POMFRET – ‘n Afgeleë gemeenskap wat deur dekades talle verliese gely het maar steeds veerkragtig met ‘n sterk wil lewe, is onlangs met ‘n eerste ronde van vaardigheidsopleiding ondersteun.
Dié gemeenskap van Pomfret is in die Noordwes-provinsie geleë, met sy Angolana gemeente deel van die NG kerk en sedert 1979 deel van die Sinode van Noord-Kaapland.
“Destyds toe die Sinode van Noord-Kaapland gevorm is, was ‘n deel van Noordwes, tot in Mafikeng, deel van die Kaapprovinsie. Ons het die unieke situasie dat ons sinodale grens van ons provinsiale grens verskil,” vertel ds. Kobus van Tonder, NG-leraar in Van Zylsrus in die Noord-Kaap, en by verskeie sinodale take en organisasies betrokke.
Hy was deel van die Sinode van Noord-Kaapland se Taakspan vir Diakonaat, saam met Caritas Gemeenskapsfokus, wat onlangs die bykans vergete dorp besoek het.

“Die omstandighede waarin hulle leef is redelik halglik. Omtrent 50% van die families leef onder die broodlyn.”
Gebrek aan openbare vervoer van en na die afgeleë dorp, vullisverwydering en sanitasie weens ‘n gebrek aan water is van die uitdagings. ‘n Paar spaza-winkels word deur persone van buite bedryf, en produkte is baie duur. Die naaste groter dorp is Ganyesa (132km), met Vryburg 200km van Pomfret. Die naaste kliniek is 9,5km ver, by Setabeng.
Vaardigheidsopleiding in naaldwerk neem aanvang
Van Tonder sê ‘n lang verbintenis en betrokkenheid bestaan tussen die Sinode van Noord-Kaapland en die Angolana gemeente.
Verlede jaar het die sinode die Greenlight Movement se armoede-opname in die Pomfret-gemeenskap gedoen. Ook, vanuit die proses van die Asset Based Community Development (ABCD) het ‘n naaldwerkprojek in Junie ‘n aanvang geneem. Tydens die ABCD-proses is vaardighede en behoeftes identifiseer en só het die eerste rondte van vaardigheidsopleiding in naaldwerk ‘n aanvang geneem.
“Met geen elektrisiteit en lopende water is dit ‘n uitdaging om projekte te identifiseer wat geld van buite die gemeenskap genereer en volhoubaar is.”
Ds. Kobus van Tonder
Met die naaldwerkprojek wil hulle ondersteuning bied vir die maak van artikels soos vatlappe, plekmatjies, tafellopers, voorskote en badmatjies wat na buite verkoop kan word. Met die onlangse naaldwerkprojek het 13 vroue opleiding ontvang.
“Ons het hulle dié ronde geleer om voorskote te maak, en hul voltooide produkte is baie netjies. ‘n Paar hekel ook lekker sterk. Hulle het geleer om badkamermatjies met T-hemp materiaal te hekel, en ook vatlappe en plekmatjies met katoentou.”

Ly talle verliese
Dié inwoners van Pomfret het al talle verliese gely: hul geboorteland Angola, familielede wat hulle daar moes agterlaat, aflegging deur die weermag en verlies van alle basiese dienste wat in ‘n dorp behoort te bestaan.
Pomfret was jare gelede ‘n myndorp waar asbes gemyn is. Ná die sluiting van die myn is dit in 1989 as ‘n militere basis vir soldate en hul gesinne van die voormalige 32 Bataljon (Bn) van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) omskep. Hulle was hoofsaaklik Portugees-sprekende Angolese soldate wat in die Angolese burgeroorlog as deel van die National Liberation Front of Angola (FNLA) geveg het.
Hulle is later in die SAW ingeneem en het tydens die grensoorlog as SAW-soldate geveg.
Militêre analis Helmoed Heitman het dié soldate van die destydse 32 Bn as ‘n elite-mag beskryf en het gesê hulle was internasionaal as van die beste gevegsbataljonne in die wêreld gereken.
Met die beëindiging van die grensoorlog in 1989 kon hulle nie terugkeer Angola toe nie. Hulle is deur die SAW en Suid-Afrikaanse regering na Pomfret verskuif wat ‘n ingerigte dorp met volle dienste was.
In hierdie tydperk is van hulle in townships, voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994, ontplooi.

In 2000 het die SAW, toe reeds bekend as die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), 32 Bn ontbind en die soldate afgelê waartydens hulle aflegginspakkette ontvang het. Omdat hulle afleggingspakkette ontvang het, kry hulle nie militêre pensioen nie. Hierna is die meeste na Zeerust, Mafikeng en Oskraal naby Brits hervestig.
Na raming bly ongeveer 500 mense in Pomfret, met die ouer garde wat verkies het om daar te bly. Die oorlewende voormalige soldate se ouderdomme wissel van 60 tot 80 jaar. Terwyl die meeste ouer inwoners net Portugees magtig is, kan die jonger geslag Engels praat. By die Nameka-kleuterskool word 58 kleuters onderrig, terwyl die Pica Pau Gekombineerde Skool onderrig aan 280 leerlinge, vanaf gr.1 tot gr.12 bied.

Kort ná die verskuiwing van die ander inwoners is die dorp deur ‘n vlaag vandalisme getref en die leë huise en geboue is geplunder.
In 2014 is alle munisipale dienste in Pomfret opgeskort. Elektrisiteit, lopende water, sanitere dienste of vullisverwydering bestaan nie. Toebehore soos ys- of vrieskaste kan nie gebruik word nie. Water word vanaf een werkende boorgat aangedra. Wanneer daar probleme is met dié boorgat, lewer watersmouse water teen R1 per liter, en in krisistye het die Kagisano-Molopo plaaslike munisipaliteit van Ganyesa die watertenks wat deur die dorp verspreid is, kom vul.
Van Tonder sê een van die sinode se beplande projekte is ‘n pyplyn vanaf dié bestaande boorgat na die woongebied. Intussen het ‘n regeringsdepartement met die lê van ‘n pyplyn begin, en dié vordering word dopgehou.

Sinode van Noord-Kaapland, Ring van Mafikeng bied ondersteuning
Die Sinode van Noord-Kaapland het in samewerking met die Ring van Mafikeng ‘n boorgat met ‘n sonpomp en -panele toegerus. Dit is einde verlede jaar gesteel. Intussen het die sinode gehelp om ‘n pomp met ‘n dieselenjin aan te bring wat water verskaf.
Die Ring van Mafikeng is ook ten nouste by die gemeente betrokke. Hulle het onder meer in 2021 ‘n hofsaak rondom die verskaffing van basiese dienste in Pomfret aangevoer.
Die hofsaak is met die minister van openbare werke, minister van verdediging en militêre veterane, minister van landbou en landelike ontwikkeling, en die Kagisano-Molopo plaaslike munisipaliteit van Ganyesa aangegaan.
Die hofuitspraak het bepaal dat die ministers van openbare werke, en van verdediging en militêre veterane, as eienaars en opsieners van Pomfret die gemeenskap van voldoende water, elektrisiteit, sanitasie en gesondheidsdienste moet voorsien. Die staat het appèl aangeteken. Die appèlsaak is steeds nie afgehandel nie en word as ‘n voetslepery van die regering beskryf.
“Daar is groot dankbaarheid vir ons hulp en insette. Dit is ‘n wonderlike en vriendelike groep om mee te werk. As ‘n mens hul omstandighede in ag neem, is dit ‘n gemeenskap wat deur die jare geleer het om met die minimum te oorleef en ‘n bestaan te maak.
Ds. Kobus van Tonder
“Daar is ‘n groot mate van veerkragtigheid en die wil om vir hulleself ‘n beter toekoms te skep,” sê Van Tonder.





You must be logged in to post a comment.