otto du plessis stoei
Johan Landman (middel), Eldino Webber (links) en Liam van Jaarsveld.

OP en Hoërskool Otto du Plessis maak stoei-geskiedenis


GQEBERHA – Die Oostelike Provinsie, die Algoapark-stoeiklub en die Hoërskool Otto du Plessis in Algoapark het by die SA Presidente-kampioenskappe vir o.15 en juniors in die Kaap geskiedenis gemaak toe hulle die eerste, tweede en derde plek op die podium ingeneem het.

“Hierdie ongelooflike prestasie is geskiedenis. Niemand kan onthou of dit al ooit voorheen in Suid-Afrika gebeur het nie. Wat dit nog meer merkwaardig maak is dat al drie stoeiers ook leerders by Otto du Plessis is,” sê Lionel Botha, senior afrigter van die OP-span.

“Johan Landman, Eldino Webber en Liam van Jaarsveld het die feitlik onmoontlike reggekry in die o.15- tot o.20kg-afdeling. Liam en Eldino moes boonop as 15-jariges teen seuns van 18 en 20 jaar deelneem,” vertel Botha.

otto du plessis stoei
Johan Landman (middel), Eldino Webber (links) en Liam van Jaarsveld het ‘n ongeëwenaarde prestasie behaal. FOTO: Verskaf

“En asof dit nie genoeg is nie het Kariem Renze van die Westview-skool die vierde plek behaal.

“Die OP en Otto du Plessis het dus rede om te bars van trots,” sê Botha.

Dan het Faith Brown van die Laerskool Diaz vir die derde jaar agtereenvolgens goud in die o.11-afdeling gewen.

En in die o.10-afdeling het Bella Olivier vir die tweede jaar met die goue medalje weggestap.

Mielinke du Preez van die Laerskool Tjaart van der Walt spog met ‘n tweede plek hoewel sy nog net drie maande aan stoei deelneem.

‘n Leerder van die Hoërskool Andrew Rabie het ook puik presteer toe Simmie Kossman in die junior afdeling vir vroue die tweede plek verower het.

Oudergewoonte was Stefan Roberts van die Hoërskool Framesby weereens een van die groot sterre.

Hy het in die o.15-afdeling twee goue medaljes gewen.

Joshua Bright (o.13, Grey) het ‘n derde plek in die o.13-afdeling losgestoei, terwyl Siya Makita ‘n tweede plek behaal het.

LEES OOK: Hoërskool Cillié bult nou ook sy spiere in sokker

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article