AfriForum se Munisipale Vullisterreinouditverslag vir 2026 toon dat die Wes-Kaap die beste van die land se provinsies presteer, met die Vredenburg-vullisterrein van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) onder die land se topterreine. Nasionaal het slegs 30 van die 132 vullisterreine en oorlaaistasies, wat in die eerste kwartaal geoudit is, die oudit geslaag. Dit beteken 23% het minstens 80% behaal, teenoor 22% in 2025. Die nasionale gemiddelde nakomingspunt het van 42% tot 47% verbeter.
Meer as driekwart van die terreine voldoen egter steeds nie aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nie. Die Wes-Kaap het met 14 van 26 terreine, wat die oudit geslaag het, ‘n slaagsyfer van 54% behaal. Die provinsie se gemiddelde nakomingspunt was 66%. Vredenburg het oor die afgelope vier jaar telkens die 80%-slaagdrempel oorskry, met 94% in 2023, 100% in 2024, 100% in 2025 en 96% in 2026.
Die Langebaan-oorlaaistasie het ook sterk presteer, met 100 % in 2023, ’24 en ’25 en is nie in 2026 geoudit nie. Die Velddrif-vullisterrein is intussen gesluit en afval word na Vredenburg herlei. Die terrein se laaste aangetekende nakomingspunt was 44% in 2022. Die verskuiwing na Vredenburg kan die druk op dié goedpresterende terrein verhoog.
Elders in die Weskus is die prentjie minder positief. Die Lambertsbaai-terrein in die Cederberg het in 2026 ‘n nakomingspunt van 38% behaal en dien as oorlaaistasie, hoewel dit reeds as vullisterrein gesluit moes wees. In Matzikamma het geen van die terreine, wat geoudit is, die 80%-drempel gehaal nie. Vredendal het in 2025 40% behaal en ontvang ook afval van Klawer.
Die verslag waarsku dat afvalbestuur toenemend onder druk is.
By minstens 53 terreine kon die oorblywende lewensduur nie bepaal word nie, terwyl by minstens 65 terreine nie vasgestel kon word wanneer die laaste kapasiteitsopname gedoen is nie.
Volgens die DFFE se Konsep- nasionale afvalbestuurstrategie vir 2026 genereer Suid-Afrika jaarliks sowat 122 miljoen ton afval, waarvan slegs sowat 10% van vullisterreine weggelei word. In 2018 was dit sowat 107 miljoen ton, waarvan 35% weggelei is.
Die verslag waarsku dat die sluiting van terreine en herleiding van afval na ander terreine slegs volhoubaar is indien die ontvangende terreine gelisensieer en toegerus is om die groter volumes te hanteer. ‘n Nuwe streeksvullisterrein is in aanbou en kan verligting bring namate bestaande terreine kapasiteitsprobleme ondervind.
Marais de Vaal, AfriForum se omgewingsakeraadgewer, sê die land kan nie met ‘n nasionale slaagsyfer van slegs 23% tevrede wees nie. “Die resultate toon dat verantwoordelike vullisterreinbestuur haalbaar is. Basiese bestuur, instandhouding en beplanning skiet egter steeds by te veel munisipale terreine kort,” sê hy. Die verslag is op 1 Oktober aan die departement van bosbou, visserye en die omgewing oorhandig.
LEES OOK: Munisipaliteite vaar steeds vrotsig met vullisterreine, mislukkings wydverspreid



