Mel die Storieverteller kom saai inspirasie en komiese verligting in die Baai

Mel die Storieverteller tree Saterdag, 4 November 2023, op by die Savoy Teater in Gqeberha.

Foto: Verskaf

  • Mel die Storieverteller kom saai inspirasie en komiese verligting in die Baai
  • Mel die Storieverteller tree Saterdag, 4 November 2023, op by die Savoy Teater in Gqeberha.
  • Kaartjies kos R160 en is beskikbaar deur Quicket. Die
    vertoning begin om 19:30 en die deur open om 18:30. Geen onder 16s.

Met haar gekskeer in komiese sosiale media videos oor ’n gewilde Afrikaanse realiteitsreeks, lê Mel die Storieverteller op almal se lippe en foonskerms. Nie nét vir komiese verligting nie, maar ook as ’n bron van inspirasie vir Suid-Afrikaanse vrouens.

“Ek act én skryf stories vandat ek al sewe jaar oud is, daardie tipiese oornag sukses wat tien jaar geneem het,” vertel sy.

Mel die Storieverteller skryf inderdaad nou aan ‘n suksesverhaal,haar eie. Met miljoene kyke op haar video’s, duisende volgelinge op sosiale media en honderde lede in die gehoor word haar drome ’n realiteit en pluk sy die vrugte van haar harde werk. Nie net laat sy mense landwyd op sosiale media giggel nie, maar kaartjies na haar eie eenvrou komiese vertoning “Almal is Mal!”, waarmee sy die land vol toer, verkoop soos soetkoek.

Volgens haar was die deurbraak-oomblik toe sy komiese satiriese video’s oor die Real Housewives van Pretoria op haar sosiale media plaas in 2022.

“Toe sien ‘belangrike’ mense my,” vertel sy laggend. Maar dis ook haar uitgesprokenheid oor liggaamspositiwiteit en vrouwees wat die harte van baie S.A. vroue oorwin.

“Ek praat oor menswees – die regte menswees sonder die aangeplakte alles – skynheilige mense, verskille tussen mans/vrouens en ons eie mal manier van dinge doen,” vertel sy.

Dis miskien ook haar eerlikheid (sy erken sy dink sy kan nie jok nie) wat mense na aan die hart lê. En dan die diepte waarmee sy kykers en gehore soms uit die bloute slaan. Soos waneer sy gesels oor seksisme, feminisme en ligaaamspositiwiteit.

“Ek is ‘n trotse LGBTQIA+ ally. Ek is ook myself in my videos – soms lyk ek soos ‘n opgetofte model, maar soms het ek nou net wakker geword en lyk soos ‘n deurmekaar wolkombers – dit is alles oor selfvertroue en om ander mense te inspireer om ook vol selfvertroue te wees,” het sy gesê.

Dis wanneer sy op die verhoog is wat sy blom. En dis veral die dames wat aanklank vind by haar.

“Hulle soek ‘n uitgesproke vrou wat vir hulle opstaan en dit wat hulle voel in woorde kan omsit. Maar alhoewel vroue my teikenmark is – stap die mans, wat saamgesleep word deur hul vrouens weg as groter aanhangers,” vertel sy nederig. Sy erken ook vinnig daar is wel twee kante aan haar: die komediant met die konserte wat toeganklik is vir meeste en dan die praatjie-kant waar ek bietjie meer ernstig praat oor seksisme en vrou-wees.

  • Luister gerus na haar potgooi “Dinner en Skinner”. Maak jou reg vir ‘n onvergeetlike ervaring vol lag, geselskap en unieke menings met gasheer en -vroue Mel die Storieverteller, Jou Saffa Mamma en Edó! Eerlik, pretensieloos en skreeusnaaks. Die verfrissende span bring jou ‘n opwindende mengsel van opregtheid, humor en wêreldkennis. Beskikbaar op YouTube en Spotify. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article