Maureen Pearson organiseerder van Art & Market in the Park nooi alle kinders uit om hul ou speelgoed en boeke by die mark te verkoop.

Foto: Verskaf

Art & Market in St. George-park in Gqeberha bied eersdaags weer die jaarlikse “Kersfees in Julie”-mark aan.

Dié mark, wat die oudste mark in die stad is, bly steeds gewild by die Baai se inwoners wat daarvan hou om in die buitelug tussen die verskeie stalletjies rond te snuffel met die hoop om iets kosbaars – en natuurlik ook bekostigbaar – te vind.

By die verskillende stalletjies word daar nuwe tuisgemaakte produkte verkoop maar daar is ook talle stalletjies waar snuisterye van alle aard, juwele, tweedehandse boeke, plate en ou speelgoed verkoop word.

Vir die Kersfees in Julie-mark word veral ook die kinders aangemoedig om hul ou speelgoed en boeke te kom verkoop. Nie net kan hulle ekstra sakgeld op dié manier verdien nie, maar leer hulle ook dat ’n mens deur entrepreneurskap wel geld kan verdien en dat daar mense is wat daarvan ’n bestaan maak.

Boonop is dit mos die ideale geleentheid om kinders sover te kry om hulle kamers vir ’n slag behoorlik op te ruim. Dit behoort hulle ook aan te moedig om weer plek in daardie oorvol speelgoedtrommels en boekrakke vir nuwe speelgoed en boeke te maak wat Kersfeesvader hopelik vir die soet kinders in Desember sal bring.

Kinders wat graag liefdadigheids-organisasies ondersteun kan selfs hul geld of ’n gedeelte daarvan aan enige organisasie van hul keuse skenk.

Daar sal ook verskeie kosstalletjies wees waar eet- en drinkgoed te koop aangebied sal word. Mense word aangemoedig om ’n kombers saam te neem en heerlik piekniek op die grasperk te hou terwyl hulle luister na die vrolike musiek wat deur Floyd Music verskaf word.

Besoek Art & Market in the Park op Sondag, 31 Julie van 09:00 tot 14:00.

Sekuriteitspersoneel wat op die perseel rondstap sal sorg dat kopers veilig tussen die stalletjies kan ronddwaal en daar sal ook ablusiegeriewe beskikbaar wees.

Bel Maureen Pearson, die organiseerder van Art & Market in the Park by 082 257 4691 as jy ’n stalletjie by die mark wil hê of vir meer inligting.

Besoek ook Art in the Park se Facebookblad vir foto’s en inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article