Die Richtersveld woestyn- botaniese tuin, met kwekery, wat in die Richtersveld-oorgrenspark geopen is, is daarop gemik om die unieke inheemse plante van die Noord-Kaap te bewaar.
Die stroping van die inheemse en bedreigde flora in dié gebied neem toe en die plante word veral na Europa en die Ooste gesmokkel.
Genevieve Maasdorp, kommunikasiebeampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) in die Noord-Kaap, sê die kwekery by die Sendelingsdrif-ruskamp verkoop die plantspesies wat gereeld gestroop en gesmokkel word. Die beskikbaarheid van die plantspesies op die mark sal die stroop van die plante verminder, en hopelik selfs tot ’n einde bring.

Plante wat by stropers afgeneem word, word ook aan deur die kwekery herplant.
Die kwekery ,wat meer as 1 000 m² groot is, is oop vir besoekers en kan sewe dae per week van 08:00 tot 18:00 besoek word.
Botaniese tuin enigste in bergwoestynbioom
Dié botaniese tuin, die eerste en enigste in die land wat die flora binne die bergwoestynbioom van Suid-Afrika verteenwoordig, is deur Pieter van Wyk, ’n plantkundige van Sanparke, en sy span tot stand gebring.
Dit bestaan uit 24 beddings, elk met ’n unieke tema.

Kweekhuis bewaarplek vir bedreigde plantspesies
’n Kweekhuis is hier met befondsing van die Wêreldnatuurfonds (WWF) opgerig, en is ’n bewaarplek vir die hoogsbedreigde plantspesies van die omgewing.
Volgens die WWF sal die kweekhuis as ’n genebank vir die plantspesies dien wat deur stroping, klimaatsverandering, mynbou en oorbeweiding bedreig word. Die kweekhuis, ongeveer so groot soos ’n tennisbaan, is gebou en ingerig om ’n gunstige klimaat vir dié spesies te skep.
Opgeleide personeel sien na die plante om en van dit sal per geleentheid na ander botaniese tuine vir langtermynbewaring versend word.
Intussen is honderde bedreigde plantspesies reeds in die kweekhuis gevestig. Vier hiervan is vermoedelik in ’n natuurlike habitat uitgewis weens stroping en klimaatsverandering. Boonop is meer as 40 spesies wat in die kweekhuis gevestig is, eers onlangs ontdek, aldus die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi).

Richtersveld rykste aan vetplante
Die Richtersveld is die ligging in die wêreld wat die rykste is aan vetplante en die oorgrenspark wat in 1991 proklameer is, beslaan ’n unieke landskap in Suid-Afrika en Namibië. ’n Deel van die park is in 2007 as ’n wêrelderfenisgebied verklaar.
Meer as 50 van die bedreigde plantspesies van die Richtersveld se saad is na die Millennium Seed Bank vir bewaring in sy saadkelders versend. Dié ondergrondse kelders by die Kew- botaniese tuin in Engeland bevat meer as 2,4 biljoen sade van oor die wêreld heen.
Die botaniese tuin en kwekery is ’n vennootskap tussen Sanparke en Sanbi en fokus onder meer op die bevordering van navorsing, inheemse plantversamelings en -bestuur, kwekerybestuur, lae-onderhoud landskap van die tuine van die Sendelingsdrif-ruskamp, die deel van inligting en die bevordering van kennis van die plantegroei en gepaardgaande wild.
Volgens Sanbi het botaniese tuine ’n unieke rol in bewaring. Kenmerke en take van so ’n tuin sluit onder meer in: die etikettering van plante; kommunikasie van inligting aan ander tuine, instellings, organisasies en die publiek; uitruil van sade of ander materiaal met ander botaniese tuine, arboreta of navorsingstasies; langtermyn verbintenis tot en verantwoordelikheid vir die instandhouding van plantversamelings en navorsingsprogramme; en die behoorlike dokumentering van die versamelings.
Vir meer inligting, besoek die |Ai-|Ais/Richtersveld Transfrontier Park op sanparks.org of op Facebook, of skakel 027-831-1506.






