MET die onlangse bevestiging van hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe in die Wes-Kaap word strandgangers in die aangrensende Oos-Kaap ook gewaarsku om robbe te vermy.
Geen gevalle van hondsdolheid is nog in die Oos-Kaap aangemeld nie, maar een van die minstens sewe gevalle was in Plettenbergbaai in die Suid-Kaap. Luidens ’n verklaring van die Kaapstad-metro was die ander gevalle in robbe op Bloubergstrand, die Strand, Muizenberg, Vishoek, Pringlebaai en Pearly Beach.
“Daar is geen rede om paniekerig te wees nie, maar mense moet probeer om robbe te vermy,” het dr. Greg Hofmeyr, mariene bioloog van die Bayworld-oseanarium in Gqeberha, gesê.
Hy dien in die nasionale reaksie-paneel wat gestig is nadat hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe in die Wes-Kaap bevestig is.
Hofmeyr sê dit moeilik om te voorspel of die probleem na die Oos-Kaap gaan uitbrei, maar relevante rolspelers, onder wie lede van die plaaslike rampbestuur, Sanparke, veeartse en mense van Bayworld, vergader aanstaande week in Gqeberha om voorsorg te tref.
Die vergadering word gehou om planne te beraam oor wat gedoen moet word as ’n rob op ’n plaaslike strand, veral ’n gewilde swemstrand, sou uitswem of ’n karkas aangetref word. Dié vergadering sal bepaal watter van die maatreëls wat reeds in die Wes-Kaap ingestel is, vinnig na die Oos-Kaap uitgebrei moet word.
Hoewel Hofmeyr sê dit is onseker hoe vinnig hondsdolheid onder die Kaapse pelsrobbe versprei, sê hy daar is geen rede om paniekbevange te wees nie. Hy waarsku ook dat die robbe ingevolge wetgewing beskerm word en dat strandgangers nie die reg in eie hande mag neem deur ’n rob van kant te maak omdat daar ’n vermoede is dat die dier hondsdolheid het nie.
Dit is seldsaam vir Kaapse pelsrobbe om in die winter (Julie en Augustus) op die strande voor te kom, maar in die somermaande kom kuier hulle wel.
Die owerhede sal die situasie dophou. Strandgangers word versoek om enige robbe wat op die strand aangetref word, lewend of dood, by Bayworld aan te meld deur 071 724 2122 te bel.
Enigiemand wat deur ’n rob gebyt word, moet die wond so gou as moontlik deeglik met seep en water skoon was, en dadelik daarna mediese hulp kry.





