Diegene wat vir Jonathan Lawack, voormalige Speaker van die Nelson Mandelabaai Metroraad slegs as ’n groot deel van die plaaslike politici ken, sal verbaas wees om te hoor dat hy eens op ’n tyd in die finansiële sektor gewerk en ook sy lyf provinsiale toergids gehou het.
Die 73-jarige Lawack, ook ’n gekwalifiseerde onderwyser en oud-skoolhoof, het onlangs uit sy pos as Speaker getree en kan nie wag om met sy aftrede meer tyd met sy vrou, Olga en hul drie kinders en ses kleinkinders deur te bring nie.
“Die besluit [om af te tree] kom al ’n rukkie aan,” het Lawack vertel terwyl hy rustig agteroor sit op die gemaklike bruin leerbank in sy sitkamer.
“My vrou, wat ’n afgetrede onderwyseres is, wag al amper 10 jaar vir my om klaar te maak,” het hy laggend gesê.
“Ek is ’n toegewyde Christen en soos dit in die Bybel sê, glo ek dit: ‘Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.’
Ek het besef dit is belangrik dat ek moet terugstaan om vir jongmense kans te gee. Daar is jongmense wat oor die vaardighede en moontlikhede beskik; so die geleenthede moet vir hulle geskep word. Ek het my deel gedoen en ek is tevrede met die deel wat ek gedoen het,” het hy verduidelik.
“Ek word ook al 74 en as ek nog vyf jaar in die raad moes aanbly, sou ek al 79 gewees het en ek dink nie dit is gesond nie. Die jong bloed bring nuwe idees en hoop. Ek sal steeds daar wees vir wie ook al nou Speaker sal wees en daardie een kan by my kom sit en ek is bereid om my vaardighede te deel.”
Lawack is oorspronklik van Tsitsikamma afkomstig en het daar op ’n Morawiese sendingstasie grootgeword. Hy het sy laerskooljare by ’n skool in Clarkson deurgebring en sy hoërskooljare in Genadendal voltooi. Hy is daarna Oudtshoorn toe om hom as onderwyser te bekwaam en het in 1968 by Clarkson Primêr begin skoolhou.
Daarna het hy skoolhoof geword by ’n Morawiese skool in Tsitsikamma en in 1979 in Nelson Mandelabaai aangekom om verder by Dower Kollege te studeer.
Hy het die volgende jaar in Nelson Mandelabaai begin skoolhou.
“In 1983 het die kerk my gevra of ek nie die pos as prinsipaal by die skool in Clarkson wou hê nie omdat die skoolhoof daar oorlede is en ek is toe terug Clarkson toe. Ek was daar vir ses jaar, toe doen ek aansoek en was suksesvol by die Laerskool Fontein in Gelvandale, waar ek my toe weer in die stad bevind het.”
Volgens Lawack was hy vir agt jaar daar toe die pakette vir onderwysers deur die regering aangebied word. Daarna het hy by Metropolitan gewerk, homself gekwalifiseer as ’n provinsiale toergids en amper drie jaar lank in die toerismebedryf gewerk.
“In ’n stadium het ’n skoolmaat van my wat in die parlement was, gesê dat hulle my nodig het en ek aansoek moet doen vir ’n vakature en die res is geskiedenis. Ek was meer as twee jaar [DA] wyksraadslid in Gelvandale en daarna ’n proporsionele verteenwoordiger. In 2016 is ek toe onder leiding van voormalige burgemeester, Athol Trollip, aangestel as die Speaker van die raad van Nelson Mandelabaai.”
Lawack het sy tyd as Speaker as ’n “uiters, uiters leersame en opwindende tyd” in sy lewe beskryf. Hy gee ook toe dat dit ’n uitdaging was om politiek in die eerste plek te betree nadat hy 29 jaar lank ’n onderwyser was.
“In die lewe leer jy om situasies te hanteer soos hulle kom. Elke situasie het sy eie meriete, ook die politieke omgewing en dis baie belangrik as politieke leier om te onthou dat jy nie tot die toneel kan toetree en dan dink jy moet daar ontwikkel nie. Jy moet kom met bewese leierseienskappe.
“Omdat ek lank ’n prinsipaal was, het dit my gepas, want as onderwyser en prinsipaal is jy gemeenskapsgedrewe en alles wat jy doen, het te doen met die gemeenskap.”
Hy voel dat sy ervaring as skoolhoof hom ook gehelp het om kalm te bly tydens raadsvergaderings wat soms chaoties geraak het.
“Dit is iets wat net kom met jare se ervaring. Jy leer om te groei met verskillende mense wat verskillende opinies oor dinge het.”
Hy het bygevoeg dat daar uitdagings was, veral die wanorde wat geskep is deur raadslede wat doelbewus daarop uit was om die lewe vir die Speaker moeilik te maak en hoedat daar soms in die raadsvergaderings ure lank gekibbel is en dit die werk wat gedoen moes word, belemmer het.
Alhoewel sy hart ook soms met ’n punt te-ruggetrek het na die onderwys aan die begin, het hy met politiek ontdek dat sy vermoëns soveel verder strek was wat hy ooit kon droom.
Sy aanstelling as Speaker is dus ook een van die hoogtepunte van sy loopbaan.
Noudat daardie hoofstuk van sy lewe afgesluit is, is hy en sy vrou opgewonde om eers rustig by die huis te verkeer voordat hulle vir die kleinkinders, waarvan die oudste ook ’n onderwyser is, te gaan kuier.
Hy skryf ook musiek saam met sy seun wat ’n musiekonderwyser is, sowel as gedigte en hoop dat hy binnekort ’n digbundel kan uitgee met gedigte, musiek en koorstukke.





