KLAWER | VREDENDAL – Herstelwerk aan vloedbeskadigde dele van die MR547 tussen Klawer en Vredendal is afgehandel, terwyl werk aan twee brûe en verwante paaie voortduur as deel van ’n Wes-Kaapse regeringsprojek van R88,6 miljoen.
Die projek volg op die ernstige vloede in Mei vanjaar en is daarop gemik om beskadigde infrastruktuur te herstel wat gemeenskappe verbind en die vervoer van mense en goedere ondersteun.

Ongeveer 50% van die padwerk en herstel van beskadigde dienste op die TR16/01 tussen Vredendal en Vanrhynsdorp is afgehandel. Die projek sluit ook die herstel van die grondwalle by brug B2491A in. Herstelwerk aan die brug self sal na verwagting vroeg in 2027 begin. Verkeersreëlings is intussen in plek gesit.
By brug B3200A naby Klawer aan die MR547 is die herstel van die oostelike brugsteun 60% afgehandel, terwyl werk aan die westelike steun 10% voltooi is. Padwerk en erosiebeskerming aan die oostekant sal daarna volg.
Hoewel die herstelwerk aan die geïdentifiseerde vloedbeskadigde dele van die MR547 afgehandel is, word ’n bykomende gedeelte ondersoek om die toestand daarvan te bepaal en vas te stel of verdere herstelwerk nodig is.

Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, sê vloedskade ontwrig die daaglikse lewe en plaas druk op gemeenskappe en ondernemings wat van dié roetes afhanklik is. “Hierdie belegging van R88,6 miljoen help ons om beskadigde paaie en brûe te herstel en die verbindings waarop ons gemeenskappe staatmaak, te beskerm,” sê Simmers.
Hy bedank inwoners en motoriste vir hul geduld terwyl die werk voortduur, asook die konstruksiespanne vir hul pogings.

Motoriste word versoek om tydelike padtekens en die instruksies van verkeersbeamptes by konstruksiegebiede te gehoorsaam.



