OM te besef hoe diep die liefde vir koorsang by sommige mense is, moet ’n terugblik gegee word na die tyd toe die COVID-19-inperkings opgehef en Oos-Kaap koorlede daarna maskers en al opgetree het omdat die dra van maskers nog verpligtend was.
Een van dié kore wat só opgetree het, is die Oos-Kaap Kinderkoor/ Eastern Cape Children’s Choir met Marilise van Rooyen as dirigent en Joshua de Paula e Silva as begeleier.
“Daar was nog groot vrese vir COVID-besmettings, maar talle het dit oorkom en die koorklanke kon weer opklink. Ons het wel al die COVID-protokolle – soos die dra van mas-kers, sanitering en veilige fisieke afstand gehou,” sê Marilise.
Maar nou is die grootste COVID-vrese agter die rug en vlot sake weer vir die drie Oos- Kaapse streekkore, naamlik die OK junior Kinderkoor, die OK Kinderkoor en die OK Jeugkoor.
Hanlie Young, dirigent van die Oos-Kaap junior Kinderkoor, glo geen kind is toondoof nie, daarom is dit die belangrikste om van kleins-af ’n liefde vir koorsang by kinders te ontwikkel.
“Vir kleintjies is dit veral belangrik dat ’n mens hulle nie vir ewig van koorsang afskrik nie, so ek probeer op allerlei maniere om ’n liefde vir koorsang by hulle te kweek. Om dit te doen, moet ’n mens maar dink aan allerhande aktiwiteite rondom die koorsang soos uitstappies om byvoorbeeld hamburgers te gaan eet, of ons het ’n pajama-partytjie of ons bring ons teddiebere koor toe.”
Gustel Agenbag, dirigent van die Oos-Kaap Jeugkoor, sê die belangrikste les wat koorkinders kan leer, is dat dissipline, selfdissipline, om goed-georganiseerd te wees en die vermoë om te ontwikkel, nodig is vir sukses.
“As jy in ’n koor sing, leer jy hierdie dissiplines aan. Vir sommige kinders kom dit na-tuurlik, vir ander kinders moet jy die voortou neem en verduidelik hoe dit werk. Die belang-rikste element vir koorsang is natuurlik ’n sangvermoë en die liefde daarvoor, maar die basiese beginsels om sukses te kan behaal, vind ook beslag by die kind,” sê Gustel.
Die Oos-Kaap junior Kinderkoor, die Kinderkoor en die Jeugkoor het aan die begin van September hul eerste gesamentlike Prestige-konsert sedert die COVID-inperkings in die Somerstrand NG-kerk gehou. Die gaskunstenaars was prof. Albert Troskie en dr. Erika Bothma.
Die tradisie, dat oudisies vir aspirant-koorlede van hierdie drie Oos-Kaapse streek-kore na die jaarlikse Prestige-konsert gehou word, word ook weer voortgesit.
Die oudisies vir die Oos-Kaap junior Kinderkoor/ Eastern Cape junior Children’s Choir met Hanlie Young as dirigent en Lilian Zeelie as begeleier, word elektronies gedoen. Video’s moet tussen 10 en 18 November na 064 298 6029 gestuur word. Kinders tussen die grade 1-3 kan oudisies aflê.
Die OK-Kinderkoor/Eastern Cape Children’s Choir met Marilise van Rooyen as dirigent en Joshua de Paula e Silva as begeleier, se oudisies word tussen 23 en 29 September gehou. Alle kinders tussen gr. 4-7 kan oudisies aflê. Kontak mev. Wilma Taljaard by 072 102 5684 vir meer besonderhede.
Oudisies vir leerlinge tussen die ouderdomme van 14 en 17 jaar word uitgenooi om deel te word van die OK-Jeugkoor/Eastern Cape Youth Choir met Gustel Agenbag as dirigent en Surien van der Merwe as begeleier, word weer op 24 September en 22 Oktober gehou. Kontak Gustel Agenbag by gustela@cghs.co.za of Shereen Doubell by sherene.doubell@yahoo.com
Leerders van alle skole in die Metro en omliggende gebiede, asook leerders wat tuisonderrig ontvang, is baie welkom om vir die oudisies aansoek te doen.
Vir meer inligting, besoek die kore se onderskeie Facebook-bladsye, naamlik Eastern Cape Junior Children’s Choir, Eastern Cape Children’s Choir en Eastern Cape Youth Choir.
- ’n Groot koor-hoogepunt vind op 22 September plaas wanneer bogenoemde drie Oos-Kaapse streekkore, asook die kore van Laerskool Kabega, Laerskool Mount Pleasant, Laerskool Summerwood en Collegiate Girls High School in die Word of Faith Christian Centre in Gqeberha optree. Die gaskunstenaar is André Schwartz. Die konsert begin om 18:30 en kaartjies (R80 per persoon) is beskikbaar by die deure of by Quicket.





