’n OMVATTENDE solo-uitstalling van die Oos-Kaapse beeldhouer Maureen Quin se kunswerke kan deur alle belangstellendes in Gqeberha besigtig word.
Dié indrukwekkende uitstalling is veral van groot waarde omdat dit volgens Quin die laaste een in haar 90ste lewensjaar en 71 jaar as kunstenaar is.
“Daar is verskeie beeldhouwerke uit my jare as beeldhouer wat dikwels nie vir uitstallings aangebied was nie”, sê sy.
“Dit het my oneindige plesier verskaf om iedere elk van hulle te skep en om hulle nou saam op die uitstalling te kan sien, is werklik besonders.
“Dit is veral vir my interessant om te sien dat verskeie van my nuutste beeldhouwerk ’n sterk konneksie het met dié wat ek in die tagtigerjare geskep het.
“Ek glo dat baie van my kunswerke die kyker veral vanweë hulle emosionele intensiteit en vorm aanraak. Dit blyk dat mense hulself kan identifiseer met die energie wat die deur die beelde uitgestraal word.
“Die kontras tussen die sterk vorms en die spasie wat hulle opneem dra ook by tot elkeen se eie interpretasie van die werk en is geweldig interessant om aan te hou.
“My laaste kunswerke verteenwoordig veral my liefde vir gespierde vorms en die kragtige beenstruktuur van die menslike liggaam wat met soveel energie deur ruimtes kan beweeg. Volgens my, verteenwoordig die werke die tye waarin ons nou leef.”
Quin is in 1934 Bloemfontein gebore en woon steeds in die dorpie Alexandria in die Oos-Kaap.
Kunsliefhebbers kan gerus ook die Quin beeldhoutuin- en galery in Alexandria besoek waar meer as 100 van haar kunswerke in die tuin en in haar ateljee besigtig kan word.
’n Boek van haar kunswerke, Quin Sculpture: Sixty Years of Excellence is in 2014 uitgegee.
Die uitstalling by die GFI-kunsgalery in Gqeberha kan tot 17 Maart besigtig word.
Skakel die galery by 041 586 3973 vir inligting oor die uitstalling.





