Polisiebeamptes en buurtwaglede buite die huis in Baracouta-rylaan in Monte Vista.

Lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens het vandeesweek ‘n toneel in Baracouta-rylaan, Monte Vista, bygewoon waar hulle op die lyke van ‘n man en ‘n vrou, albei iets in die 40, afgekom het.

Die man, ‘n polisielid, en vrou was glo in ‘n verhouding. Hulle is Dinsdag by hul huis dood aangetref.

Volgens die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die polisiebeampte, verbonde aan die Bellville-polisie se misdaadvoorkomingseenheid, glo die vrou verskeie kere geskiet en daarna homself om die lewe gebring.

TygerBurger was die Dinsdagmiddag op die toneel waar lede van die Bothasig-, Goodwood- en Bellville-polisiekantoor, sowel as ‘n private sekerheidsmaatskappy en die plaaslike buurtwag, reeds op die toneel besig was.

Die huis is vir leidrade gefynkam. Buitekant het kol. Shawn van Wyk, bevelvoerder van die Goodwood-polisie, die skietvoorval bevestig. In daardie stadium het hy genoem dat die polisie ‘n dubbele moord ondersoek omdat hulle nog besig was op die toneel, en dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie. Dit is egter dié week deur Opod bekendgemaak dat die man sy vriendin, en toe homself om die lewe gebring het.

Phaladi Shuping, woordvoerder, sê dit blyk dat die vrou ses keer in die bolyf geskiet is, en die man het ‘n enkele skietwond in die kop gehad.

Daar word beweer dat bure die Maandagaand omstreeks 20:00 verskeie skote gehoor het. Die polisie is egter nie ontbied nie.

Shuping sê die Dinsdag omstreeks 15:00 het kollegas van die vrou by haar huis besoek omdat sy nie vir werk opgedaag het nie. “Haar kollegas het met haar suster gepraat wat ook by dieselfde huis woon. Die suster het na die oorledene se kamer gegaan en haar op die bed met veelvuldige skietwonde aangetref,” sê Shuping.

Shuping sê verder dat die polisiebeampte op die vloer gelê het. Hy sou die Maandagaand vir nagskof aangemeld het, maar het glo ook nie by die werk opgedaag nie.

Beamptes van die polisie se misdaadtoneel-ondersoekeenheid sowel as die forensiese taakspan was Dinsdag op die toneel.

Shuping sê ‘n patoloog het albei se dood bevestig.

‘n Saak is geregistreer en Opod het die ondersoek oorgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.