In ’n poging om sy gemeenskap op te hef en beter werksgeleenthede vir jongmense te skep, het ’n oud-onderwyser van Nelson Mandelabaai begin om gratis rekenaarklasse vir werklose jeug aan te bied.

Mark Baartman, wat jare se ondervinding in Wiskunde en ander vakke op hoërskool-vlak het, het uit sy eie sak ’n paar skootrekenaars aangeskaf vir sy studente om te gebruik terwyl hy hulle touwys maak met verskillende rekenaarkursusse, wat onder meer webbladontwikkeling en kodering insluit.

Volgens Baartman was die reaksie op sy Facebook-plasing oor sy gratis kursusse, oorweldigend. Hy is tans besig om verskeie groepies jongmense in verskillende lokale, insluitend die Helenvale-hulpbronsentrum, te leer.

Baartman sê dat hy homself eers dié vaardighede moes leer en het sewe kursusse voltooi, iets wat hy nie gedink het op sy ouderdom moontlik sal wees nie.

Mark Baartman (links) het onlangs sertifikate aan die studente wat hul kursusse suksesvol voltooi het, oorhandig. Hier ontvang Ashton Geduld sy sertifikaat. Foto’s: Aurick Swartbooi

Alexia Whitebooi is een van die studente wat ook ’n sertifikaat ontvang het.

“Ek het so twee jaar gelede myself afgevra of ek iets nuuts kan leer. Ek word vanjaar 55 jaar oud en sê toe vir myself ek is al oor 50, maar ek wil kyk of hierdie ou brein nog iets kan leer,” het hy laggend vertel.

Dit is hoe hy op aanlynkursusse afgekom het op ’n webtuiste genaamd Udemy waar hy onder meer ’n programmeringskursus in die rekenaarprogrammeringstaal, Java, voltooi het.

“Hierdie is een van die redes waarom ek die projek doen: ek wil hê dat meer van ons jongmense van hierdie webtuiste moet weet.

“Opleiding in rekenaargebruik en programmering bied ware potensiaal om gemeenskappe uit armoede te hef aangesien die studente vaardighede wat skaars, maar hoog in aanvraag is, sal aanleer.

“Dit bied ’n volhoubare oplossing en fokus daarop om vaardighede en vermoëns te ont-wikkel vir nuwe bedrywe wat Suid-Afrika se mededingendheid wêreldwyd gaan versterk,” het Baartman bygevoeg.

Baartman sê alhoewel hy al gevra is om dié inisiatief met hoërskoolleerders te doen, het hy besluit om op die jeug wat reeds matriek voltooi het, te fokus, aangesien die werkloosheidsyfer reeds hoog is.

“Ek het verlede jaar met my eerste groep begin maar toe slaan COVID-19 toe en ons moes ophou. Ek het hierdie jaar weer voltyds daarmee begin.”

Baartman is van mening dat hierdie opleiding studente in staat sal stel om produktief te wees in die gemeenskap en ’n toekomstige werkplek.

“Hulle kan die vaardighede wat hulle hier leer, adverteer en sodoende werk kry. Hulle kan selfs ander jongmense leer en ook sulke klasse aanbied. Wie weet, dalk kan ’n groep van hulle ’n nie-regeringsorganisasie ook stig om hul gemeenskappe te help. Die moontlikhede is eindeloos.”

Baartman het daarop klem gelê dat sy doelwit nog nooit was om geld uit hierdie inisiatief te maak nie.

“Dis nie die tipe mens wat ek is nie. Ek wil net ons jongmense help om hul kanse te verbeter om werk te kry en iewers te kom. Ek soek ook nie ’n klop op die skouer of ge-lukwensinge nie. Ek soek mense wat opgelei wil word.”

Volgens Baartman is hy selfs gewillig om klasse in Kariega (Uitenhage) aan te bied, mits daar reeds ’n groep jongmense bymekaar is en hulle ’n lokaal kan verseker.

“Ek is bereid om dit enige plek te doen, al is dit ’n gemeenskapsaal, kerk of hulpbronsentrum, solank daar belangstelling is en mense ernstig is om te leer.”

Vir meer inligting omtrent die klasse kan lesers Baartman se Facebook-blad besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article