Publiek versoek om gevare aan te meld ná negejarige in gruisgroef verdrink

Sylvia Seekoei (9)
Sylvia Seekoei (9) het verlede week in ‘n gruisgroef verdrink. FOTO: Laerskool Swarthmore

UPINGTON – “Ek het haar nannatjie genoem omdat sy so gehoorsaam was. En dan was sy ook so gewillig gewees om my in die kombuis te help wanneer ek brood gebak het”, vertel ‘n hartseer Sylvia Seekoei, ma van die negejarige Sylvia wat op 9 April in ‘n gruisgroef verdrink het.

Sylvia was ‘n graad 3-leerder aan die Laerskool Swarthmore in Leseding buite Upington. Sy en nege maatjies het die betrokke dag na die gruisgroef gegaan wat aan die boonste kant van ‘n rotsagtige heuwel is.

Volgens ooggetuies het Sylvia ingeval en in die moeilikheid beland. Sy kon nie swem nie en het ná ‘n tydjie onder die stilstaande water verdwyn. Haar maats het angstig rondgeskarrel en van hulle het die nuus aan Sylvia se ma gaan oordra.

Die gruisgroef waarin Sylvia Seekoei verdrink het.
Die gruisgroef met water waarin Sylvia Seekoei verdrink het. FOTO: Verskaf

Die volgende dag het polisieduikers Sylvia se liggaam gevind en uitgehaal. Volgens die oorledene se ma was daar skaafmerke aan haar kind se arms.

Die familie beplan ‘n begrafnis vir eerskomende Saterdag wat uit die Apostoliese kerk in Leseding sal plaasvind.

LEES OOK: Keep away: Canals, rivers hold high risk of drowning

Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê ‘n geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen. Op die dag van die voorval is die polisie omstreeks 16:30 in kennis gestel, en polisieduikers is na die toneel gestuur.

Weens swak lig is die soektog later na die volgende dag uitgestel. Sylvia se liggaam is die volgende oggend gevind.

Die polisie versoek weereens die publiek om versigtig by enige waterbron te wees. Kinders moet nooit sonder toesig waterpoele, damme, kanale of riviere besoek nie.

Indien ‘n kind wel in die water beland, moet volwassenes so gou as moontlik na die toneel ontbied word. Kinders moet nie poog om self ‘n maatjie te red nie.

‘n Gemeenskapsleier van Upington, Rudolph Saal, sê die voorval is ‘n geweldige tragedie vir die familie en die gemeenskap. Hy versoek dat lede van die gemeenskap voortdurend moet help uitkyk vir gevare in die omgewing, en dit by die plaaslike owerhede aanmeld.

Lig kinders in

Op die webwerf childsafe.org.za word die volgende wenke gegee wat aan kinders oorgedra of geleer moet word:

  • leer hoe om te dryf en water te trap indien hulle in die water val, en dit met klere aan te doen;
  • swem slegs wanneer ‘n volwassene wat kan swem, teenwoordig is;
  • moenie speel, hardloop of fietsry teenaan water nie;
  • ‘n kind moet nooit self inspring wanneer iemand in die water in nood is nie;
  • ‘n kind kan binne 30 sekondes verdrink;
  • ‘n kind wat besig is om te verdrink roep nie om hulp nie – dit gebeur geluidloos;
  • wanneer ‘n kind se maatjie in die water in moeilikheid beland, probeer om vir die een in die water iets te gooi wat kan dryf en waaraan hy of sy kan vashou; of probeer om ‘n lang voorwerp soos ‘n stok na hom of haar uit te hou; en
  • kinders wat in die water speel, moet geleer word om nooit voor te gee dat hulle verdrink nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article