Die Monte Vista-woonbuurt in die noordelike voorstede is Dinsdagoggend (4 November) vroeg weer eens ná nog ‘n skietvoorval in dié vreedsame gebied geruk.
TygerBurger het vertroulik verneem dat ‘n gewapende-reaksie-beampte van Fidelity ADT die betrokke oggend glo sy eie lewe geneem het terwyl hy in sy voertuig in Visagiestraat, Monte Vista, gesit het.
Die polisie, plaaslike buurtwag, ander private veiligheidsmaatskappye en die ER24-ambulansdiens was op die toneel.
Charnel Hattingh, die hoof van groepsbemarking en kommunikasie by Fidelity ADT, het bevestig dat een van die maatskappy se beamptes die oggend oorlede is.
Die maatskappy wou nie die oorledene se identiteit bekendmaak nie, behalwe om te noem dat Fidelity met die beampte se familie kontak gemaak en dat die plaaslike polisie die saak oorgeneem het.
Kol. Shawn van Wyk, die Goodwood-polisiekantoor se bevelvoerder, sê ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Hy sê ‘n 34-jarige beampte van ‘n private veiligheidsmaatskappy is in sy voertuig dood aangetref. Die voertuig was naby huise in een van die strate geparkeer.
Die selfdood-voorval is die tweede voorval in twee weke.
‘n Polisielid verbonde aan die Bellville-misdaadvorkomingseenheid het verlede week (Maandag 29 Oktober) glo sy meisie by ‘n huis in Baracouta-rylaan, Monte Vista, doodgeskiet, waarna hy homself om die lewe gebring het.
Dié saak word deur die Onafhankllike-polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek.






