aasvoëls uitskiet, of jong kuikens uit neste haal in hoop dat die ouers die pad vat.

“Ek het al twee jong roofarendkuikens gekry wat kastig uit ‘n nes geval het waar kameeldorings ontbos is om plek te maak vir aartappellande, maar al hul bene en vlerke was gebreek.”

Hy sê sakemanne en boere moet te midde van uitbreiding verantwoordelik wees oor skade aan fauna en flora.

Boere maak soms die verkeerde afleiding oor arende wat op lammerkarkasse sit deur te dink die arend het die lammer gevang. Die arende word dan geskiet.

Wil jeug graag betrek

Koen bied inligtingspraatjies by skole, die Northern Cape Nature Academy en die Jagtersvereniging aan jonger lede.

“Ons hoor terugvoering van jong mense wat dit baie geniet en iets oor die natuur geleer het.”

Hy en Brian Culver, geesdriftige voëlkyker, was die eerste om die swartsperwerneste in Nieuwoudtville aan te teken. Die voëls het oorspronklik net aan die ooskus in woude voorgekom. Hulle het verder die binneland in versprei saam met mensgemaakte plantasies.

“Ons weet ook van neste by Jacobsdal in die Vrystaat, en soek aanhoudend langs die Riet- en Vaalrivier vir neste in denne- of bloekombome, wat die eerste noord van die Oranjerivier sal wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025