Dat lekker lag die winterblues sommer tjop-tjop laat verdwyn is iets waarin Jason Goliath en Nicholas Goliath gewis glo.
Die neefs tree reeds die afgelope 13 jaar saam op en maak met hul landwye toer, The Happiness Economy, ook in die Oos-Kaap ’n draai.
Met hulle komiese aanbieding, word mense se verskillende leefstyle op ’n skreeusnaakse manier ondersoek.
Jason se pittige observasievermoë saam met Nicholas se unieke manier van storievertelling dra by tot ’n vertoning wat nog lank daarna sal lei tot ’n onverwagse proeslag of meer.
Met dié toer poog hulle om op ’n vars en outentieke manier te kyk na persoonlike groei sowel as om deeglik ondersoek in te stel na wat ware geluk nou eintlik beteken.
Elke vertoning sal uniek wees omdat die verskillende gehore gedurende die vertoning daarby betrek sal word.
“Die mense moet nou nie dink dis ’n motiveringspraatjie nie,” sê Jason.
“Dit bly ’n komiese vertoning waar lag dien as die katalisator vir selfondersoek en na ultimate happiness.”
Die neefs streef daarna om hul eie emosies en dié van die gehoor op ’n vaardige manier te bestuur en sodoende ’n terapeutiese dog uiters vermaaklike vertoning aan te bied.
“Met die vertoning delf ons in persoonlike stories wat ons karakters en lewenstyle vorm en ons bespreek op ’n humoristiese manier die hoogte- en laagtepunte in die soektog na ware geluk,” voeg Nicholas by.
“Ons het geweet dat die show is goed sou wees en hoe belangrik dit vir ons was om die boodskap te probeer oor dra, maar ek dink nie een van ons het werklik besef van hoeveel waarde dit eintlik is nie.
“Die opvoering wat ons reeds in Johannesburg aangebied het, het die waarde daarvan bevestig. Iemand uit die gehoor het gesê dat hulle gelag het tot die trane loop en toe die boodskap insink, eers werklik begin huil het!”
Die vertonings in die Oos-Kaap word van 29 tot 30 Augustus by One Room in Westbourneweg in Gqeberha en op 21 September by die Hemmingways-casino in Oos-Londen aangebied.
Vir die vertonings in Gqberha kan die kaartjies aanlyn by GQComedy.co.za gekoop word en vir die vertoning in Oos-Londen by Webtickets.co.za. Die kaartjies kos R150 tot R180 per persoon. Volg @goliathandgoliath aanlyn.
Kontak Sian Goliath by 082 227 7641 of stuur ’n e-pos na Sian@hago.co.za vir meer inligting.





