Noordkaap Bulletin

POTPOURRI | In ‘n kitswêreld lê ‘n geheime krag in die kuns om te kan wag

wood light people art
Om te kan wag, is ‘n kuns. FOTO: Tima Miroshnichenko / pexels.com

Iemand vertel my van ‘n skaakspel wat sy oupa en ‘n vriend baie jare gelede gehad het. Hierdie was nie ‘n normale skaakspel nie. Hulle het ver van mekaar af gewoon en per brief gekommunikeer.

Een persoon sou sy skuif op sy skaakbord maak en dit dan in ‘n brief uiteensit en aan sy vriend pos. Die ander persoon sou daardie skuif op sy skaakbord maak en dan weer sy skuif op sy eie skaakbord aan sy vriend stuur. Hierdie skaakspelery het vir meer as vyf dekades aangehou.

Ek kan myself voorstel dat daar, in afwagting op die volgende posstuk, verskillende scenario’s uitgewerk is en moontlike skaakskuiwe gevisualiseer is.

Vandag leef ons in ‘n kitswêreld: kitskos, kitspos, kitsoplossings, kitskommunikasie en kitsverhoudinge.

Ons het afgeleer om te wag en uit te stel. Die meeste mense kyk dadelik op hul selfoon of na hul e-pos sodra ‘n boodskap sy opwagting maak. Daar word in baie gevalle weer dadelik geantwoord. Dit is nie noodwendig verkeerd nie; dit is die era waarin ons nou leef.

Mense raak soms moeg en oorweldig van al die inligting wat hul pad kruis. Daar is min wegkomkans in hierdie kitskommunikasie-era. Jou selfoon en skootrekenaar gaan oral saam. Mense moet jou enige tyd in die hande kan kry, anders veroorsaak jy verwarring en wanhoop.

‘n Hele paar mense het vertel hoe hulle die vakansie gerus het deur hul selfoon en skootrekenaar weg te bêre, of so min as moontlik tyd daarmee deur te bring.

Persoonlik meen ek mense moet weet waar die grens is, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie. Boodskappe van enige aard kom op enige tyd by jou uit. Dit is nie altyd positief of gesond nie.

Uiteindelik is dit ook weer ‘n kwessie van balans – iets wat so belangrik is, maar so moeilik is om te handhaaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article