Te midde van talle bespiegelinge op sosiale media oor die ontvoering van Riana Pretorius (26), het die direksie van die radiostasie Luister!FM hulle gedistansieer van hul voormalige direksielid, Carel du Preez, wat volgens berigte haar kêrel was ten tyde van haar ontvoering.
Pretorius, ‘n biokinetikus van Gqeberha, is deur drie gewapende mans op 16 Maart kort voor 08:00 buite die Newton Medical Centre in Pickeringstraat, Newtonpark, in ’n voertuig gedwing, voordat hulle met haar weggejaag het. Sy is agt dae ná haar ontvoering vrygelaat en, fisies ongedeerd, met haar familie herenig. Daar was na bewering ook ‘n losprys van R2 miljoen geëis.
Ten spyte van verskeie bespielinge en bewerings die afgelope naweek op sosiale media, dat iemand na aan haar na bewering betrokke is by die ontvoering, het die polisie of Valke nog geen kommentaar hierop gelewer nie.
In ‘n mediaverklaring wat deur Rynhardt Stander, Luister!FM se skakelpersoon uitgereik is, is die besluit om hulle van Du Preez te distansieer geneem weens die ernstige skade wat die gerugte aan die reputasie van Luister!FM doen.
“Mnr Carel du Preez het reeds verlede jaar bedank as direkteur van Luister!FM en is tans op geen manier verwant aan die stasie nie. Sy bedanking was vrywillig en met onmiddellike effek. Die huidige mediaberigte wat rondom mnr. Carel du Preez ontstaan het, het dus geen verband met Luister!FM nie. Die direkteure, personeel en omroepers distansieer (hul) dus van enige kommentaar, nuusberig, of wat ookal rakende mnr. Carel du Preez,” het Stander gesê.
“Aangesien die media-histerie voortspruit uit die ontvoering van Mej. Riana Pretorius en al die wilde beweringe wat daarmee verband hou, word versoek dat die persone wat op sosiale media sogenaamde feite deel, dit eerder aan die ondersoekbeampte in daardie aangeleentheid (Lt Kol Swanepoel) sal openbaar in die belang van reg en geregtigheid.”
Hy het voorts gesê Luister!FM is toegewy daaraan om reg en geregtigheid te laat geskied, asook om nie deel te vorm van “blatante ongegronde aanvalle op enige individue nie.”
“Luister!FM maak dit ook hiermee duidelik dat enige gevolgskade, finansieel of anders, wat aan Luister!FM veroorsaak word deur ongegronde en kwaadwillige sosiale media berigte en kommentaar, met siviele aksies teen die aanstigters opgevolg kan word,” het Stander gesê.
Op ‘n vraag van PE Express oor hoekom Du Preez teenwoordig was tydens Luister!FM se algemene jaarvergadering op 15 Maart, het Stander geantwoord dat Du Preez genooi is om die vergadering by te woon om leiding te gee met die aanwys van nuwe direkteure.
“Daar was geen verpligting op hom om dit te doen nie, maar daar was op daardie stadium geen direkteure van die maatskappy nie en dit moes reggestel word,” het Stander gesê.
Volgens Stander is Du Preez se bedanking reeds op 22 November 2022 by ‘n Spesiale Algemene Vergadering ingedien en aanvaar. “Die proses van aanstel van plaasvervangers neem heelwat tyd in beslag en is tans in die proses van afhandeling.
“Tydens hierdie vergadering (op 15 Maart) is ‘n nuwe direksie van vyf lede aangestel en is die proses van registrasie by CIPC begin. Die CIPC-proses behoort gedurende die huidige week afgehandel te wees,” het Stander gesê.
Volgens hom is die feit dat Du Preez nog op die CIPC-rekord is ‘n “administratiewe oorsig” aangesien sy destydse bedanking nie daar geregistreer was nie.
Netwerk24het Sondag berig dat Du Preez by navraag geweier het om kommentaar te lewer oor die ontvoering. Hy het deur die loop van die naweek sy eie Facebook-profiel gesluit.
Netwerk24 het Du Preez Sondagoggend op sy persoonlike selfoonnommer gekontak. Hy wou nie vrae beantwoord nie en het versoek dat “die gesin se reg op privaatheid gerespekteer word”.
Pretorius se pa, Pieter, het alle navrae na die polisie verwys.
Twee mans is kort ná die ontvoering in hegtenis geneem. Xolisile Rawutini (40) het reeds op 24 Maart in die hof verskyn, maar sy saak is tot 5 April uitgestel vir ‘n borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding.
Volgens kaptein Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, is die tweede man vrygelaat, maar het nie uitgewei oor hoekom hy vrygelaat is nie.





