NÁ amper 40 jaar in die onderwys het Annestine Billet besluit dis tyd om die tuig neer te lê en beplan sy om haar aftrede te geniet al gaan sy haar leerders verskriklik mis.
Billet, wat vir 31 jaar van haar altesaam 36 jaar as onderwyser by Dr A.W. Habelgaarn Primêr in Nelson Mandelabaai skoolgehou het, sê dit is die leerders wat haar die meeste lewenslesse geleer het.
“Onderwys was altyd my passie. Ek wou altyd ’n juffrou word omdat ek baie lief is vir kinders en ’n verskil in hul lewens wou maak.
“Die lewenslesse wat ek in al my jare as onderwyser geleer het, is egter dat ek altyd iets by die leerders geleer het,” vertel sy.
“Daar was altyd ’n oor om te luister wanneer hulle na my gekom het. Elke kind is aan my toe-vertrou, daarom het ek hulle respekteer.”
Billet sê dat die hoogtepunte van haar loopbaan die verskille was wat sy in leerders se lewens kon bewerkstellig.
“Dit was goed om hulle te kon inspireer om ook eendag verantwoordelike volwassenes te bekom en om hegte bande met hulle te kon vorm sodat hulle altyd hul beste kon lewer,” sê Billet.
Sy voeg by dat die lekkerste deel van skoolgee by dié skool, die feit is dat sy hier permanent aangestel is en toe sommer hier afgetree het ook.
“Ek gaan die leerders die meeste mis want hulle was die belangrikste deel van my lewe. Ek het ook gereeld dankie-sê briefies van hulle ontvang as ’n teken van waardering en wedersydse respek vir mekaar.”
Hierdie ma van twee dogters sê haar raad aan jong onderwysers is om leiding aan leerders te verskaf. “Hulle moet ook dissipline kan hand-haaf in die klaskamer.”





