Francois Boyce, die gesig agter die persoonlikheid ‘Hoezit Samelewing’. Foto: Bakkes Images


DIE VLV Sirkel Middelland is ’n tak van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK). Dit is ’n vroue-organisasie vir persoonlike groei wat aan sy lede die geleentheid vir persoonlike vooruitgang en diens aan die gemeenskap bied.

Dit stel die lede in staat om ’n gesonde gesinslewe te lei, effektief aandag te skenk aan behoeftes in die gemeenskap en om diens te lewer in hierdie verband.

Die vereniging bied interessante maandelikse programme aan deur middel van praatjies, demonstrasies, debatvoering, uitstallings, opvoerings, besprekings by vergaderings, asook georganiseerde opvoedkundige uitstappies oor Kunste en Handvlyt, Gesondheid, Opvoeding en Kultuur, Leefstyl, Openbare Sake en Landbou en Tuinbou.

“As jy dink VLV is net vir tannies, dink weer! Hier kuier ons ’n hond uit ’n bos uit. Ons leer nuwe vaardighede, ons huil saam en soms raak ons bietjie mal. Kontak ons vandag nog om uit te vind hoe jy kan deel in die pret,” sê Hannelie Low, VLV Middelland Sirkel President.

Op die vooraand en na afloop van VLV konferensie, op 12 en 13 Maart 2024, gaan Francois Boyce van “Hoezit Samelewing” met sy passie en lus vir die lewe, die lagspiere behoorlik tot op die uiterste beproef met komiese en humoristiese vertellings en musiek soos net hy dit kan doen.

Op Dinsdag, 12 Maart tree Francois op by Impetus Teater in Gqeberha om 18:30 en die tema van hierdie vertoning, Ek, ’n tent en Oorlog is geskik vir mans en dames.

Op Woensdag, 13 Maart, word die vertoning 5 Vrouens en Ek eksklusief vir dames aangebied by Barklystraat Teater in Kariega om 18:30.

Kaartjies vir beide vertonings beloop R230 per persoon.

Ek, ’n tent en Oorlog kaartjies is beskikbaar by Webtickets of enige Pick n Pay supermark.

5 Vrouens en Ek kaartjies kan aangekoop word deur Monique Buchner by 083 320 2885 of Joey Fourie by 082 824 7986 te kontak.

Vir enige navrae oor waar om aan te sluit by die VLV, kontak Hannelie by 082 372 4681 of vir navrae oor die funksies kontak vir Monique of Hannelie. Lees ook meer oor die VLV by www.vlv.co.za of besoek hulle op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article