danté borsopdruk
Danté de Beer. FOTO: Verskaf

Danté blink uit in borsopdruk-kampioenskappe


GQEBERHA – Danté de Beer van die Quest-skool vir outistiese leerders in die Baai was een van die groot uitblinkers toe die Oos-Kaapse borsopdruk-kampioenskappe by die Hoërskool Brandwag op Kariega gehou is.

Hy was een van vyf Baaise kragmanne wat uitgeblink het.

De Beer, wat verlede jaar as ‘n jeug-deelnemer (10 tot 14 jaar) in aksie was, neem vanjaar in die sub-junior-afdeling mee en bou voort op sy goeie vertonings van voorheen.

Hy het in die 74kg-afdeling met ‘n puik poging van 90kg geslaag wat hom laat kwalifiseer het vir die SA-kampioenskappe op 20 Februarie in die Kaap.

Danté het die vermoë om vroeg volgende jaar nog swaarder in die Kaap te stoot.

“Danté is ‘n ster van die toekoms. Hou hom maar fyn dop. Daar is hope talent en hy is besig om die oë te laat rek,” sê die OP-president, André Ludik.

danté borsopdruk
Danté de Beer. FOTO: Verskaf

Twee broers, Luke en Kyle Joosten, was ook onder die uitblinkers.

Luke, van die Kaap Recife Skool, het op sy vorige beste vertoning verbeter toe hy in die 74kg-afdeling met ‘n poging van 85kg geslaag het.

En Kyle, van die Hoërskool Pearson, het in die junior afdeling met ‘n goeie 110kg in die 83kg-gewigsafdeling geslaag. Hy het hiermee ook vir die SA-kampioenskappe gekwalifiseer.

Dan het nog ‘n Kaap Recife-leerder, Graham Crous, uitgeblink met ‘n 75kg-poging in die 93kg-afdeling.

Die veteraan André Ludik, wat in die meesters 4-afdeling deelneem, het in die 105kg met 75kg geslaag, en sal ook sy slag in die Kaap kan gaan wys.

Dan het Bongani Faku na ‘n afwesigheid van vyf jaar teruggekeer na die sport met ‘n uitstekende 130kg-poging in die meester 1-afdeling. Hiermee het hy maklik vir die Oos-Kaapse span gekwalifiseer.

LEES OOK: Bergsig Skool bult weer hul spiere in rugby

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article